MY SKOONHEIDSJOERNAAL: DAGBOEK VAN ‘N SKOONHEIDSLAAF

Met al die vakansiedae is die April-dagboek gewoonlik nie baie besig nie, maar hierdie jaar het dit heelwat nuwighede en opwinding opgelewer, met bestanddele uit die natuur as ‘n inspirasie en ‘n toonaangewende trend.

Inspirasie uit Moeder Natuur is ‘n sterk tema vir jou vel, jou gesondheid en jou omgewing. Foto: Crabtree & Evelyn

APRIL

WEEK 1

Avène

Dié gesogte en betroubare Franse apteek-reeks het twee nuwe produkte in hul D-Pigment reeks.

Avène D-Pigment Serum (R399,95) verhelder die vel, takel donker vlekke en kalmeer die vel.

Avène Dark Spot Corrector (R369) word direk op probleemvlekke aangewend om dit mettertyd te verbleik.

Ek hou van Avène. Dit is ‘n produk wat die kragte van Moeder Natuur inspan om die vel sagkens te versorg en herstel. Die ster-produk is natuurlik die Eau Thermale Spring Water wat in elk produk vervat is.

Van die produkte het ‘n Nappi-kode: jou dermatoloog kan dit voorskryf en die mediese fonds sal daarvoor betaal.

Optiphi

Hierdie innoverende, eg Suid-Afrikaanse dermaseutiese reeks gaan van krag tot krag. Jy vind dit by estetiese dokters en dermatoloë se spreekkamers en binnekort ook in Duitsland, nadat die puntenerige Duitse owerhede dit die groen lig gegee het.

Hulle stel drie nuwe produkte bekend:

  • Multifunctional Serum  wat hoë molekulêre HA bevat en genesing na prosedures soos mikronaaldrolling en ander prosedures bespoedig
  • Multipeptides Serum wat in salonne ingespan word vir verlies aan volume en fermheid. Peptiedes is natuurlike dié bestanddeel wat help vir verlies aan elastisiteit.
  • Classic Clarity Serum Formula+ (R545) gee aknee en onsuiwerhede geen kans nie. Dit bevat onder meer salisielsuur wat die porieë diep binnedring en skoonmaak. Dit kalmeer rooiheid en por die vel aan om homself voortdurend te hernu.

Die opwindendste nuus wat Optihi met my gedeel het, is hul nuwe verbintenis met die DNAnalysis biotegnologie laboratorium. Aan die hand van DNA analise kan hul terapeute nou vir ‘n kliënt presies sê wat haar velsorgbehoeftes is, soos deur haar DNA bepaal word.

Ek was dadelik slaggereed om my DNA te laat ontleed, en nie net vir my vel nie, maar ook vir my gesondheid en dieet. Ek het pas my verslag ontvang en dit was baie insiggewend. Meer daaroor later in ‘n afsonderlike blog oor al die nuwe tegnolgie en prosedures wat ek onlangs ervaar het.

Elizabeth Arden Flawless Finish Everyday Perfection Bouncy Makeup (R485)

Hierdie nuwe onderlaag is veeldoelig om die vel vlekkeloos te laat vertoon en dit boonop op te kikker en nuwe vitaliteit te verleen met bestanddele soos peperment, ginseng en kaffeine wat die vel letterlik wakker maak en ‘n energie inspuiting gee.

Die bonserige tekstuur (‘n hibried van poeier en room in ‘n jelformaat) van die onderlaag maak dit pret om aan te wend. Die verpakking is ook ideaal vir reis. Dit is in 14 skakerings beskikbaar.

WEEK 2

Sisley Skin Analysis -skandering

Dié gesogte Franse kosmetiekhuis span innoverende tegnologie in om te sien wat die oog nie sien nie, wat jou vel betref. Hoe dikwels kom ‘n mens by ‘n kosmetiektoonbank waar die assistant nie ‘n benul het waarvan sy praat nie, wat jou vel se behoeftes is nie en tog ‘n sak vol produkte aan jou verkoop waaroor jy berou het nog voor jy by die winkel uitstap?

‘n Noukeurige vel-analise skakel die toonbankprobleme uit en verbeter die klant se ervaring. Sisley het nou die Aram HUVIS skandeerder beskikbaar by al hul Edgars toonbanke. Die vel word op 7 vlakke op sellulêre vlak getoets en gemeet, waaronder hidrasie/elastisiteit; sebum; aknee (onsigbare kongestie) en swartkoppies; porieë grootte en veltekstuur; melanien – pigmentasie areas, selfs dit wat diep in die dermis vir die oog onsigbaar is; diepte en erns van plooie; hemoglobien/sensitiwiteit – gebreekte aartjies.

