Is jou kroon jou kruis? Is jy meestal letterlik met jou hande in die hare? Ons vroue het ‘n intense verhouding met ons hare – dit is ‘n feit. ‘n Slegte hare-dag kan jou hele gemoed opdons.
Meestal is ons nie tevrede met ons hare nie: As dit krul, wil ons steil hare hê. As dit donker is, wil ons blond wees. As dit dun is, moet dit dik wees en O wee! as dit grys word…
As Jou hare Uitval
Niks is so erg as om te sien hoe jou eens jeugdige haredos yl en dun word nie, en selfs om kaal kolle te ontdek. Dit kan verwoestend vir ‘n vrou se selfvertroue en selfbeeld wees.
Die slegte nuus is dat al meer vroue hul hare verloor, veral vanaf hul middeljare.
‘n Onlangse opname van Plus 94 Research, namens Plantur39, (‘n phyto-kaffeine sjampoe wat beskerming verleen teen haarverlies wat verband hou met menopouse) het getoon meer as ‘n derde van Suid-Afrikaanse vroue oor 30 toon tekens van voortydige haarverlies. Die opname onder 505 vroue oor die ouderdom van 30 in Johannesburg, Kaapstad en Durban toon dat 37% tekens het van ernstige haarverlies of kaal kolle. Die vroue het ook aangedui dat die haarverlies ‘n impak op hul selfvertroue en selfbeeld het en lei tot angstigheid en depressie.
Ek is geseën met ‘n dik, welige maanhaar – dit is in ons familie se gene. Maar ek het deur die jare verskriklike goed aan my hare gedoen. Die ergste was seker toe ek dit ge-“perm” het in ‘n poging om dissipline en vorm te gee aan my natuurlike wilde krulle. Dit was ‘n ongekwalifiseerde ramp: My hare het soos strooi afgebreek, ek sweer ek kon dit hoor kraak en knars as ek snags op my kussing omgedraai het. Elke haarpunt het ‘n gesplete delta geword wat met die Okavangorivier kon meeding.
Daar is omtrent nie ‘n ding wat ek nie al met my hare aangevang het nie – op universiteit moes my kamermaat dit op die strykplank glad stryk met ‘n elektriese stoomyster!
Ek het ligstrepe ingesit en tuiskleursels gebruik, eiergeel en avokado en olies en asyn en suurlemoensap daarop gepleister (as’t ware gemarineer…). Noem dit, ek het dit aangevang.
Met die wysheid van die grysheid het ek myself mettertyd voltyds in die hande van uitstekende haarstiliste begewe, en my daarby gehou.
Met die krulle probeer ek elke nou en dan vrede maak, tot dit my oorweldig en ek weer ‘n Brasiliaanse keratienbehandeling gaan kry om my hare meer hanteerbaar te maak en die kroese te tem. Ek doen dit net twee keer per jaar, want ek weet al die chemiese prosesse (ek laat ook elke twee maande ligstrepe insit om die grys en silwer te balanseer) is nie goed vir my hare nie.
Ek het nie lank terug nie ‘n interessante konsultasie gehad met die Kaapse tricholoog Trevenen Bamm, wat konsultasies in Johannesburg en in Kaapstad doen vir die Philip Kingsley haarprodukreeks.
Hy het my kopvel en hare ontleed om te sien wat die stand van sake is. Die wortel (ahem…) van die saak is jou kopvel. Haarprobleme is gewoonlik ook kopvelprobleme, sê hy. Ek wou weet of haarverlies omgekeer of gestuit kan word en of jou hare weer dik kan terug groei? Beslis, met die regte produkte en voedingstowwe, sê hy.
Nadat Trevenen my hare en kopvel letterlik onder die vergrootglas (‘n dermaskoop wat 800 keer vergroot) bekyk het, was hy baie tevrede met die algemene toestand daarvan. Daar het selfs twee of drie hare tegelyk uit enkele follikels gegroei, wat my volkome gefassineer het!
Onlangs het ek die Kérastase Densifique Hair Density Programme-reeks gekry om te toets. Die Stemoxydine behandeling (30 ampules vir R1 645) is gemik op ‘n maand se intensiewe behandeling om die hare dikker en digter te maak.
Ek het dit getrou gebruik, maar ek was te suinig om elke dag ‘n vol ampule te bebruik – ek het dit uitgerek na een elke tweede dag en sodoende twee maande se gebruik daaruit gekry.
Het dit gewerk? Kyk op die foto hierbo na al die nuwe kort hare wat so ‘n stralekrans om my kop gevorm het toe die haarstilis dit droogblaas! My poniestert is merkbaar dikker en by my paadjie lyk my hare vir my ook digter op my kopvel versprei.
Hoekom Verloor Jy Hare?
Haarverlies kan gebeur weens:
- Medikasie
- Hormone – hormoonveranderings met swangerskap of menopause
- Gene
- Siekte
- Dieet
- DHT (Dihydrotestosterone) waar dié destruktiewe androgeen vasklamp aan follikels en hare laat dunner word tot dit uitval. Dié ensiem inhibeer die produksie van hare heel aan die bokant op die kop, dus is dit die eerste plek waar jy ‘n kaal kol sal bemerk.
- Hoë koors, hoë bloeddruk en wanvoeding (malnutrition)
- Newe-effekte van sekere dwelms
- ‘n Lupusaandoening wat begin met kaal kolle
- Ouderdom – ons word gebore met ‘n sekere aantal haarfollikels. Weens kollageenverlies “dryf” die follikels van mekaar af weg en die hare vertoon yler en verder uitmekaar
- Stres. Stres veroorsaak liggaamlike aftakeling, wat jou blootstel aan siekte en dit alles wys uiteindelik in jou hare.
Wanneer ‘n tricholoog by die wortel van die kwaad uitgekom het (letterlik!) sal hy die regte behandling en gereedskap (tools) voorskryf. Dit begin met die produkte wat jy op jou hare en kopvel gebruik en dit werk hand aan hand met die regte voedingstowwe soos biotien en aminosure wat die groei van jou hare stimuleer.
Daar is minder as 5 opgeleide tricholoë in Suid-Afrika. Trevenen Bamm hou gereelde klinieke in Johannesburg by Tanaz Hair & Beauty en by verskeie salonne in Kaapstad.
‘n Konsultasie kos R500, ‘n behandeling kos R500 en opvolgbehandelings kos ook R500. Bespreek by www.philipkingsley.co.za
* Lees in die Junie uitgawe van IDEES Tydskrif (op die rak middel-Mei) my artikel oor nog produkte en rate vir haarverlies
Dit kan hormonaal wees. Laat doen bloedtoetse en kyk of daar nie ‘n wanbalans is nie.
Sekere eetafwykings soos anoroexia of bulimia kan ook die rede wees, asook ‘n tekort aan vitamines en minerale aanvullings.
Hoekom sal n meisiekind van veertien jaar se hare erg uitval
Is daar ‘n tricholoog in Kaapstad?
Is daar n tricholoog in pretoria