Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Lewenskrag en -Versekering vir jou Hare

IMG_3628

Wie van ons is nie skuldig aan uiterste haarmoord en-marteling nie?

Dink net: Ons kleur en krul en kartel, bleik, tint en streep, ontkrul, ontkleur en ontdek allerlei tegnieke en toerusting om ons hare mee te treiter. Ons blaker en bestook dit met warm lug en ons stryk dit glad met rooiwarm ysters, want dit kan mos nie pyn voel en teenpraat nie.

Ja wel, tot eendag…

Ek het sterk, dik hare. Maar ek weet dit betaal die prys vir al die chemiese prosesse waaraan ek dit gereeld blootstel: Brasiliaanse keratienbehandelings om dit reguit te maak, highlights en lowlights om die grys, blond en silwer en wat ookal op my kop aangaan, bymekaar te bring, pers sjampoe om geel weg te bleik, nuwe haarprodukte op die mark wat gereeld getoets moet word…

Toe Michael Conlin van Pure Hair my dus nooi om die nuwe Olaplex haarbehandeling wat die wêreld in vervoering het, te kom beproef, het ek nie op my laat wag nie. My mishandelde hare verdien ‘n bietjie liefde, sorg en slim wetenskap.

Olaplex is die enigste produk in die wêreld wat (tot dusver) wetenskaplik bewys het dit kan beskadigde hare herstel tot ‘n lewenskragtige, gesonde kondisie. Daar is 8 patente hangende op die formule en ander maatskappye sal ongetwyfeld mettertyd in hul voetspore volg. Van die bestanddele wat ek kon eien is Vitamines A, C, E en soet amandelolie, maar dis allesbehalwe so eenvoudig – die formule is ingewikkeld en uniek, nagevors vir resultate op meer as 20 000 mense.

Dit werk so: Alle chemiese prosesse [kleur, karteling (perms), keratienbehandeling om krul te verwyder, asook hittestilering] breek die di-sulfaat ketting in hare in wisselende grade. Hulle word dan enkel swawel-hidrogeen skakels. Olaplex soek en vind hierdie weeskinders en kruisbind hulle weer stewig bymekaar voordat hulle met suurstof kan verbind en die proteine uit die hare weggevreet word, wat veroorsaak dat dit breek en splyt. Die produk penetreer die haarskag en werk intern, in teenstelling met bestaande behandelings en opknappers wat buitewendig en op die oppervlak werk.

Die beste hiervan is dat die produk geskik is vir alle haartipes en -teksture en dit werk vir alle prosesse waaraan jy jou hare al blootgestel het – of beplan om te doen. Dit kan gekombineer word met enige chemiese salonproses deur dit met byvoorbeeld jou haarkleursel te meng ten einde jou hare te beskerm en dit pragtig blink en in goeie kondisie te hou. Jy neem as’t ware versekering vir jou hare se gesondheid uit.

Ek het die Olaplex Bond Strengthening Professional Service gehad. Dit werk soos ‘n Begin-van-Vooraf (Re-set) knoppie vir jou hare om die sterkte, struktuur en integriteit van jou hare te herbou voor dit weer enige chemiese prosesse ondergaan. (Dit kan ook op hare wat nog nooit chemiese blootstelling gehad het nie, gebruik word om die kondisie ‘n fantastiese hupstoot te gee).

Die proses duur sowat ‘n halfuur en kos R350 op sy eie, of R150 ekstra as jy dit saam met of as deel van ‘n chemiese proses doen.

Ek is huistoe met Olaplex 3 Hair Perfector, wat ek een maal per week moet gebruik om die goeie werk van die salonbehandeling te handhaaf.

Vir die kreatiewe, wilde haarstileerders van Hollywood en die modebedryf is hierdie behandeling ‘n geskenk van die gode. Nou kan hulle ‘n model of ster se hare enige kleur onder die son maak, sonder dat dit die hare verniel.

Of jy die behandeling moet volhou anders verloor jou hare die voordele van die herstel? Nee – selfs as jy ophou, is die herstel en beskerming van die hare waarop Olaplex gebruik is, permanent.

My hare voel soepel en sysag na die behandeling. Kyk maar self op die foto hoe blink dit!

IMG_3626

5 Comments

  1. Elsa says:

    Hallo Bets. Die beste is om na hul webtuiste te gaan http://www.olaplex.co.za/ en by Contact Us te vra waar die salon naaste aan jou is. Daar sal sonder twyfel ‘n paar wees in die Garsfontein, Menlin omgewing. Ek hoop dit help?

  2. Bets van Vuuren says:

    Waar is naaste konsutant of verskaffer? Ek is in Pretoria Oos, Garsfontein
    Dankie

  3. Amanda says:

    Ek gebruik al Olaplex vir twee weke in my salon.My kliente is so gelukkig.Dit is my nuwe tool.Mal daaroor.

  4. Elsa says:

    Dit is glo veral fantasties vir vroue wat die sprong na grys of silwer wil maak, Elize. Bly om te hoor dit werk so goed vir jou!

  5. Elize says:

    Het dit beproef-ek probeer grys gaan na jare se kleur….fantasties!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *