6 Dinge Wat Niemand Jou Vertel Oor Veroudering Nie…

Ek wens soms iemand het my vooraf gewaarsku oor die dinge wat jou soos ‘n dief in die nag bekruip rondom menopouse.

Die een oomblik het jy nog ‘n skaflike middellyn, die volgende het ‘n onooglike luislang hom daar tuisgemaak, en sommer boontoe ook, waar jy altyd ribbes gehad het… En het ek geweet wat met my bo-arms gaan gebeur, het ek sowaar as vet baie meer dikwels moulose toppies en rokke met veterbandjies gedra toe ek nog kon.

Wees dus gewaarsku – hierdie dinge lê in jou toekoms, as jy nie reeds daar is nie. Ek hoop dit maak die skok ietwat sagter… En ek het ‘n paar planne ook om jou daarmee te help.

  1. Jy groei hare WAAR?

Alles wat ‘n haarwortel het raak eensklaps wild en weerbarstig. Waar daar hare moet wees, soos op jou kop en jou wimpers, word dit yl, kleurloos en leweloos. Jou dik maanhaar word dun, verloor kleur, glans en tekstuur. Waar stoppels en hare nié hoort nie, daar spruit dit welig uit in alle windrigtings: Jou wenkbroue besluit om te krul en in alle rigtings te groei. Jy voel (en het jou leesbril nodig om dit mooi te sien) harde, lang hare in jou nek en op jou ken. Jou moesies raak harig en opgehewe.

Wat máák jy met dié ongevraagde harige rykdom? Wat jy ookal doen, moenie dit uitpluk of afskeer nie – dan sit jy met vergrote porieë en die haar kom in elk geval weer terug. As jy nie ‘n dogter het om in te  span vir haarpatrollie nie, en jy kan dit nie mooi bemerk met of sonder ‘n bril nie, maak ‘n ooreenkoms met ‘n goeie vriendin dat julle mekaar se ongevraagde hare sal inspekteer. Verwyder dit (versigtig) met haarverwyderingswas wat vir die gesig geformuleer is of beter nog – vind ‘n salon en terapeut wat weet hoe om die haar met elektrolise permanent die ewigheid in te stuur. Dis ietwat pynlik, maar baie beter as die alternatief.

  1. Bedplooie

Jou sagte boesem en verleidelike borsgleufie (cleavage) lyk soos ‘n vertakkende erosie-delta van diep lyne wanneer jy soggens wakker word. En jou kussing los slaapplooie op jou gesig wat eers na ‘n paar uur die wyk neem. Blameer die verlies van elastisiteit vir ‘n crêpe-agtige décoletté en slaapspore. Jou vel bons gewoon nie meer terug soos ‘n trampolien nie. Die beste manier om te sien hoe jou vel se elastisiteit afneem, is om die vel op jou hand se rugkant tussen twee vingers te knyp en te laat los. Hoe meer elasties die vel is, hoe gouer bons dit terug na normaal. Hoe langer die vou daar sit, hoe kariger is die elastisiteit.

Die beste raat vir die slaapplooie is om ‘n sy- of satynoortreksel vir jou kussing aan te skaf en op jou rug te slaap. ‘n Sy- of satynkusing hou jou vel en jou hare jonk en veerkragtig. Plastiese chirurge, dermatoloë en haarspesialiste beveel dit almal aan om die verouderingsproses te vertraag.

  1. Vet Vlermuis Boarms

Vaarwel aan moulose bloese en rokke. Punt. Tensy jy boarms soos Michelle Obama het, durf jy nie daardie pap, drillende boarms op die wêreld loslaat nie. Dis nie chic nie en dis nie mooi nie en dit gebeur ook oornag. Sodra jou boarms nog geesdriftig wuif lank nadat jou hand opgehou het met ‘n waaigroet, is dit tyd om hulle te bedek. Maar wees versigtig vir groot, los moue – dit moet nousluitend pas vir ‘n elegante, slanke lyn.

  1. Vleisvangertande

Skielik het jy meer gereeld ‘n tandestokkie of tandevlos nodig. Die spasies tussen jou tande raak groter en dit veroorsaak dat kos makliker daar vasgevang word. Die rede hiervoor is dat die beenstruktuur van jou kakebeen verander as gevolg van beenverlies, en jou tandvleis trek ook verder weg van die tandnek. Boonop is jou tande ook nie meer pêrelwit nie – inteendeel, jy bemerk ‘n duidelik gelerige skakering. Dit is omdat die tand-emalje dunner en meer deurskynend raak en as jy rook, is dit destemeer opsigtelik en lang geel perdetande jou voorland.

Jou tandarts kan help met behandelings om die emalje ligter en witter te maak, en daar is verskeie produkte en tandepastas op die mark om tande wat verkleur, witter te maak.

  1. Kolle in alle Kleure

Daardie oulike beauty spots van jou jonger jare raak groter en opsigteliker. Daar verskyn kolle in alle kleure van pienk, oranje, rooi en bruin tot swart op plekke waar hulle nooit was nie en nie hoort nie. Dit is grootliks te wyte aan sonblootstelling in jou jonger jare.

Maak ‘n afspraak met ‘n kosmetiese praktisyn en voer ‘n lang gesprek met hom of haar oor chemiese afskilfering, IPL (Intense Pulse Light) terapie en Fraxel laserbehandeling.

  1. ‘n Padnetwerk op jou Ooglede

Daar is ‘n pers-blou of rooi padkaart op jou ooglede. Met die tyd raak jou ooglede donker of dit verkleur tot bruinrooi. Veral die binnehoek van die ooglid, neffens die neus, raak ‘n donker grot. Dit gebeur omdat die delikate dun vel hier selfs dunner en deursigter raak en die besige netwerk van fyn aartjies op die ooglid skyn daardeur.

Die beste raat hiervoor is ‘n goeie basislaag (primer) vir jou ooglede om die kleur eweredig te laat lyk en egalig te skakeer. Dit is ‘n moet, selfs al gebruik jy nie oogskadu nie. Die bonus is dat dit jou ooggrimering set en langer laat hou.

 Is daar nog onplesierige verrassings wat op ons afsluip in die middeljare? Deel gerus julle ervarings!

3 Replies to “6 Dinge Wat Niemand Jou Vertel Oor Veroudering Nie…”

  1. Hi daar elas. Ek het jou artikel in “Idees”, die Januarie 2017 uitgawe ontsetend interessant gevind en wil beslis daruit my volgende aankope doen. Ek het wel n vraag rondom jou die middeljare: Hoekom is daar n dik aar aanaan die bo-kant van my linkerslape net langs my wenkbrou? dis baie opmerklik en lyk na behoorlike dik opgeswelde aar, som asof ek permanent n migraine het?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *