Klinies, Korrek En In Die Kol – Dis OBAGI

Nadat ek die organiese ESSE reeks vir ‘n raps meer as ‘n maand getoets het en baie tevrede was met die resultate, was die volgende versoeking op my tafel: Die volledige reeks

OBAGI Medical Nu-Derm Fx System.

normal-to-oily
Die volledige OBAGI Medical Nu-Derm Fx System van sewe produkte. FOTO: Verskaf

 

Die twee produkreekse kon nie méér hemelsbreed verskil nie: ESSE is gesertifiseer organies en botanies, en OBAGI is hi-tech laboratorium dermaseuties, ontwikkel deur Dr Zein Obagi, ‘n Amerikaanse dermatoloog. Dit word net deur mediese dokters (plastiese chirurge, dermatoloë en estetiese praktisyne) aangehou, voorgeskryf en verskaf.

Die doel van hierdie reeks van sewe produkte is om die verouderende vel te genees, te hernu en te transformeer.

Daar is twee stelsels: Een vir normaal-tot-droog en een vir normaal-tot-olierige veltipes. Ek het laasgenoemde op die proef gestel, al is my vel normaal-tot-droog. Die verskaffer het my verseker dat dit nie ‘n dramatiese verskil sou maak nie – daar is net twee produkte wat “sagter” is, die res is presies eenders.

Die OBAGI Medical Nu-Derm Fx System produkreeks (R4 000 vir die stel) bestaan uit

1. Foaming Gel (of Gentle Cleanser vir droë vel). Dit reinig die vel, verwyder grimering en laat die vel skoon en vars.

2. Toner. Dit herstel die vel se pH balans en berei dit voor vir verhoogde penetrasie van die aktiewe bestanddele wat daarop volg.

3. Nu-Derm Clear Fx bevat 7% arbutin, wat ‘n natuurlike hydraquinone is, asook anti-oksidante. Dit is ‘n room wat die vel ophelder en velkleur meer eweredig laat vertoon. Dit word 2x per dag gebruik, soggens en saans.

4. Exfoderm Forte (of Exfoderm vir droë vel) is ‘n velskilferaar (exfoliator) wat selvernuwing aanspoor ten einde stralender, varser vel na die gelaatsoppervlak te bring. Dit bevat alpha-hidroksiesure (glikoliese- en melksure) wat ou, dooi vel weg lig vir ‘n helder, gladder en egaliger voorkoms. Dit word net soggens gebruik.

5. Nu-Derm Blend Fx is ‘n verhelderingsroom wat arbutin en anti-oksidante bevat asof ‘n velskilferaar wat vel ligter en helderder laat lyk. Dit word slegs saans gebruik.

6. Obagi Hydrate is ‘n bevogtiger wat vel beskerm teen dehidrasie. Dit word soggens en saans gebruik.

7. Sun Shield Matte Broad Spectrum SPF50 verleen hoē beskerming teen UVB en UVA bestraling. Dit het ‘n lieflike mat afwerking. Dit word slegs bedags gebruik.

My ervaring:

Ek hou baie daarvan dat die verpakking skoon en klinies vertoon – dit pas by ‘n “dokter-reeks”.

Die feit dat elke produk duidelik gemerk is 1,2,3,4 ens en ook AM /PM maak dit maklik om die volgorde en die tyd wanneer dit gebruik moet word, reg te kry.

Aanvanklik lyk die ry van 7 produkte ietwat intimiderend en ek het gewonder of ek ooit die roetine gaan baasraak, maar dit is verbasend hoe gou ‘n mens dit gewoond raak. Gewoonlik staan ek voor al die botteltjies en buisies op my rak en wik en weeg en wonder wat ek nou volgende sal aansmeer, maar die eenvoudige stelsel van OBAGI het al die dink- of raaiwerk uit my  velsorgroetine gehaal. Dit spaar ook nogal heelwat tyd!

In die eerste twee weke wou ek ‘n paar keer tou opgooi. My vel het vir my droog en trekkerig gevoel en soms selfs asof dit prikkel, maar die verskaffer het my aangemoedig om vas te byt.

En gedorie – teen week 3 het my vel ooglopend stralender gelyk en die droogheid het verdwyn. Dit was amper asof my vel meer sebum begin produseer het, wat uiteraard die resultaat is van ‘n vel wat normaliseer. Dis altyd goeie nuus. En my man se fyn oog het dit beaam – hy het een oggend toe ons wakker word, stip na my gesig gestaar en verklaar: “Jou vel lyk soos was – dit is pragtig. Wat jy ookal mee besig is, werk.”

Geen argument nie, die produkte doen wat dit beloof.

Maar, as jy soos, ek versot is op die “feel good” aspek van ‘n produk, wat ál die sintuie betrek, gaan jy sukkel om van OBAGI te hou. Ek is dit eens met die Franse skryfster Mathilde Thomas in haar boek The French Beauty Solution dat ‘n groot deel van ‘n vrou se velsorgritueel ‘n sensuele streling en genot moet wees – die produk moet mooi lyk, lekker ruik en lekker voel. Plus dit moet werk – ons soek resultate en ons soek dit gister.

Oor die resulate van OBAGI bestaan geen twyfel nie. Soos ek reeds gesê het, die verpakking is gestroop en eenvoudig en skoon – dit pas by die aard van die produk. En ja, ek weet lieflike geure en parfuum in velsorgprodukte word bevraagteken deur die puriste omdat dit allergieë of velsensitiwiteit kan veroorsaak, maar ek hóú van ‘n room of serum wat lekker ruik!

Vir my het OBAGI na medisyne geruik en die jel-teksture was amper te klinies – maar dit is seker die punt van so ‘n produk. Vir ander mense sal dit seker nie saak maak nie (en ek stuur my stel nou aan na Daniela om ‘n tweede ervaring te kan rapporteer) maar ek wy baie tyd aan my velsorgritueel – dit moet vir my na ‘n luukse pamperlangsessie voel. Ryk en lekker, as’t ware.

Ek sou ook graag ‘n oogroom as deel van die basiese reeks wil sien. Daar is wel ‘n oogproduk in die OBAGI Elastiderm-reeks, die Elastiderm Eye Complete Complex Serum, wat ek ook probeer het en ek  het baie daarvan gehou – dit kan glo met gereelde gebruik ‘n pap, crêpe-agtige boonste ooglid lig en aansienlik fermer maak!

My gunstelingproduk: Die Foaming Gel het wonderlik gewerk saam met my Clarisonic-borsel en ek het besonder baie gehou van die Sun Shield Matte Broad Spectrum SPF50 wat my vel mat en fluweelagtig laat lyk het.

Punte uit 10: 10/10 vir effektiwiteit en maklike gebruik. 5/10 vir pamperlang en plesier.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published.