Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

ALLES WAT JY WIL EN MOET WEET OOR ‘N “THREAD LIFT” – EK HET DIT GEDOEN

‘n Kakebeenlyn wat uit yster gesmee is, gaan ek gewis nooit hê nie, maar ek wil ook nie vir lief neem met ‘n kloekende kalkoenkeel nie.

En ongelukkig is dit presies wat aan die gebeur is hier suid van my ken. Ek lees sommer weer Nora Ephron se boek I Feel bad About My Neck!

Maar daar is ‘n plan daarmee – dit verg net ‘n goeie skoot waagmoed en vertroue in ‘n knap kosmetiese dokter se vaardigheid. Dit is tyd vir Projek Nek.

Ek weet ja: Amper drie jaar gelede het ek op hierdie einste blog gesê die laaste ding wat ek ooit sal oorweeg, is die sg thread lift. Maar toe het ek dit nog nie nodig gehad nie en die hele tegniek was nog nuut en nie juis beproef nie. Boonop onderskryf niemand minder nie as Gwyneth Paltrow die prosedure, soos in ek verlede maand in my blog hier gedeel het.

Plooie en ‘n probleemvel was nog nooit my kwessie nie – verlies aan vorm, volume en fermte wel. Ek kort struktuur, dis wat dit is. En struktuur is wat die Silhouette Soft behandeling bied. Toe ek dus die geleentheid gebied word om my los keelvel ‘n bietjie “op te trek” met hierdie absorbeerbare poli-laktiese suur suspensie-kegels, ingeryg op ‘n hegdraad (suture), onder die bedrewe hand van dr Gerhard van Niekerk, het ek eers diep gesluk, vir ‘n paar minute daaroor gedink en toe besluit om die kans te waag. Dr Van Niekerk lei dokters in Suid-Afrika en ook internasionaal op in dié tegniek, dus kon ek nie in beter en meer ervare hande wees nie.

In alle eerlikheid, ek was nog altyd baie lugtig en skepties omtrent hierdie prosedure, omdat ek bang is vir indringende (invasive) behandelings en prosedures, wat myns insiens eintlik die grens oorsteek na kosmetiese chirurgie. Ek het in die weke voor die afspraak ‘n paar keer amper kleinkoppie getrek en gemik om dit te kanselleer. Maar ydelheid is ‘n onwrikbare meesteres…

Die tegnologie: Wat is dit

Poli-laktiese suur is die hoofkomponent van Silhouette Soft. Dit is ‘n polimer wat al jare in die mediese bedryf vir chirurgie gebruik word en ten volle absorbeerbaar en bio-verenigbaar (compatible) is met menslike weefsel. Wanneer die draadjies aangebring is in die onderhuidse weefsel, aktiveer dit fibroblaste, wat kollageenproduksie aanbring. Dit alles help om volume te verbeter en die gesig se vorm en jeugdige kontoere geleidelik en natuurlik te herstel. Die draadjies en kegels word oor ‘n tydperk van twee jaar of langer volledig geabsorbeer.

Op elke draadjie is twee reekse kegels wat bi-direksionaal aangebring is. Daar is drie lengtes, met agt, twaalf en sestien kegels onderskeidelik. Die plasing van die draadjies op jou gesig of nek bepaal watter lengte gebruik moet word. Die draadjies lyk soos superfyn vislyn en die kegeltjies is mikrofyn  en haak as’t ware vas in die vetweefsel.

Die resultate is ‘n onmiddellike, waarneembare lig-aksie en oor die langer termyn ‘n regenerasie-aksie danksy die kollageenvorming en stimulasie.

Die prosedure

Die prodedure is gemik daarop die vel te lig of volume te gee waar dit nodig is. Die draadjies word onder lokale verdowing geplaas in die onderhuidse vetlagie onder die dermis en bokant die spierlaag. ‘n Verdowende inspuiting vooraf by die ingang- en uitgangspunte van die draadjies verseker dat die hele proses pynloos is. Dit neem minder as ‘n uur om alles kant en klaar te doen. Die voordeel is resultate soos dié van ‘n ontrimpelingsoperasie, sonder die mes, die teater en die narkose, teen ‘n fraksie van die koste en met die minimum hersteltyd.

