Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

CHANEL SE GABRIELLE IS HIER!

Saam met die lente kom…. Gabrielle  CHANEL EdP.

Splinternuut pas wêreldwyd vrygestel op 1 September. Vandeesweek op die rakke.

‘n  Nuwe parfuum uit die huis van CHANEL is altyd opwindend. Te meer so as dit 15 jaar geneem het om te skep, en die bottel alleen 5 jaar se ontwerp en verfyning geverg het. Boonop was die koms van hierdie parfuum in groot geheimsinnigheid gehul tot en met die groot internasionale onthulling van die naam ‘n paar weke gelede.

Gabrielle EdP (100ml R2 465) dra die naam Gabrielle, die doopnaam van die vrou Chanel, in teenstelling met Coco, die ontwerper.

Gabrielle Chanel was passievol vroulik, onafhanklik en rebels. Sy het haar eie storie geskryf, haar eie pad gekies: “Ek het die persoon gekies wat ek wil wees en is”, het dié ikoon en inspirasie vir vroue wêreldwyd gesê. Sy gryp vandag nog die verbeelding aan, met talle rolprente en boeke oor haar wat die lig gesien het, en haar Paryse modehuis gee vandag nog net so sterk die toon aan as in haar eie leeftyd.

Sy was die baanbreker wat vroue uit hul korsette gehaal het, hulle in langbroeke geklee het en dit mode gemaak het om sonbruin te wees. Sy was die pionier van ‘n moderne, vaartbelynde voorkoms van bedrieglike eenvoud.

Dit verg ‘n rebel en ‘n vrye gees om van die gebaande weë af te wyk en ‘n nuwe pad in te slaan – en dit was Gabrielle by uitstek. Hierdie parfuum vier in die besonder dié spesifieke eienskap wat haar gekenmerk het. En dit sal gewis byklank vind by derduisende moderne vroue (van alle ouderdomme) wat hul eie pad skep en volg.

Hoe ruik dit?

Die parfuum is ‘n blomgeur met witblom-note van ylang-ylang, jasmyn, lemoenbloeisel, soetemaling (tuberose) gekombineer met wit muskus, sandelhout, mandarynskil, pomelo and swartbessie.

Ek was aanvanklik huiwerig oor die bessie en die sitrusgeure, omdat ek nie oor die algemeen veel hou van vrugtegeure in parfuum nie. Maar CHANEL het die balans hier fyn georkestreer – my blywende sensasie is een van wit blomme, en ek is gek daaroor. Dit is ‘n parfuum wat talm en hoe langer, hoe liefliker op my vel ontwikkel. Die sitrusnote verleen ‘n vars, sprankelende gevoel wat perfek is vir die warmer maande wat nou voorlê.

Hoe lyk dit?

Die bottel is revolusioner, van die allerdunste, fynste glas, in ‘n perfekte vierkant, met ‘n volkome plat bodem en fasette om uit alle hoeke lig in ‘n vierkant te reflekteer en dit het vyf jaar geneem om te vervolmaak. Dit lyk soos ‘n flonkerende goue edelsteen.

Elke detail, van die bottel se matgoud prop tot die gevormde karton binne-verpakking, spreek van perfeksie en weelde. Chanel het immers gesê: “Weelde is wat jy nié sien nie.”

Die gesig van die parfuum is die aktrise Kristen Stewart van Twilight-sage faam.

Ek sê:

As jy ‘n CHANEL aanhanger is, gaan hierdie verruklike nuwe parfuum beslis jou hart bly maak.

 

 

1 Comment

  1. Tania says:

    Nog altyd ‘n groot liefde vir Chanel parfuum. Baie nuuskierig en opgewonde om GABRIELLE te probeer.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *