Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Die Groot Uitsmyt: Episode 2

Processed with MOLDIV

Die soort rok wat ek nooit voorheen sou koop nie: Knielengte, oop skouers, nousluitend. By my is my man se kleindogter, Rachel by die troue in Sydney.

Ha, julle het gedink julle hoor nooit weer van my oor hierdie storie nie?

Wel, laat ek eerlik wees, dit is ‘n reuse proses, tot dusver glad nog nie ‘n reuse sukses nie en ek wou in die afgelope drie maande ‘n paar keer tou opgooi.

Maar ek byt vas.

Sakke en kratte vol klere is reeds uit die kaste, by my huis in Johannesburg, en nou ook by my vakansiehuis in Hermanus. Party het hul weg gevind na my huishulp, ander is bestem vir Hermanus Hospies en die klassieke ontwerpersname wat nie meer pas of werk nie, moet na ‘n tweedehandse klerewinkel.

Hoe op aarde kry ‘n mens dit reg om soveel klere te vergaar? Het ek regtig 30 paar swart hofskoene nodig? En omtrent net soveel swart langbroeke?

Dis skandalig ja, maar ter verdediging moet ek sê dat baie van daardie klere amper drie dekades oud is – en Pippa* se leiding het die lyding van die erge skeidingsangs makliker gemaak. Party dae kry ek ‘n bevlieging en dan waai goed voor die voet, ander dae kry ek omtrent angsaanvalle. Maar met elke volgepakte spasie wat ligter en minder raak, en ou, stagnante energie wat uitswiep, raak dit makliker en soms selfs lekker.

Dit het beslis my selfdissipline in die winkels ‘n hupstoot gegee. As ek ‘n tweede keer na ‘n kledingstuk kyk, onthou ek net dat dit moet voldoen aan AL die riglyne, anders verdien dit nie ‘n plek in die kas nie. Dan raak dit al makliker om verby te stap. En met die paar aankope wat ek wel gemaak het, volgens die riglyne, het ek ‘n paar wenners aangeskaf. ‘n Voorbeeld is die rok hierbo wat ek gekoop het vir my stiefseun se troue in Australië in November: Voorheen sou ek nooit gekyk het na so ‘n styl nie, want my klere is altyd los en oorgroot en lank. Stem julle saam dit lyk nogal mooi?

Pippa was ongenaakbaar oor al die los, vormlose tops in my kas: “Ek kan glad nie jou figuur, jou vorm sien nie!”

Sy het my figuur geanaliseer en toe haar lys opgestel na aanleiding van die klere wat sy in my kas gesien en my laat aanpas het.

Hier is haar lys van wat vir my tipiese uurglasfiguur (groter borste en heupe en relatief klein middellyn) IN en UIT is:

UIT

  • Bleek, modderige, of herfskleure soos taupe, mosterd, steen, roesrooi, gebrande oranje. Daar waai amper die helfte van my kas…
  • Boot leg jeans. Agge nee! Regtig? Minstens vier jeans op die uitgooi stapel…
  • Bokserige, vormlose, los rokke. Dis die enigste soort rokke wat ek het!
  • Bokserige, vormlose bloese en tops met te veel volume of vlermuis (batwing) moue. Daar waai die ander helfte van my kas…
  • Tops met ‘n rek-heupband. OK, nie ‘n probleem nie, daar is net twee hiervan en ek dra dit nooit…
  • Tops met ‘n ronde, hoë neklyn – dit werk nie vir ‘n groter borsmaat nie en laat jou soos ‘n kropduif lyk. ‘n Hele paar gunstelinge sal uitgesmyt moet word…
  • Driekwartlengte broeke en cargo-styl broeke met sakke oral. Agge nee, die cargo broeke is so lekker om mee te reis, met al daardie sakke!
  • Laag gesnyde of hipsterbroeke wat jou bene laat korter lyk of gaap bo. Geen probleem nie, ek kan die goed nie verdra nie en dit vorm tog net ‘n afskuwelike muffin-top.
  • Oorvourokke wat by die heupe oormekaar vou; langlyf-rokke. Daar is net een hiervan…
  • Sakke en detail op die heupe. Reg so – daardie reël volg ek darem meestal.
  • Breë gordels om die heupe. Uhmmm, ja…
  • Kuitlengte rompe wat op die skuinste gesny is. Daar is ene, ‘n swarte…
  • Bokserige, oorgroot silhoeëtte. Ek mag nie meer soos Maude van The Golden Girls lyk nie, dus.
  • Bokserige baadjies met geen taillering/vorm in die middellyn nie. Ek sal ‘n goeie snyer/kleremaker moet kry om ‘n hele paar gunsteling baadjies te verstel.

IN

  • Skoon, helder kleure soos pruim, pers, koningsblou, rooi, turkoois, helderpienk. Gelukkig kan ek my swart goed hou…
  • Broeke met regaf pype, skinny broekstyle, wyepyp broeke met ‘n hoë middel
  • Empire-lyn rokke om my middel se vorm te wys
  • Sagte, gedrapeerde bloese wat my vorm volg en vlei
  • Tops in ‘n frokkiestyl of racer back snit as ‘n basis onder ‘n baadjie of bloes
  • Tops met ‘n laag gesnyde of V-neklyn – uit met al die hoë rondehals T-hemde
  • Capri broek tot net bo die enkel
  • Broeke met ‘n hoë middel vlei my, laat my bene langer lyk en beklemtoon my middel 
  • Oorvourokke (wrap dresses) en Empire-lyn rokke wat net onder die borste of bokant die middel vaskom
  • Langbroeke met min of geen detail en sakke
  • Smal of mediumwydte gordels in die middel of net bokant die middel
  • A-lyn, vol of potloodsnit rompe tot net onder die knie
  • Getailleerde kledingstukke van goed gestruktureerde materiaal
  • Vormpassende silhoeëtte
  • Balanseer proporsies: By wyepyp broeke moet die top noupassend wees, terwyl skinny broeke losser, minder figuurpassende tops vereis
  • Baadjies moet vorm hê (fitted) en die lyne van die figuur volg

Alles wat vaal, dof en vormloos is, moes waai!

Ek vorder, ek vorder. Die oorlog is lank nie gewen nie, wel ‘n paar veldslae. Maar ek sal die druk op myself volhou en julle mettertyd trakteer op Episode 3!

Intussen kry ek heelwat nuwe insigte in myself… maar dit is ‘n storie op sigself. Anderdag.

*Pippa Leenstra is ‘n stylkonsultant.

www.pippaj.co.za of 082 868 4981

 

2 Comments

  1. Regtig interresant.Ai, ek het ook n gebrek aan lengte! Mens kan tog nie altyd hakke dra nie, alhoewel ek dit gedoen het in my jonger dae.

  2. Marie says:

    Bravo! Nou’s dit my beurt. Maar ek behoef eers ‘n flessie vlugsout.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *