PAS IN: Onbeskaamd Luuks en Duur

Party van die nuutse velsorgprodukte is so luuks en duur dat dit die prys van ‘n oorsese vliegkaartjie ewenaar, maar danksy die kranklike Rand se wisselkoers-krampe is dit nie aldag ‘n opsie nie.

Dan droom ‘n mens maar van die jongste wonderrome, serums en mooimaakgoed wat die bekommernis-plooie straks bietjie minder en ligter kan maak en laat lyk…

LA MER genaissance_22475 copy 2

La Mer Genaissance 30ml R6 900

Hierdie serum is die laaste woord in weelde. Dit is ontwerp om die vel terug te bring na sy genesis – die oorsprong, waar alles begin het, toe jou vel nog jonk was. Ons is konstant blootgestel aan eksterne stressors wat ons energie dreineer en ons vel verouder. Dit sluit ook in alledaagse meganiese stres – ons frons, trek ons oë op skrefies, glimlag, grynslag… dit beteken ons vel vou en ontvou die hele tyd en later word die gereelde voue plooie. Hierdie moë voue moet herstel word met nuwe energie; daarsonder raak vel pap en wange raak hol en plat, velkleur raak dof en tam, porieë vergroot en veltekstuur raak grof en onegalig, alles die resultaat van ons vel se onvermoë of verminderde krag om vanself te hernu en energie te herwin.

Die hart van die Genaissance de La Mer is Crystal Miracle Broth, die suiwerste, mees gekonsentreerde vorm van die beroemde La Mer Miracle Broth, waarop die la Mer-produkte gebaseer is. Die wonderkristalle is per ongeluk ontdek toe ‘n laboratorium-assistant ‘n spatula oornag in die Miracle Broth vergeet en die volgende dag ontdek het dat kristalle op die spatula begin groei het. Die kristalle is ontleed en dis bevind dat hulle volkome suiwer en hoogs gekonsentreerd en kragtig helend is. Daarvandaan het nuwe navorsing vyf jaar lank gefokus op die formulering van die nuwe serum om die “hergeboorte” van vel moontlik te maak. Volgens La Mer sal jy binne twee weke sien en ervaar dat jou vel nuut, stralend en sterker is.

CHANEL Sublimage La Creme copy 2

CHANEL Sublimage La Crème 50ml R4 950

Chanel se gesogte Sublimage gesigroom is vanjaar tien jaar oud en om dit te vier, kry sy twee susters by met verskillende teksture: Sublimage La Crème Texture Fine is so lig en vars soos sy-satyn; Sublimage La Crème (die bestaande een) is ryk en omhul die vel soos sy-jerseystof; Sublimage La Crème Texture Suprême is super-ryk en liefkoos die vel soos ‘n sy-fluweel stola.

Die formule se geheim lê in die navorsing na “lewensfaktore”, die sellulêre boodskappers wat nodig is om die vel behoorlik te laat funksioneer en hernu. Dit bevat ‘n rare en spesiaal gekweekte vanielje-orgidee van Madagaskar met merkwaardige hernuwingsvermoëns vir die vel.

ERICSON LAB DNA VITAL  copy

Ericson Laboratoire DNA Vital Cryo-Lifting Firming Skin Care 50ml R2 000

Die wetenskap ontgin voortdurend nuwe metodes om onsterflikheid te bewimpel, en een daarvan is Krio-tegnologie, wat in eenvoudige terme beteken dat weefsel of selle (of mense!) gevries word om langslewendheid (of herlewing!) te verseker of bewerkstellig. Hierdie produk benut dié wetenskap en bevat krio-bakterieë van Antarktika met hernuwende, bio-beskermende eienskappe. Dit is ‘n room wat die vel lig en herstruktureer en bevat gletserwater en Arktiese wolkbessies wat mikro-sirkulasie en kollageenvorming aanmoedig en skadelike vrye radikale beveg.

BABOR ultimate_A16_Booster Concentrate_300 copy

DOCTOR BABOR DERMA CELLULAR Ultimate A16 Booster Concentrate 30ml R1 800

As jy die “reboot” knoppie vir jou vel wil druk, is hierdie produk nommerpas. Die geheim is Retinew A16, ‘n aktiewe bestanddeel wat 16 keer meer gekonsentreer is as Vitamine A – en ons weet almal (hopelik) teen die tyd dat Vitamine A of retinol die onbetwiste magiese verjongingswonder is. BABOR benut die sade van die motboon, wat reeds vir tweeduisend jaar in Indië ingespan word vir helende regenerasie, as die wonderbestanddeel in hierdie formule. Dit aktiveer die vel se groeifaktore en stimuleer fibroblaste, wat kollageenvorming aanmoedig.

CLINIQUE Sculptwear+Serum_+50+ml_+INTL_+Icon+ShotClinique Sculptwear Lift and Contour Serum for Face and Neck 30ml R725

Ek is openlik partydig vir Clinique. Dit is ‘n produk wat byna sonder uitsondering lewer wat dit belowe en tred hou met die jongste navorsing en die veranderende, toenemende eise wat aan die moderne vrou gestel word, om aan haar behoeftes te voldoen. Verlies aan fermheid is een van die grootste kopsere van verouderende vel. Dié nuwe serum teiken drie gesig-sones: Die wange, kakebeenlyn en nek. Dit verferm, lig en vorm die wange vir sterker kontoere; trek die kakebeenlyn styf en verminder lyne en plooie in die nek. Clinique sê dat ‘n mens binne vier weke ‘n sigbare verskil sal sien. Klink na ‘n wenner, in my boek!

Vir die Mooi

TOM FORD EYE+COLOR+QUAD_Titanium+Smoke_hi_res copy

TOM FORD Beauty Eye Quads R895

Die weergalose Mr Ford met sy fyn oog vir perfeksie het ‘n glamorous grimeerreeks geskep wat ook in Suid-Afrika bekend gestel is. Soos alles wat hy doen, is dit luuks en perfek. Die wenproduk is die oogskadu-palette (10 verskillendes) met vier skakerings en verskillende teksture, van mat tot glinsterend. Dit is baie ryk aan kleurpigment en ‘n mens het bitter min nodig om ‘n pragtige effek te verkry, van natuurlik tot dramaties en sensueel. Ek is ook mal oor sy lipstif-reeks.

 CHANEL NAILS copy

CHANEL Le Duo Vernis Longue Tenue R365

Jel-naellak het ‘n lang lewe en dit bly blink en mooi. Maar dit is ‘n hele gedoente om dit te laat aanverf en weer te verwyder sonder enige skade aan die naels self. Chanel het ‘n slim nuwe formule van hul Le Vernis-reeks met ‘n jel-bolaag wat glo 6 dae of langer sal hou. Kyk hoe mooi!

 

2 Replies to “PAS IN: Onbeskaamd Luuks en Duur”

  1. Beslis een van die bekostigbares en aangesien jy dit so hoog aanskryf, het ek dit gekoop.

Leave a Reply

Your email address will not be published.