Die Formidabele Sharon Stone – ‘n Eksklusiewe Onderhoud in Berlyn

Dié van julle wat my op Facebook volg, weet teen hierdie tyd: Ek was die enigste joernalis uit Afrika wat bevoorreg genoeg was om voorlaasweek ‘n persoonlike onderhoud met aktrise Sharon Stone in Berlyn te kon hê.

Aktrise Sharon Stone op die rooi tapyt in Berlyn.
Aktrise Sharon Stone op die rooi tapyt in Berlyn.

 

Daar was altesame ‘n raps meer as 100 skoonheidskrywers vanoor die wêreld vir die geleentheid waar Ms Stone namens Galderma Restylane die veldtog Proof in Real Life geloods het. ‘n Handjievol van ons was die uitverkorenes om in klein groepies ‘n kort onderhoud met haar te kon hê. In my groep was drie skrywers van die Midde-Ooste, twee van Japan en die res van Hong Kong, China en Taiwan.

Die doel van die veldtog is om die wanpersepsies omtrent estetiese behandelings soos vullers reg te stel deur te bewys hoe subtiele, natuurlike resultate in die werklike lewe kan en moet lyk.

Baie mense stel belang om vullers te laat doen, maar word afgeskrik deur die ekstreme resultate van eekhoring-bolwange en Donald Duck-lippe wat hulle in publikasies en op die Internet sien van Hollywood-sterre (en hul dokters) wat dit totaal oordoen het. (Kyk maar na voorbeelde hier op Mooipraatjies ook, onder Tussen Vriendinne.)

Dis NIE die soort lippe wat vullers jou moet gee nie! Ek staan hier by muurkuns op 'n paneel van die Berlynse Muur. Hierdie muur het Berlyn van 1961 tot 1989 in twee verdeel. Die muurkuns is aangrypend.
Dis NIE die soort lippe wat vullers jou behoort te gee nie! Ek staan hier by muurkuns op ‘n paneel van die Berlynse Muur. Hierdie muur van 43 kilometer het Berlyn van 1961 tot 1989 in twee verdeel. Die muurkuns is aangrypend.

10 Stelle Tweelinge

Dit hoef egter nie so te wees nie. Tien stelle identiese tweelinge tussen die ouderdomme van 38 en 63 is gebruik in die program. Een van elke stel tweelinge is sedert Februarie vanjaar behandel met Restylane vullers en Restylane Skinboosters (mikrovullers wat die vel opplomp en hidreer).

Die resultate is in Berlyn deur Sharon Stone onthul en al tien stelle tweelinge (daar was ook twee pare mans) was op die verhoog, sodat ons met ons eie oë die verskil kon sien.

Sharon Stone is die eerste ster wat haar naam koppel aan ‘n estetiese produk soos hierdie. Sy vertel self hoekom: “Baie mense stel belang om iets te laat doen om varser en beter te lyk, maar is bang omdat hulle net die een kant van die storie sien – mense wie se voorkoms onherkenbaar verander is. Dié veldtog sê jy kan nie altyd die beeld vertrou wat jy in die media sien nie – ons wys in die werklike lewe, met regte mense, hoe subtiele, natuurlike resultate verkry is.

“Ek ondersteun groter openlikheid en bewustheid van estetiese behandelings. Baie mense vind die prosesse vreesaanjaend en is bang om die verkeerde keuses te maak. Hierdie veldtog is om mense meer selfvertroue te gee om ingeligte keuses te maak met betroubare, deursigtige inligting. ‘n Mens wil nie soos iemand anders lyk ná ‘n behandeling nie, net na die beste weergawe van jouself.”

Drie stelle identiese tweelinge: Gay & Zoe (63), Jenny & Sue (44); Kelly & Stacey (38). Op elke foto is die lid van die tweeling wat NIE behandel is nie, in wit geklee.
Drie stelle identiese tweelinge: Gay & Zoe (63), Jenny & Sue (44); Kelly & Stacey (38). Op elke foto is die lid van die tweeling wat NIE behandel is nie, in wit geklee.

Vullers om Weer Mooi en Heel te Wees

Dus, vra almal my nou terug by die huis, hoe lyk Sharon Stone in lewende lywe? Het sy self vullers gehad?

“O ja,” sê sy dadelik. “Ek het in 2001 ‘n beroerte gehad, met bloeding op die brein. Ek was byna dood. Ná my herstel het ek vullers nodig gehad om my gesig weer op te bou. Dit het nie net my voorkoms fisiek help herstel nie, maar my ook emosioneel gehelp, omdat ek weer na myself gelyk en gevoel het.”

Ek het baie naby haar gesit en haar fyn bekyk, glo my! En op 57 lyk sy fantasties, met ‘n lyf wat nog steeds moeiteloos in Basic Instinct sal kan instap en ‘n foutlose, stralende vel en gelaatstrekke. Sy kan, weens die beroerte, nooit ‘n gesigontrimpelingsoperasie oorweeg nie, vertel sy, maar sy huiwer nie om vullers te gebruik nie.

Nadat sy gesien het hoe mooi is die hande van die een lid van die 63-jarige tweeling wat behandel is met Restylane Skinboosters, gaan sy dit beslis laat doen, sê sy. “Mooi hande is ‘n bate en spreek van vroulikheid. ‘n Mens gebruik jou hande as jy praat, jy bring dit mos na jou gesig toe en al lyk jou gesig nog jonk en gangbaar, skrik jy jou disnis vir daardie hande! Maar ek prágtige voete,” spog sy terwyl sy die stiletto uitskop dat hy dáár trek en vir ons haar mooi voet oplig en alkante toe wikkel sodat ons dit deeglik kan bewonder!

Sharon op die verhoog met die tweeling Gay en Zoe (63) van Brittanje.

 

Ons onderhoud wat veronderstel was om 10 minute te wees, het uitgerek tot meer as ‘n halfuur. Sy is ‘n fees om mee te praat – elke vraag oorweeg sy nadenkend en dan beantwoord sy dit volledig en met insig, terwyl sy boonop uitbrei en iets van haarself gee, en ook ‘n persoonlike konneksie met die vraesteller maak. Sy filosofeer graag en sy maak seker dat sy jou iets gee om “huis toe te neem”.

Luister na die uittreksel oor die gawe van ouer word in die onderhoud hierby. (Die gebrom in die agtergrond is die Chinese vertaler wat langs my gesit het – ek kon haar nie stil gegluur kry nie.)

 

Aktivis en Feminis

Sy beskou haarself as ‘n aktivis, en is betrokke by verskeie humanitêre projekte wêreldwyd. Sy het, nieteenstaande die organiseerder se opdrag dat nie een van ons mag vra vir ‘n foto met haar nie, entoesiasties ingestem om saam met die drie vroue van die Midde-Ooste (een Moslem van Dubai en twee Christene van onderskeidelik Lebanon en Dubai) afgeneem word toe hulle ewe vernuftig vra of hulle ‘n “deal” kon maak dat hulle net twee vrae tussen die drie van hulle sou vra, in ruil vir ‘n foto pleks van ‘n derde vraag. Slim né!

Sy praat graag oor die rol wat die “vroulike energie” behoort te speel om ‘n vreedsame wêreldgemeenskap te bewerkstellig, maar huiwer nie om haar op die krag van vroulike skoonheid om dinge gedoen te kry, te beroep nie. “Daar is ‘n krag daarin om mooi te lyk, dit gee jou mag. Komaan, ons weet dit almal. As jy mooi lyk, kry jy goed gedoen!”

My vraag oor hoe sy ‘n dogter of gunsteling-niggie (sy het twee seuns) sou raad gee oor ouderdom, het sy netjies gebruik om vroue wat ouer word, te inspireer om hul opvattings oor ouderdom eenvoudig nek om te draai: “Ons lewe nou soveel langer. Ons moet onsself stop en die hele prentjie herberaam – dit ‘n nuwe raam gee; ons het te maklik ingekoop op die idee dat ‘n sekere ouderdom sus en só behoort te lyk en te voel.

“Ons moet besef dit beteken nie dit wat altyd aan ons voorgehou is nie. Ons het ‘n hele nuwe hoofstuk van ons lewens voor ons, en ons moet daaraan beplan.

‘n Nuwe Bergpiek om te Bestyg

“Ons mag gedink het ons het die Sisyphus-berg geklim en die spits bereik, en nou moet ons maar aan die anderkant afrol. O nee, ons klim nou hierdie berg, in die besonder as vroue, om bo te kom en te vra, watter berg klim ek volgende?”

(In die Griekse mitologie is die figuur Sisyphus gedoem om vir ewig en tevergeefs ‘n rots teen die berg op te rol, net om dit weer te sien afrol wanneer hy bo kom.)

“Boonop moet ons vra: Is ek oorgehaal vir die volgende bergpiek? Is my gemoed gereed daarvoor, het ek myself goed genoeg bymekaar gepluk hiervoor? Hoe gaan ek dit doen? Hoe gaan ek lyk? Wat gaan ek doen?

“Dis waarom ek opgewonde is oor Restylane en hierdie projek. Dit is ‘n manier om vroue te kry om te kyk na hulself, oor hulself te praat, na mekaar te kyk en te praat oor die toekoms. Want hierdie is die ouderdom wat ons nié verwag het nie, of aan gedink het as die volgende hoofstuk in ons lewens nie. En ons hét dit – ons kan ‘n nuwe loopbaan laat in ons 50’s begin as ons wil.

“En dit is wat my opgewonde maak: As ons dan nou ‘n nuwe hoofstuk begin, laat ons damn goed lyk terwyl ons dit doen! Laat ons goed lyk, goed voel en dit eenvoudig loop dóén! En laat ons nie die verdomde planet opblaas terwyl ons dit doen nie! Laat ons kyk hoe ons ‘n vreedsame toekoms kan skep, hoe ons ‘n vroulike, mooi realiteit kan skep.

“Ons het dus hierdie volgende stuk van ons lewe in ons hande, en ons het nooit gedink ons gaan dit hê nie. Ons kan nou sê, ‘Wag ‘n bietjie, ons skop daardie enjin weer aan die gang’. Dit is so ‘n wonderlike geleentheid, want ons kán. Ons word nou by die naam geroep: Ons is die vroue met die ervaring en die opleiding. Ons is die vroue met die wysheid.”

Luister hoe sy dit stel – en moenie skrik vir die skielike, dog heel vanpaste, kragwoord nie!:

 

Mooi is Meer as ‘n Beeldskone Gesig

In ‘n vraag oor die geheim van skoonheid het sy prontuit gesê sy het bitter min met haar eie skoonheid te doene gehad, want haar ouers was albei beeldskoon, sy het dus ‘n genetiese boerpot geslaan.

“Maar soos jy ouer word, het skoonheid nie net met voorkoms te make nie. Dit is oor hoe jy jou lewe leef en die goeie, gelukkige dinge wat jy dink en doen. Wie voel nié aangetrokke tot ‘n gesig met mooi lagplooitjies om die oë nie?”

Net daar plaas sy my toe vierkantig in die kollig, want ek het haar vertel hoe oud ek is. “’n Mens kan dit mos sien: Kyk byvoorbeeld na hierdie vrou,” beduie sy vir die ander joernaliste en wys na my. (Ek hét omgekyk om te sien wie sy bedoel, tot ek besef al die klein Oosterse vroutjies betrag my intens, en fluister onderlangs ‘gorgeous’!) “Kyk na haar. Daar is geen twyfel dat sy ‘n goeie, gelukkige lewe ly nie – jy kan dit op haar gesig sien.” Ek was taamlik oorbluf, maar kon darem die teenwoordigheid van gees herwin om “Baie dankie” te prewel.  Ek het baie geëerd, maar ook nederig gevoel – om te dink Sharon Stone maak só ‘n mooi opmerking oor my… Wow.

En toe is die voorreg verby. Toe ons handskud, wou sy weet hoe dit in Suid-Afrika gaan, want sy was al dikwels hier. “Dit gaan nie so goed nie,” was my eerlike antwoord. “Hoekom nie, vertel my?” Ek kon sien  haar chaperone begin haastig rondtrippel en sê toe dis ‘n lang storie, waaroor ek haar graag meer sou wou vertel as daar langer tyd was. “Nou maar, ek sal myself gaan vergewis van wat aangaan,” verseker sy my toe. Ek glo haar.

In my lang loopbaan as joernalis het ek baie onderhoude en profiel-artikels met beroemdes en bekendes (en berugtes!) gedoen, maar min vroue het my soveel inspireer soos Sharon Stone in die bestek van ‘n halfuur kon doen. Sy is in ‘n klas van haar eie.

Kyk hier na haar elegante aankoms op die rooi tapyt by die Elisabethkirche in die middestad van Berlyn, waar die bekendstelling van die veldtog aangebied is.

Dankie Galderma en Restylane vir ‘n onvergeetlike 48 uur in Berlyn!

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.