‘n Posh Ervaring
Net voor die Desembervakansie het ek ‘n heerlike gesigbehandeling plus ‘n Shellac manikuur en pedikuur by Posh Nail & Beauty, ‘n stylvolle, intieme klein salon in Illovo, Johannesburg, gehad.
Die chic boetiek-salon (elegant met Ralph Lauren muurpapier versier) behoort aan Emma Pike en haar klem val op ‘n persoonlike aanslag en aandag. Emma het oorsee vir Gucci sowel as Cartier gewerk en sy verstaan wat persoonlike, eksklusiewe aandag behels.
Ek het ‘n besonderse QMS gesigbehandeling gehad. Die QMS Medicosmetics Collagen Rejuvenation Facial (60 minute R830) is ‘n intense teenverouderingsbehandeling.
Dit sluit in ‘n dubbele reinigingsproses, ‘n ligte ensiem-skilfering en twee maskers na mekaar. Die eerste is ‘n kalmerende, koel rubber seewier-masker wat op die gesig set en dan afgelig word, gevolg deur ‘n “gips” masker, aangewend oor stroke gaas wat die gesig bedek. Dit verhit op die vel en raak dan hard soos ‘n regte gipsvorm. Hierdie proses dryf al die aktiewe bestanddele wat in die behandeling gebruik word, dieper in die vel in.
Ná die behandeling het my vel het so vars gelyk asof ek pas van vakansie af terug gekom het, pleks van op die punt om te vertrek.
Naas QMS se produk- en behandelingsreeks, bied die salon ook behandelings en produkte aan van Dermalogica, RegimA, CND Shellac, CND Vinylux, Crisnail, EOS, BeautyFix, Gel Revolution, la-tweez, Eye Slices, VI Peel, Ellipse IPL, OPI en The Tan Lab.
Kyk gerus op hul webtuiste na die verskeidenheid van dienste en behandelings wat hulle aanbied.
As jy vir ‘n intieme, persoonlike, knus, pamperlang-ervaring in Johannesburg soek, beveel ek Posh sterk aan!
Posh Nail & Beauty, Post Office Centre, Illovo. 011 268 0443
My Innerlike Godin Vind ‘n Tuiste
Soms het ‘n mens iets meer (en selfs báie meer) hulp nodig as goeie produkte en gereelde gesigbehandelings by ‘n talentvolle terapeut en ‘n goeie salon.
Dis waar gevorderde tegnologie en toerusting inkom. As dit dan boonop gekombineer word met ‘n terapeut wat haar storie ken en ‘n salon-omgewing waar jy oombliklik welkom en gemaklik voel, het jy ‘n wenner beet.
Dit is hoe my innerlike godin tuisgekom het by The Goddess Factor Advanced Aesthetics in Carlswald, Midrand.
Dit is die breinkind van Lynnmari Kastner en dit is ‘n unieke plek in die sin dat dit nie ‘n kliniek is nie, en nie ‘n salon nie – dit bied jou as’t ware die beste van beide. Dit konsentreer op teenveroudering, kontoering en glamour (Jammer, daar is net nie ‘n Afrikaanse woord soos glamour nie!)
Teenveroudering en kontoering: In terme van tegnologie bied The Goddess Factor met die hoogs bekwame en gekwalifiseerde terapeut Megan Byleveldt aan die stuur, teenverouderingsbehandeling met die Spaanse maatskappy Cocoon Medical se gesofistikeerde Safyre Radio Frequency behandelings, wat kollageen en elastien stimuleer om die vel te lig, styf te trek en fermer te maak. Dit is ook effektief vir die behandeling van selluliet. Vir die beste resultate moet ‘n mens 6-12 sessies hê, een maal per week vir jou gesig en twee maal per week vir jou lyf.
Ek het dié behandeling gehad vir my hals en décolleté, want Lynnmari wou dit nie op my gesig gebruik nie, aangesien ek ‘n paar weke vantevore ‘n Rejuvapen behandeling gehad het, waardeur hialuroonsuur (HA) in my dieper vel-lae neergelê is. Omdat HA soos ‘n vuller werk om die vel op te plomp, wou sy nie so gou ná so ‘n prosedure met radiofrekwensie op my gesig werk nie. Dus het ons besluit om my halslyn fermer en crêpe-agtige “cleavage” mooi te maak vir ‘n skouerlose rok wat ek na ‘n komende troue in Australië wou dra.
Ek het nie gedink dit is moontlik om die voorkoms van my sonbeskadigde decollete dramaties te verbeter nie, maar ná een sessie met die Safyre was ek bekeer: Die volgende oggend het my hals- en boesemlyn soveel gladder en plomper gelyk, en daar was nie ‘n beduidenis van crêpe-agtige vel nie. Kortom, dit het hierdie moeilike area beslis jeugdiger en fermer laat lyk en die veltekstuur ooglopend verbeter.
Ek het ook twee sessies met die Cooltech/Fat Freeze masjien vir liggaamskontoering gehad. Die eerste sessie aan die binnekant van my bobene, en die tweede om die Anakonda wat homself om my maag en ribbes kom tuismaak het, vrieskoud en onwelkom te laat voel.
Ek kon nie ‘n groot verskil na net een sessie aan my bobene sien nie, maar minstens 3 behandelings (een elke 4-6 weke) word aanbeveel hiervoor. Die binnedye word algemeen beskou as ‘n probleemarea om kleiner en fermer te kry.
Die sessie op my maag en bokant my naeltjie het egter wel sigbare resultate gelewer – ek kon binne twee weke weer my ribbes met my vingers begin voel. Die anakonda was besig om die wyk te neem. Ek gaan beslis binnekort nog ‘n sessie vir hierdie area inpas.
Glamour: Wimperverlengings, wenkbrou-mikrovulling (micro-blading), elektrolise vir haarverwydering, medi-pedkure en luukse manikure is alles op die spyskaart wat jy hier kan bestudeer.
The Goddess Factor Advanced Aesthetics is gerieflik geleë vir kliënte wat in Johannesburg of Pretoria woon. 120 Springfield Road, Carlswald, Midrand. 011 702 1625
Ek wil harde hare onder my ken permanent verwyder. Daar is heelwat hare. Ek woon in Limpop en kan nie gereeld ry nie, dit moet asb op een dag gedoen word.
Min of meer wat is die koste asseblief.
Selfoon vir whattsapp of sms 0832918808