Waar werk dit

  • Hangwange
  • Verlies aan volume
  • Gesakte kakebeenlyn
  • Pap nekvel
  • Gesakte Wenkbroue

My ervaring

Dr Gerhard het my gesig van alle kante bestudeer en besluit op drie draadjies in elke kant: Een net bokant my kakebeen en twee soos ‘n hangmat onder die ken, geanker agter my ore. Hy het dit met ‘n swart pen uitgemerk (amper soos ‘n mens ‘n patroon op materiaal aftrek as jy ‘n rok wil maak).

My gesig is deeglik skoongemaak en alle grimering (behalwe by my oë) is verwyder om steriliteit te verseker.

Dit is, terloops,  nogal skrikwekkend om in ‘n naby, vergrote kameraskoot te sien hoeveel pigmentasie ek aan my linkerkant het (kyk op die boonste en onderste foto’s regs) . Dit is die resultaat van my kinderdae, toe ek sonder sonskerm altyd op die agterste sitplek by die kar se linkervenster gesit het. Sonder sonskerm – in daardie dae het ons nog nie sonskrik gehad nie. Helaas, dit is nou te laat vir trane.

BO is die lyne uitgemerk waar die draadjies ingeplant moet word. ONDER is die draadjies reeds ingeplaas.

En hier leer ek toe ‘n baie belangrike feit: Daardie Hollywood kakebeenlyn van Angelina Jolie is so perfek omdat die kenlyn en neklyn ‘n hoek van 90 grade maak, verduidelik dr Gerhard. Sommige mense het dit geneties omdat hul tongwortel, lugpyp en stembande daardie dieper reghoek vorm. Andere het ‘n skuinser, 45 grade hoek – Marilyn Monroe en Renee Zelwegger, byvoorbeeld, en daarom vermy hulle gewoonlik ‘n strak profiel-kamerahoek wat onvleiend kan wees.

Daar is geen manier waarop iemand met ‘n skuinser lugpyp ooit met ‘n neklig-operasie of die Silhouette Soft prosedure ‘n 90 grade neklyn kan kry nie – dit kan die stembande beskadig en die sluk-aksie strem, sê dr Gerhard.

Nou daar het jy dit – met die beste wil in die wêreld gaan my nek en kakebeenlyn nie lyk soos Audrey Hepburn s’n nie – ek is ‘n 45 grade meisie.

Die verdowingsinspuitings was die seerste van die hele prosedure, maar dit was op ‘n skaal van 1-5 nie eens ‘n 2 nie. Die video hier onder wys hoe die eerste draadjie net bokant my kakebeen ingesit word.

Ek wou glad nie kyk wat gebeur nie – ek gril gou en kap maklik om. As jy nie krag het vir so iets nie, moenie na die video hier bo kyk nie!

Alles word in ‘n absolute steriele omgewing gedoen, want enige kontaminasie met bakterieë moet ten alle koste voorkom word. My hare is in ‘n teatermussie weggebind en my vel telkens ontsmet waar die naaldopeninge was.

VOOR die prosedure, bo. NA die prosedure, onder. Let op hoe my mondhoeke gelig het en hoeveel vlakker die lyne van my neushoeke na my mondhoeke is.

Ek kon glad nie voel toe die draadjie by die sentrale naaldprikgaatjie ingesteek en deurgetrek word na die uitgangspunt nie. Maar ek kon dit hoor! Dit is nogal grillerig, met ‘n dowwe girts-geluid, maar verder is ek aan my aktiewe verbeelding oorgelaat vir klankeffekte en dies meer. Dr Gerhard het my vooraf gewaarsku dat dit die geval sou wees, maar dit was omtrent die enigste dramatiese oomblikke, met die drama wat eintlik maar in my kop afspeel. Ek het ook ‘n bietjie aan die bewe gegaan van pure angstigheid oor wat my besiel het, maar die dokter se rustige teenwoordigheid en benadering het my gou kalmer laat voel. Ek moes dalk maar onthou het om Rescue Remedy vooraf te drink…

My regterkant is eerste gedoen en die drie draadjies was binne ‘n japtrap ingeplant en liggies sywaarts getrek om die vel sagkens te lig. Daarna kon ek regop sit en in ‘n spieël mooi kyk en vergelyk hoe dit verskil van die linkerkant van my gesig (sien die video onder). Die verandering was dadelik merkbaar, veral wat betref die naso-labiale en marionetlyne van my neushoek na my mondhoek en van my mondhoek afwaarts na my ken. My mondhoeke was duidelik gelig. Ek was tevrede dat die verandering subtiel is en natuurlik vertoon.

Op die video is my regterkant klaar gedoen, en die linkerkantkant moet nog in plek “getrek” word.

Nadat die regterkant ook gedoen is en die draadjies in posisie getrek is, is die puntjies wat uitsteek, afgeknip en die gaatjies weer ontsmet. Dit groei binne 24 uur heeltemal toe en moet net met ‘n antiobiotiese salf soos Bactroban vertroetel word.

Ek is daar uit met my nasorg-instruksies en ‘n yspak om kneusing en swelling te keer. Ongelukkig kneus ek maklik, dus lyk my nek asof ek ‘n rondte met ‘n wurgmaniak gehad het, en twee dae later het die swelsel onder my ken nog nie veel gesak  nie.

VOOR en NA. Let op hoe die sakkerigheid onder my ken reeds ‘n skoner, sterker hoek maak. Die foto is geneem voordat die draadjies afgeknip is, sodat die dokter kon sien of hy dit nog moes optrek of nie.

Nasorg

  • Gebruik ‘n antibiotiese room vir vyf dae waar die gaatjies is
  • Druk ‘n yspak teen die behandelde area vir 5 minute al om die ander uur vir die eerste dag
  • Slaap op jou rug en teen ‘n geligte kussing vir die eerste 3-5 dae
  • Reinig jou gesig baie saggies en moenie jou vel vryf of masseer nie
  • Jy kan grimering aanwend, maar doen alles met ‘n sagte hand
  • Vermy sonblootstelling en veral sonbeddens
  • Vermy gesigbehandelings (facials) en gesigmassering vir drie weke
  • Vermy inspannende oefening vir drie weke
  • Vermy saunas of hittebehandelings vir drie weke
  • Moenie enige tandheelkundige prosedures beplan vir die drie weke na die prosedure nie
  • Vermy uitermate gesigbewegings soos gaap, of om jou gesig te veel te trek as jy eet of praat

Die Silhouette Soft behandeling kan baie suksesvol gekombineer word met ander estetiese prosedures maar jy moet by die dokter seker maak hoe lank voor of ná die prosedure jy enige ander behandelings soos botoks of vuller kan doen. Ek beplan ‘n paar sessies BTL radiofrekwensie behandelings oor ’n paar weke, en Dr Gerhard sê dit sal die prosedure baie goed komplementeer en die resultate van die Silhouette Soft behandeling selfs beter laat lyk.

Hoe voel en lyk ek nou?

Ek is maar bly ek het my dagboek taamlik leeg gemaak voor die prosedure, want 48 uur later dit lyk nogal of iemand met bose intensies my aan die keel beetgekry het – dit is taamlik blou en gekneus onder my ken, en die swelsel is nog redelik opvallend. Ek wikkel my nek toe in serpe! As ek egter na my gesig reg van voor kyk, is die skoner kakebeenlyn duidelik sigbaar en die profielhoek wys ook ook ‘n skerper lyn van ken tot keel. Ek is baie nuuskierig om die finale resultate oor ‘n week of twee te vergelyk met die vooraf foto’s.

 

Dag 5 na die prosedure. Die kneusing en swelsel, veral aan my linkerkant, is nog baie opmerklik.

 

Dag 6. Die swelsel en kneusing is reeds aansienlik minder en my kakebeenlyn lyk merkbaar fermer. Polonekke en serpe vir my vir nog ‘n paar dae.

 

EEN MAAND LATER

Presies een maand ná die prosedure: Op die foto regs is dit duidelik dat die ken-na-keel lyn skoner en fermer is, alhoewel daar steeds bietjie swelling en kneusing is. Die sakkerigheid onder my ken is heelwat kleiner.

Wil jy dit ook doen?

Verskeie estetiese dokters landwyd  is en word tans opgelei in die prosedure. Die opleiding is baie streng en dokters word gekeur en getoets vir hul vaardigheid voordat hulle gesertifeer word om die prosedure te kan doen.

Doen jou huiswerk en reël ‘n volledige konsultasie met ‘n opgeleide dokter wat reeds omvattende ervaring in die prosedure het – jy wil nie ‘n proefkonyn wees nie. Vra vir foto’s van sy of haar werk.

Koste

Dit hang af van die hoeveelheid draadjies wat nodig is en die areas van die gesig of nek wat behandel word.

Die koste is R20 000 vir drie draadjies.

Meer inligting: Kontak Karen by 082 775 7442

www.silhouette-soft.com

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *