Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Die Begeerlikste Duur Parfuums

ch_confidential_hero-1400x700

Ek kan nouliks ons geluk glo met al die eksklusiewe, duur parfuums wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. Eksklusiewe geure wat net vir koninghuise en adel, super-biljoeners en oliesjeiks beskore was, is nou binne ons bereik met die nuutste parfuums wat onlangs ons mark betree het.

Dit is begeerlik en dit is duur, maar ‘n mens kan droom. Die feit dat dié parfuums boonop ‘n boeiende storie vertel, maak dit des te meer onweerstaanbaar.

Twee van die Duurstes

Carolina Herrera CH Confidential Private Collection (R3 500 vir 100ml parfuum, R7 500 elk vir die olies) Eksklusief by Stuttafords Eastgate en in November ook by Stuttafords Sandton

Ses parfuums vertel die verhaal van herinneringe, emosies, ervarings, geheime en drome wat vervat is in hierdie versameling, wat ook verweef is met haute couture skeppings van die ikoniese Amerikaanse ontwerper Carolina Herrera. Die parfuums is geformuleer deur haar dogter, Carolina Herrera de Baez. Op dié wyse huldig sy haar ma se verfyndheid en onberispelike styl, sê sy.

Die ses parfuums en vier essensiele olies (roos, sandelhout, muskus en oud) bied eindelose moontlikhede om jou eie, persoonlike geur laag-op-laag skep.

Elke geur is geïnspireer deur ‘n herinnering van ‘n reis of ‘n plek wat vir die Hererra familie spesiaal is.

carolina-herrera-perfumes

1. Herrera Tuberose: Leuse – Be True To Youself
Dit is die vlagskipgeur van die versameling, want tuberose (soetemaling in Afrikaans) was nog altyd Carolina se gunstelinggeur en vir haar die simbool van tydlose elegansie. Topnoot: Lemoenbloeisel; Hartnote: Tuberose, jasmyn; Grondnote: Vanilla, patchouli

2. Oud Couture: Leuse – New York State of Mind
Oud is ‘n ekstrak van agarhout en ‘n gesogte geur in die eksotiese Arabiese lande. Carolina het dit as ‘n geskenk ontvang op ‘n reis in die Midde-Ooste en terug in New York was dit haar inspirasie vir ‘n moderne, dog misterieuse geur. Topnoot: Roos Taif; Hartnote: Roos van Damaskus, naeltjies; Grondnote: Agarhout, sederhout.

3. Burning Rose: Leuse – Grace Under Fire
Rooi is ‘n baie belangrike kleur in die Huis van Herrera. Hierdie parfuum simboliseer die ontploffing van kreatiewe energie in die New York van die 70- en 80-erjare. Dit is ‘n sterk roosgeur en herroep ‘n nostalgie na ‘n tyd van nuwe idees, bevryding en opwinding. In die Griekse mitologie is ‘n roos die eenwording van onskuld en sensualiteit. Topnote: Swart peper, gemmer; Hartnote: Bulgaarse roos, kaneel; Grondnote: Patchouli, mirre.

4. Amber Desire: Leuse – A Timeless Obsession
Die sagte, warm geur van amber herinner Carolina aan die soet, houtagtige geure van die familie se biblioteek in hul New York tuiste. Dit verteenwoordig vir haar ‘n oase van vrede en stilte. Die intense, boeiende geur van amber gee karakter en Oosterse misterie aan die parfuum. Topnote: Kaneel, koljander; Hartnote: Roos Absolute, ylang-ylang; Grondnote: Labdanum, vanilla.

5. Neroli Bohème: Leuse – Latin Heritage
‘n Passievolle geur wat Herrera herinner aan sorgvrye dae op haar skilderagtige landgoed in Venezuela. Die geur van sitrus is haar huldeblyk aan haar Latynse afkoms. Topnote: Tunisiese neroli, mandaryn; Hartnoot: Jasmyn; Grondnote: Muskus en benzoin.

6. Nightfall Parchouli. Leuse: The Heat of the Night
Die intense, verleidelike geur is geïnspireer deur die tropiese paradys en turkoois waters van die Karibiese eiland Mustique, haar gunsteling vakansieplek. Dit is ‘n aromatiese beneweling van die sintuie. Topnoot: Bergamot; Hartnote: Kaneel, naeltjies; Grondnote: Patchouli, benzoin Siam.

av-her-etui

CREED Aventus for Her 75ml R5 550

Die eerste keer wat ek CREED teengekom het, was in Bergdorf Goodman in New York, die eksklusiewe winkel oorkant die Ritz Hotel en Central Park.

Ek was onmiddellik betower. Groot was my vreugde toe CREED hul eerste toonbank onlangs in Stuttafords in Sandton geopen het.

Die Creed-naam is deur die eeue, sedert 1760, sinoniem met adelike huise. Oliver Creed, die huidige president van die Huis van CREED verteenwoordig die sesde geslag van die Creed-familie. Hul parfuums was in hul bestaan van 250 jaar die uitverkore geure van onder andere Koningin Victoria, Napoleon lll en Keiserin Eugenia (Jasmin Emperatrice Eugenia) , keiserin Sissie van Oostenryk-Hongarye. Moderne bekendes en beroemdes is geswore aanhangers, soos George Cluney, Clint Eastwood en Richard Gere (Green Irish Tweed), Angelina Jolie en Michelle Obama (Love in White), Paul Newman (Bois du Portugal), Grace Kelly, Madonna, Jacquline Onnassis (Fleurissimo), Victoria Beckham (Royal Water).

Die nuutste parfuum van CREED is Aventus for Her. Dit is geskep vir die moderne Amasone, die vroulike vegters van die betonoerwoud wat braaf en romanties hul pad na Vryheid oopkap. Topnote: Groen appel, viooltjie, pienk peper, patchouli, bergamot, lemoen. HarTnote: Roos, styrax, sandelhout, muskus. Grondnote: PersKe, swartbessie, lila, amber, ylang-ylang, roos.

Dit is ‘n baie komplekse parfuum, as ‘n mens dit vergelyk met die CH Confidential parfuums, byvoorbeeld, en ek moet erken, dit het my tyd geneem om daaraan gewoond te raak. Maar dit het op my gegroei en nou is ek gek daaroor – mense stop my deedae op die lughawe om te vra watter parfuum ek aanhet.

Daar is ‘n verbysterende aantal parfuums, geparfumeerde waters, geparfumeerde kerse, unisex-geure en lyfsorgprodukte in die CREED-versameling en ‘n mens het letterlik iemand nodig om jou hand vas te hou om te navigeer deur die duiselingwekkende keuses voor jou.

In die Millesime-reeks is daar altesame 25 geure, In die Eaux de Toilette versameling is daar 3, in die Private Collection 2, in Royal Exclusives 5, en dan is daar die kerse en bykomstighede ook.

Gaan kyk gerus as jy ‘n kans kry. Dis ‘n goeie plan om vooraf op te lees oor die versameling, sodat jy ‘n idee kan vorm van watter geure jy graag sal wil toets.

Dit is peperduur, maar nou ja, dis seker waarom dit nooit bedoel was vir die plebs nie!

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *