Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

EK SPEEL MET SK.IN

Ek is altyd baie opgewonde as ons eie kosmetiek- en velkenners ‘n nuwe velsorgreeks formuleer, want dit is gewoonlike gemik op die behoeftes van Suid-Afrikaanse vroue. Dit is soveel meer effektief, dink ek, as sê nou Koreaanse produkte, wat gemik is op daardie wêrelddeel se spesifieke gehoeftes.

Daarom het ek dadelik ingestem om die nuwe produkreeks van Dr Alek Nikolic op die proef te stel. Die reeks se naam is sk.in (dit staan vir skin ingredients). Dit is ‘n reeks kragtige serums en nadat ek ‘n ‘n vorm ingevul het vir deeglike ontleding van my vel se behoeftes het hy vir my die volgende voorgeskryf met noukeurige aanwysings hoe om dit te gebruik:

  • sk.in gloss | radiant shot (30ml R1 300)

Dit is ‘n anti-oksidant om UV-strale en omgewingsbesoedeling se skade teen te werk. Asook hiperpigmentasie en intrinsieke (dis wat jou gene doen) veroudering.Ek is ‘n gereelde Vitamine C gebruiker, dus kon ek dit elke oggend en/of aand gebruik na my vel skoon gemaak is, voor enige ander serum of vogroom. As jy ‘n nuweling met Vitamine C is, moet dit geleidelik in jou velsorgprogram ingebring word, aanvanklik drie keer per week in die eerste twee weke.

  • sk.in marvel | hydro shot (30ml R1 050)

Dit gee droë, gedehidreerde vel ‘n yslike voginspuiting, versterk die boonste velwand en beskerm die vel teen omgewingsfaktore.

Ek moes dit soggens en/of saans ná reiniging gebruik ná die eerste serum en daarna vogroom aanwend.

  • sk.in flash 3 | repair shot (30ml R1 250)

Ons weet almal dat retinol die superheld van velverjonging is. Dié produk kom in drie formulerings (1,2 en 3) met verskillende konsentrasies van hydroxypinacolone retinoate (0.6%; 1%; en 2%). Ek is ‘n gereelde en toegewyde retinol gebruiker en moes dit slegs saans op ‘n skoon vel aanwend, voor enige ander van die serums. Nuwelinge met retinol moet dit stadig infaseer en met die laagste konsentrasie begin.  

Waarvan ek veral gehou het, is dat die serums soet saamspeel met enige ander produkte wat ek gebruik, maar ek moes net wegbly van produkte wat Vitamine A of retinol bevat. Ek kon enige reiniger, verfrisser, vogroom, nagroom, oogroom en sonskerm gebruik (Ja, ek gebruik dit alles!)

My ervaring:

Nou vir die interessante deel van die storie: Presies ‘n week nadat ek die produkte in my velsorgroetine begin inwerk het, het ek ‘n liederlike ongeluk gehad.

Terwyl Eskom ons weer eens in donkerte gehul het, en ek na kerse gaan soek het, het my skoen aan ‘n los mat vasgehaak en ek het soos ‘n boom neergeslaan. Ek het om middernag in die hospitaal se noodgevalle en daarna in die trauma eenheid beland met ‘n skouer wat op drie plekke gebreek is en uit die potjie geruk is en binne minute soos ‘n voetbal opgeswel het. Dit het ‘n groot operasie beteken en ‘n week op n drup in die hospitaal, met minimum beweeglikheid. Antibiotika- en pynstiller drup is nie goed vir jou vel nie, dis ‘n feit.

Ek het nietemin my man gevra om my drie serums te bring (saam met ‘n paar ander handige versorgingsprodukte waarvan ek julle in ‘n aparte plasing sal vertel). Ek het, dom linkerhand en al, my serums getrou gebruik – ofskoon dit maar sleg was om 4-uur in die oggend uit die bed gepluk te word om te gaan bad.

My vel het ondanks al die trauma, niks slaap nie en liters medikasie, nie ‘n teken van droogheid, dofheid of tamheid gewys nie.

Terug by die huis het ek die reeks tot op die laaste druppel opgebruik en ek is oortuig dat my vel se vermoë om ongeskonde en selfs stralend uit hierdie krisis te kom, grootliks te danke was aan die gebruik van bogenoemde serums. Dit het boonop meer as 6 weke gehou.

Daar is nog twee serums in die reeks, een gemik op probleemvel met aknee en swartkoppies, en een wat retinol en Vitamine C kombineer.

‘n Mens kan dit aanlyn bestel en by sekere salonne en estetiese praktyke koop. Vir meer inligting, besoek www.skiningredients.com


Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *