Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Die Jongste Nuus oor Vullers: Ek probeer Ellansé Vuller

Ek is nie ‘n vuller-maagd nie; inteendeel, ek het lankal my onskuld met naalde verloor.

Oor die afgelope 10 jaar of wat, sedert ek die groot 50 getref het, het ek met groot plesier en selfs groter verwagtings betreklik gereeld my gesig uitgeleen aan naalde en canulas om my driehoek van jeugdigheid minder na ‘n langwerpige of vierkantige verlore driehoek te laat lyk.

Ek was nog nooit teleurgestel nie. Die wonder van vullers is dat jy dadelik die resultate sien, jy hoef nie te wag soos in die geval van Botox, wat ‘n paar dae neem om plooie uit te stryk nie. (Julle weet teen die tyd dat Botox en vullers nie dieselfde dinge doen nie? Indien nie, hier is ‘n opsomming.)

‘n Paar weke gelede was ek by die bekendstelling van ‘n nuwe vuller: Genop Health se Ellansé. Wat my opgewonde gemaak het oor hierdie nuwe produk is dat dit ‘n bio-stimuleerder is wat kollageenvorming bevorder. Nie net vul dit kepe en vore dadelik op nie, dit bevat verstelbare mikrosfeerelemente wat die liggaam aanmoedig om sy eie kollageen te vorm. Dit beteken dat die sigbare goeie resultate wat jy dadelik sien ná die prosedure, na ses maande selfs beter gaan lyk, omdat nuwe kollageen gevorm word waar die vuller ingespuit is.

Soos ons  ouer word, kry ons nie net plooie nie, maar verloor die gesig die volume wat tipies is van ‘n jeugdige gelaat. Verlies aan gesigvet is die oorsaak van sestig persent van gesigveroudering, verduidelik kosmetiese dokter Gerhard van Niekerk van Kaapstad.

Dr Gerhard Van Niekerk

Dr Gerhard van Niekerk

Benewens die vetkussingkies wat plat raak en afsak (bulhond hangwange) verloor ons ook beenvolume in die gesig: Die ronde oogholte raak byvoorbeeld ovaal met ouderdom. Jou ore en neus word groter. Gesigspiere word langer en verslap. Boonop neem die hialuroonsuur-inhoud (wat die vel plomp, vogtig en vars hou) af. Dit alles bring mee dat die gesig se kollageen wat die jeugdige “infrastruktuur” van jou vel en gesigkontoere vorm, begin meegee en ooglopende veroudering veroorsaak.

Die Ellansé vuller herstruktureer die kollageenstruktuur en dit is die geheim van langdurige resultate wat tot ses maande later nog verbeter soos wat die “infrastruktuur” gestimuleer en versterk word.

Ellanse Product Visual P

Die vuller kan gebruik word om holtes en kepe te vul, volume te herstel en kontoere te definieer, in konsultasie met die dokter. Dit word gebruik vir holtes by die slape, wange wat plat raak weens vetverlies, die naso-labiale voue, die verslapte kakebeenlyn en ‘n ken wat opwaarts projekteer (boontoe trek) en die onderste derde van die gesig korter en uit balans met die res van die gesig maak. Dit kan ook gebruik word om die neus se vorm mooier te maak of te verbeter. Dit is egter nie geskik vir lipvuller nie – daarvoor moet ‘n HA-vuller ingespan word.

Wat is die verskil tussen die hialuroonsuur (HA) vullers wat ons reeds ken en die nuwe Ellansé vuller, wou ek by dr Van Niekerk weet. Die verskil is: As ‘n pasiënt slegs van lyne (soos die naso-labiale lyne van die neus na die mondhoek en die marionetlyne onder die mondhoeke) ontslae wil raak of  voller lippe begeer, dan word ‘n HA-vuller gebruik. As jy egter weens verlies van volume die kollageenstruktuur wil herbou, is Ellansé die beter opsie.

Of ek dadelik my hand opgesteek het om dié nuwe produk te beproef? Kan visse swem? Maar natuurlik. So gou as wat dr Van Niekerk weer ‘n opleidingsessie vir estetiese artse in Johannesburg aangebied het, was ek ‘n gewillige model.

Dis hoe sake verloop het:

Dr van Niekerk het my met ‘n kennersoog bekyk (hy het ‘n wonderlike gerusstelende  “bedside manner”, terloops, wat my dadelik kalm laat voel het) en gevra wat aan my gesig pla my? Die kepe tussen my neus- en mondhoeke, die verdrietige afwaartse vore onder my mondhoeke en die lelike pap sakkies weerskante van my ken pla my, vertel ek hom. Ek wil egter beslis nie eekhoring bolwangetjies hê soos sommige oordoende Hollywoodsterre wat te veel vullers oor die mid-seksie van hul gesigte gehad het nie.

Sy mening: Die kepe van my neusvleuels af kort net bietjie vuller by die neushoek en nie die hele keep nie, anders gaan dit “plasties opgepomp” en onnatuurlik lyk as ek glimlag. ‘n Bietjie vuller by die wange gaan beide die neuskepe sowel as die sakkerige kakebeenlyn lig, en ‘n paar druppels vuller by die punt van my ken (wat begin om opwaarts te projekteer, iets wat gebeur met veroudering) gaan dit langer en meer vroulik gepunt laat lyk en die onderste derde van my gesig in balans bring met die middelste en boonste derdes.

Twee oulike jong mansdokters het die demonstrasie stap vir stap waargeneem, terwyl dr Van Niekerk noukeurig verduidelik wat hy doen en hoekom.

Vir die regterkant van my gesig het hy ‘n canula gebruik nadat hy eers ‘n bietjie lokale verdowing ingespuit het, en vir die linkerkant het hy die produk slegs met ‘n spuitnaald in posisie geplaas. Nie een van die metodes was pynlik nie, maar ek het ‘n baie hoë pyndrumpel, en my ydelheid is ook ‘n formidable pynstiller, moet ek bysê!

Binne minder as ‘n uur was alles afgehandel en die foto’s agterna wys duidelik hoe die kurwe van my wangbeen weer gerond en vol is, en die kepe tussen my neus- en mondhoeke is opsigtelik vlakker, terwyl die sakkies by my kakebeenlyn fermer lyk. My ken is sagter en meer gepunt en daardie goue driehoek is subtiel sigbaarder.

Kyk self na die voor- en na foto’s (ignoreer maar net die penorent kokketiel-kuif van wegvlieghaartjies!).

Processed with MOLDIV

Wat kos dit? Pryse wissel afhangend van ‘n pasiënt se behoeftes, maar die algemene koste is rondom R4000

Hoe lank hou dit? Daar is ‘n keuse van drie produkte wat van 1 tot 4 jaar kan hou. Die vuller wat vir een jaar hou, is vir my gebruik.

Waar kan jy dit laat doen? Die name en nommers van dokters wat reeds opgelei is en die prosedure aanbied, is hier in my Klein Swart Boekie te kry.

5 Comments

  1. Elsa says:

    Ek kan nie wag vir jou terugvoer nie, Mariette. Good luck! Ek is seker jy gaan wonderlik lyk. Stuur tog ‘n foto, asseblief!
    Dankie vir Karen se wenk oor die aspirien en ander medikasie. Dit is belangrik, soos ek uitgevind het met my eerste sessie van Restylane Skin Boosters, waaroor ek elders op die blog geskryf het. Ek het erg gekneus, want ek het vergeet om vir die dokter te sê ek gebruik bloedverdunners. Les geleer.

  2. Mariette says:

    Nou toe, ek gaan ook my maagdelikheid verloor en die vuller-ding probeer! Ek’t bespreek vir 10 Augustus by Dr Van Niekerk. O ja, Elsa, daar’s iets belangriks wat ons vir voornemende kandidate moet noem. Karen, Dr van Niekerk se vrou en assistent, het gewaarsku dat ek vir ten minste ‘n week voor die behandeling alle aspirien, bloedverdunningsmedikasie, Myprodol, anti-inflammatoriese middels en omega’s moet vermy. Dit help blykbaar om kneusing te voorkom.
    Wish me luck, dis ‘n groot stap, maar ek voel dis nou tyd!

  3. Elsa says:

    Ek sal vir jou uitvind Alida. Dokters word tans opgelei in die prosedure, dus sal daar binnekort ‘n dokter in Bloemfontein wees as daar nie reeds een is nie.

  4. Alida Nadel says:

    Enige dr in Bloemfontein wat dit doen?

  5. Elza Albertyn says:

    Net wat ek nodig het! En dit hou so lank – ek het ongelukkig mondplooie wat my vreeslik pla, want soos jy, is ek versot op rooi lipstiffie! Ek sal helaas nog ‘n paar tabberds moet doen voor ek geld sal hê…. Baie dankie vir so ‘n insiggewende artikel. Jy lyk ongelooflik!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *