Sien jy skielik ‘n hele kolonie nuwe plooie floreer en aanteel in jou nek en onder jou ken?
Jou selfoon en iPad het so pas vir jou nog ‘n (duur) bykomstigheid besorg: ‘n Tech Nek.
Hier is die storie: Blameer jou slimfoon, tablet en skootrekenaar vir die ooglopende vinnige aanwas van horisontale plooie in jou nek. Dié onaansienlike, plooierige kondisie het selfs ‘n naam: Tech Neck. En dié spesifieke area van jou anatomie het ook ‘n naam gekry: Dit is die Y-sone, wat die onderste helfte van die gesig, die keel en die décolleté (hals) insluit. (Amper soos die Y-snit deur die forensiese pataloog van CSI… brrrrr.)
Dermatoloë, plastiese snydokters en estetiese dokters merk deesdae op dat vroue wat kom kla oor pap vel en plooie in die nek, al jonger word.
Hulle is die sogenaamde i-generasie, tussen 18 en 39, en besit elk gemiddeld 3 elektroniese toestelle waarna hulle konstant afwaarts bly kyk. Tot soveel keer as 150 keer per dag, volgens navorsing!
Tech Neck verwys spesifiek na die vou wat bokant die sleutelbeen onstaan as die nek herhaaldelik vorentoe en afwaarts buig om na die skerm van ‘n draagbare elektroniese toestel te kyk.
Dit ontstel vroue dat hierdie plooie ook hul gesigsuitdrukkings beïnvloed – dit is weens die verlies aan volume in die boonste deel van die gesig, die verplasing van vet na die onderste helfte, vel wat pap hang, verswakte gesigkontoere en ‘n skilpadnek. Hulle vind hul nuwe gesiguitdrukkings en voorkoms erg onaanvaarbaar.
Immer op die voorpunt van vernuwing en tegnologie, het die Franse kosmetiekreus Yves Saint Laurent navorsing deur hul Skin Science-span laat aanvra oor dié verskynsel. Die verslag daaroor is gepubliseer om saam te val met hul bekendstelling van ‘n gesig- en nekroom verlede maand in Europa wat dié toestand aanspreek. Hulle maak aanspraak daarop dat die produk die vel se fermheid ná ‘n enkele aanwending met 13% verhoog. Die YSL Forever Youth Liberator Y.Shape Crème bevat glo ‘n molekule wat die verlies aan elastisiteit in die Y-sone beveg.
(Nee, na my beste wete is die produk nog nie in SA nie, maar ek hou julle op hoogte.)
‘n Pyn in die Nek: Jou Postuur en jou Rug Ly Ook
Nie net jou voorkoms nie, maar ook jou gesondheid word deur ons verslawing aan die tegnologie en elektroniese hulpmiddels geaffekteer. ‘n Onlangse studie wat in Surgery Technology International gepubliseer is, het bevind dat volgehoue gebruik van hierdie “speelgoed” die oorsaak is van erge rugprobleme.
Dr Kenneth Hansraj, ‘n rug-chirurg en skrywer van die verslag, in opdrag van die Sweedse Hardell-groep, skryf: “Soos wat die kop vorentoe kantel (tilt), vergroot die stremming op die nek. Teen 15 grade is die gewig 12.3kg (27 pond), teen 30 grade is dit 18.2kg (40 pond), teen 45 grade is dit 20.5kg (49 pond) en teen 60 grade is dit 27.2kg (60 pond).”
Hy waarsku dat ‘n kroniese kop-onderstebo gestaar na ‘n foon- of tabletskerm die rug- en nekspiere so kan aftakel dat dit tot ‘n operasie kan lei.
Hierdie jongste pyn-in-die-nek verskynsel oor die laaste tien jaar is regstreeks te wyte aan die toename in selfoongebruik, sê hy. Dit verwoes die nekspiere. En die vel wat oor die spiere strek, word gevolglik verkreukeld en verplooid.
En dan is daar die gewraakte, gevreesde nekboggel of dowager’s hump wat ons vroue se hele postuur kan beduiwel. Dit is nie net meer die kruis van die middeljare nie – die illustrasie hierbo wys presies hoe ons elektroniese toerusting meehelp aan die vroegtydige vorming van ‘n nekboggel.
(Gelukkig is daar raad met dié onooglikheid – ek het ‘n baie slim en knap chiropraktisyn gevind wat my oortuig het die nekboggel voorkom, verhelp en plat gemaak kan word. Ek skryf eersdaags hieroor.)
Wat gemaak met die skilpadnek?
As die skade gedaan is, is daar gelukkig oppervlak-gerigte (non-invasive) behandelings wat kan help om die hardnekkige (!) los velle stywer te trek en selfs kan help om die verslapte spiere weer stywer te span, soos:
- Fraxel laser
- Radiofrekwensiebehandeling (RF)
- Hittebehandeling soos Thermage
- BTL Exilis kollageen hervul-tegnologie wat die gesig met ultrasoniese hitte-energie hermodelleer en
- Ultraklank en frekwensiegolwe soos Ulthera
Nog wenke:
- Slaap met ‘n nekrol onder jou nek, wat die nek langer laat strek en nie die velweefsel laat bondel en “kreukel” nie.
- Lig jou foon, tablet of skootrekenaar se skerm tot ooghoogte wanneer jy daarmee werk, so dikwels as jy kan.
- Voorkom enige verdere skade: Gebruik sonskerm, hou jou nek uit die son en sorg dat die fyn, droeë vel van jou nek behoorlik bevogtig is. Gebruik ‘n nekroom met retinol, glikoliese suur of peptiede wat selvernuwing aanpor.
- Probeer: Skin Republic Neck + Décolletage Repair (R45,99 elk by Edgars, Dis-Chem en Clicks). Dit benut die jongste doekmasker (cloth mask) tegnologie en is deurdrenk met kollageen, CoQ10 en Vitamine E om vog en fermheid in die vel in te pomp. Dit bevat ook moerbei- en soetwortel (liquorice) ekstrak om donker vlekke en sonskade te verbleik.
Hi daar.Ek wil eerstens dankie se vir n wonderlike nuwe ontdekking tot allerhande nuus en raad oor skoonheid.Ek is ook in my vroee 40tigs en dis skokkend hoe n mens se vel en elastieseteit verloregaan!!!!So hierdie web gaan ek verslind.
Ek sal verseker die raad oor nek probleem rondom die nek volg,dit het my in n oogwink getref.
Groete