Ek was verstom om te hoor (en te sien) hoeveel kongestie diep in die dermis deur die skandeerder opgetel is en ek is huistoe met ‘n afdruk van die analise wat my taamlik beteuterd gelaat het oor hoeveel skade my vel weens die son opgedoen het.

Die toetse word gradeer as goed, sorg benodig, en intensiewe sorg nodig. Dit help vir korrekte produkaanbevelings en versterk die klant se vertroue.

Ek is daar weg met die fabelagtige, kosbare Sisley Back Rose Skin Infusion Oil (R2 195) styf onder my blad vasgeklem.

Kérastase Aura Botanica

‘n Opwindende sewestuks haarsorgreeks van Kérastase is gemik op liefderyke versorging en herstel van lewelose, dowwe hare wat te veel prosesse beleef het. Dit is volgeprop met verskeie olies en neutekstrakte om die hare te voed, kroeserigheid te voorkom en intense glans te verleen. Die bestanddele is 97-99% natuurlik. Dit kan slegs by salonne of aanlyn gekoop word by HairNetwork.co.za

Pryse wissel van R325-R405

Lancôme Studio

Die eerste Lancôme-ateljee in Suid-Afrika is in Sandton City geopen. Jy kan jou daar vergryp aan ‘n eg Franse uitstalling van parfuum, grimering en velsorgprodukte.

Eucerin

Aknee is ‘n aakligheid wat nie noodwendig die wyk neem ná ons tienerjare nie. Dit is ‘n wydverspreide probleem wat letsels laat, nie net op die vel nie, maar ook op ‘n akneelyer se psige. Net in Suid-Afrika alleen is daar 13 400 internet-soektogte per maand oor aknee. Dit is die een velaandoening wat reg wanneer dit kop uitsteek, met mag en mening uitgeroei moet word. Eucerin het nou hul DermoPURIFYER Skin Renewal Treatment reeks verbeter met nuwe, gevorderde bestanddele en twee nuwe produkte bygevoeg om irritasie te verminder, rooiheid te kalmeer en die vel te bevogtig.

  • DermoPURIFYER Oil Control Skin Renewal Treatment (R199,99)is ‘n oornagbehandeling wat die vel se voorkoms verbeter en olierigheid beheer, donker post-aknee letsels ligter maak en vergrote porieë reinig en kleiner laat vertoon, terwyl dit ook aktief werk om onsuiwerhede op te klaar.
  • DermoPURIFYER Oil Control Micellar Water (R229,99) reiniger lig onsuiwerhede sagkens en doeltreffend van die vel en is veral geskik om inflammasie af te koel.

WEEK 3

Genop se Dermapen 4

Teen hierdie tyd weet almal al dat die vel soms aangepor moet word om sy hernuwingswerk te doen. Mikronaaldrolling is een van die prosedures wat ‘n laks vel aanspoor om kollageen en elastien te produseer. Dit help ook om letselweefsel en merke te laat hernu. Die oorspronklike instrument, ‘n velroller met mikronaaldjies het intussen ontpop in ‘n pen met naaldjies wat die vel teen ‘n 90 grade hoek penetreer en eweredige verpreiding van die mikrogaatjies op die veloppervlak verseker. Dit kan ook oral op die gesig en lyf gebruik word. Die nuwe variasie, die Dermapen 4, is nou ten volle gedigitaliseer en outomaties en kan 1 920 perforasies in ‘n sekonde maak. Dit neem net 3-4 minute om die hele gesig te behandel. Dit het verskeie stellings en sluit een in vir die behandeling van littekens, selfs van keloide-weefsel. Ander velprobleme waarmee groot sukses behaal word, is melasma, aknee, roseacea, spinnekopweb-aartjies, post-aknee letsels, haarverlies en selfs gesigontrimpeling met behandeling op die kopvel, wat die gesig letterlik optrek. Ek het klaar my naam neergesit vir ‘n toetslopie!

OPI Nail Lacquer

Dis nou om van opgewonde te word: OPI het, naas ‘n hele rits nuwe naelkleure, opwindende nuwe produkte bekend gestel om mishandelde hande en naels terug te troetel na sierade. Hul bekende OPI Nail Envy is nou in kleure soos Bubble Bath beskikbaar, wat beteken dit versterk die naels en verleen terselfdertyd kleur. Die OPI ProSpa reeks van 14 produkte bevat Age Serum vir ouderdomsvlekke op die hande en is ‘n weelde om te ervaar. Die grootste naellaktrend is chroomeffek naels in al die kleure van die reënboog – dit moet volgens ‘n bepaalde tegniek in ‘n salon gedoen word. 

IDEES verjaar

In die middel van ‘n besige week het ek gou Kaapstad toe gevlieg vir ons tydskrif, IDEES, se eerste verjaardag as ‘n onafhanklike publikasie, paslik gevier by Simondium Country Lodge.

Dit was omtrent  ‘n stylvolle dinee waar ‘n aantal lesers kom saamkuier het en die sjampanje het omtrent gevloei oor die mooi nuwe baba wat so flink groei.

SkinCeuticals

Reguit van die OR Tambo lughawe af is ek na die nuwe Skinderm Clinic in Rivonia waar Christelle de Wit, opleidingsbestuurder van SkinCeuticals, vir my gewag het om die nuwe SkinCeuticals Glycolic 10 Renew Overnight (R1 528) vir my te wys en ‘n pigment-balanserende velskilfering op my gesig te doen. My gesig was al dikwels onder haar ervare hande en daarom was ek nie bekommerd dat die skilfering te drasties sal wees nie. Kragtige verhelderende en anti-inflammatoriese bestanddele word met ‘n velskilferingsuur gebruik om selvernuwing te versnel en hiperpigmentasie te verminder. My vel was sigbaar meer helder en stralend (dit wil gedoen wees na ‘n laat nag van groot jolifikasie in die Kaap!) en ek is daar uit met produkte om die effek van die behandeling tuis te onderhou en ‘n streng vermaning om elke dag SkinCeuticals Physical Fusion UV Defense SPF50 te gebruik, omdat ‘n mens se vel baie vatbaar is vir sonskade ná so ‘n skilferbehandeling. 

WEEK 4

Coverderm

Saam met die viering van hul 20ste jaar in Suid-Afrika, stel Coverderm ook ‘n nuwe generasie sonskerm bekend. Die Filteray Face Plus 50+ sonskerm bied voldag volspektrum beskerming met slegs een aanwending.

Volspektrum sluit in UVA, UVB, sigbare Infrarooi asook blouligbestraling in.

Blouligbestraling kom van elektroniese toerusting soos slimfone, rekenaars, tablet- en LCD-skerms en kan tot in die dermis penetreer en die DNA beskadig. Dit is 100% waterbestand en sal nie verswak as jy swem of sweet nie.

Crabtree & Evelyn

Net betyds vir Moedersdag (of sommer enige ander dag wanneer jy iets lekkers verdien) kom dié lieflike Britse handelsnaam met twee nuwe reekse om jou huis en jou lyf lekker te laat ruik.

Everyday Nature’s Care se twee nuwe geure vir lyf- en badsorg is Lavender and Espresso om te kalmeer en te streel en Rosewater and Pink Peppercorn om te hidreer.

The Modern British Home laat jou huis lekker ruik en verleen atmosfeer aan elke vertrek, van die ingangsportaal tot die kombuis, slaapkamer, studeerkamer en badkamer, met geure soos Seaside Vibes, Wanderlust Dream, Home Comforts, Curiosity Corner, City Zen, Supper Club en Warm &Welcome.

 

Cowshed

Hierdie nuweling in Suid-Afrika is reeds ‘n gesogte produk in tophotels en spa’s wêreldwyd. Dit is letterlik in ‘n koeistal op die Britse platteland gebore. Die produkte bevat ‘n wye verskeidenheid van plantekstrakte en suiwer essensiële olies met tasbare terapeutiese voordele om die liggaam, gees en gemoed te streel. Die reeks sluit in produkte vir jou lyf, jou huis, ma en baba (Baby Cow), gesigsorg en mansprodukte.

Die name is groot pret, en die bestanddele so gemeng dat dit jou luim aanspreek.

Gedaan, moeg en omgekrap? Knackered Cow met laventel en eucalyptus-olie sal jou bui lig; Skuins befoeterd? Probeer Moody Cow met malva en frankincense-olies. Romanties en lus vir liefde? Horny Cow met roosolie, vanielje en sandelhout sal die ding doen. Lus vir niks? Lazy Cow met kamille en jasmyn sal jou rustig laat voel. Sommer net dik in die lyf? Slender Cow staan gereed. En so gaan dit aan. Die mansreeks se naam is, heel gepas, Bullocks. My man is mal oor die 2-in-1 Cleansing Shampoo & Conditioner wat pomelo en salie bevat.

Ek is gek oor die reeks, en dit maak ‘n prettige en welkom geskenk vir enigeen.

Cowshed is beskikbaar in uitgesoekte spas’s of aanlyn hier.

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *