Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Die Groot Uitsmyt: Episode 1

Processed with MOLDIV

Processed with MOLDIV

So lyk ‘n paar van die klerekaste….

Die Belydenis van ‘n Opgaarder…

Die teenoorgestelde van Opgaar is Uitsmyt. Dis iets waarmee ek nie goed is nie – uitsmyt. Nugter weet hoe dit gebeur het, maar met die jare het ek al meer begin opgaar en nou is ek oorweldig. In so ‘n mate dat ek nie weet waar om te begin nie. Ek hiperventileer sommer as ek net daaraan dink.

Ek het Marie Kondo se boek oor minimalisme gekoop, ja. (The Life-Changing Magic of Tidying Up). Nou vergaar dit ook stof in my oorvol boekrakke (saam met ‘n hele paar ander de-clutter boeke…), want ek Kon-do-toe-nie-doen-nie. Die KonMari-metode werk nie vir my nie, dit is te onverbiddellik. Duidelik is ‘n intervensie/ingryping nodig, want ek raak heeltemal verlam van besluiteloosheid as ek voor my klerekas, skoenkas of boekrakke gaan staan. Om nie te praat van my skoonheidskas nie!

Daar is sekerlik slim sielkundige ontledings en verklarings vir wat my probleem is, maar reg nou is dit Lente en ek het nie klere  vir die somer nie. Of eerder – ek het baie klere en niks om aan te trek nie. Hier is ‘n krisis. Daar is nie tyd vir ontboesemings, ontledings en terapie nie, hier moet nou dadelik iets gebeur!

Dit is toe waar Pippa Leenstra en haar opskiet-winkel (pop up shop) in my lewe verskyn. Ek was by ‘n geleentheid waar ek haar in aksie gesien het met kliënte, waar sy eerlike advies gee oor wat goed lyk en wat nie, wat by wat gaan werk en watter kledingstukke vir jare lank gunstelinge in jou kas sal bly as jy dit sou koop.

Benewens haar opskietwinkels van noukeurig uitgesoekte, veelsydige en besonderse kledingstukke, doen sy klerekas- en stylkonsultasies by kliënte se huise, help hulle besluit wat werk en wat nie, bepaal wat hulle dalk moet aanskaf om sekere kledingstukke of kombinasies beter te laat werk en les bes, help hulle om klere wat die bus verpas het en moet verkas, finaal die trekpas te gee.

Haar filosofie omtrent ‘n klerekas berus sterk op minimalisme. “Ek sê nie jy moet minder klere besit of dat jou styl teruggesnoei moet word as jy ‘n flambojante persoon is nie, of dat jy net wit en swart klere moet dra nie. Ek probeer my kliënte aanmoedig om net klere in hul kas te hê waaroor hulle absoluut mal is, waarvoor hulle regtig LIEF is.”

Ja maar, kap ek terug, dit is wat Marie Kondo ook voorskryf, en ek kan dit nie doen nie!

Daar is klere waaroor ek sentimenteel is, want ek het dit gedra in ‘n lekker tyd of gebeurtenis in my lewe, daar is klere met ontwerpersname (Armani!!! Donna Karan!!! Max Mara!!!) wat ek jare gelede oorsee gekoop het, daar is formele en kantoordrag wat peperduur en baie mooi is en wie weet, ek werk dalk weer eendag in ‘n korporatiewe kantoor (ja, né?), daar is klere waarin ek sweerlik weer eendag gaan pas, en, en, en…

Processed with MOLDIV

Gestreepte snyerspakke, stilletto’s, boheemse bont bloese… Dit moet alles waai – en dis net die begin….

 

Pippa het al hierdie argumente al gehoor.

Sy glo ‘n mens moet jou klerekas redigeer (edit) tot by jou werkesel basiese kledingstukke (soos ‘n wit T-hemp) en dan kledingstukke wat jy regtig geniet om te dra. Die werkesels het jy nodig om die res van jou klerekas te laat werk, en hulle het ‘n doel in jou klerekas, al is hulle nie “showstoppers” nie.

Die mikpunt is dat jy dus net werkesels en klere wat jy liefhet in jou kas het. “As jy net klere in jou kas het waarvan jy regtig hou, dan is dit ‘n vreugde om in die oggend aan te trek, die proses is maklik en lekker. Jy mors nie energie om deur minder geliefde kledingstukke of goed wat nie reg pas nie en bloot net ruimte in jou kas steel, te ploeter nie.”

Hier is ‘n voorbeeld, sê Pippa: “Jy het 4 wit hemde.” (Ek? Probeer 18!)

“Jy is lief vir twee van hulle, een is oud en moet uitgegooi word, en die ander een is so-so – jy hou net nie van die manier hoe dit sit nie, maar dit is nuut en daar is niks verkeerd met die hemp nie. Dit is waar ek my kliënt aanmoedig om die een item te laat gaan. Die realiteit is dat, wanneer jy ‘n wit hemp wil aantrek, jy altyd een van die twee waarvan jy regtig hou, gaan kies. Wat is die punt daarin om die ander een daar te laat hang, die ruimte in te neem, jou sleg of skuldig te laat voel dat jy dit gekoop het, en jou te herinner aan die geld wat jy gemors het. Die geld is weg, jy gaan dit nie terugkry nie (tensy jy die item verkoop, wat ‘n wen-situasie is). Daar is geen punt in om energie daarop te vermors nie. Dit doen jou geen goed nie. Maar wanneer jou twee gunstelinge daar hang en vir jou kyk – dis wanneer jy goed voel!”

Dit kan ‘n  baie emosionele proses wees om items in jou kas te laat gaan, maar dit is ‘n bevrydende ervaring, en hoe meer jy dit doen, hoe makliker, word dit, verseker Pippa my.

Sien sy kans vir my drie kamers vol klere, waarvan sommige ouer as 20 jaar is? En dit gaan meer as een of twee ure se konsultasie verg? En kan sy my nie net help uitdun nie, maar ook raadgee oor my klerestyl, want my leefstyl het verander, en my lyf ook?

Sy sien kans vir die uitdaging, sê Pippa. Ons het ‘n ooreenkoms: Sy gaan my help om lig en lekker met my klerekas te leef en ek gaan my Mooipraatjies lesers vertel hoe die proses verloop. Hopelik inspireer dit die opgaarders onder julle ook, en kan party van julle baat by die wenke wat sy vir my gee oor klere en style wat nou vir my sal werk.

Pippa het reeds ‘n eerste, verkennende sessie met my gedoen. In my volgende blog vertel ek wat gebeur het. Daar lê nog baie werk voor!

Intussen is sy tans hard aan werk aan haar Lente & Somer opskietwinkel 20-24 September in Bryanston, Johannesburg. (Sien besonderhede hier onder). Gaan maak gerus kennis en benut haar slim advies en fyn oog om vir jou iets nuuts wat perfek vir jou gaan werk, vir die somer aan te skaf.

sept-pop-up-image

 

 

 

 

1 Comment

  1. Ester Ilivier says:

    Sal eersdaags die stryd aansê!. Dis iimmers end van 2016 en tyd vir nuwe jaarsvoornemens! Sterkte aan alle meelopers!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *