Pas IN: Mooi Maskara

Lancôme Grandiôse Wide-Angle Fan Effect Mascara (R399)

Maskara is beslis die een mooimaakproduk waarsonder ek nie op ‘n verlate eiland wil wees nie, al het ek net ‘n kokosneut en ‘n kraai vir geselskap.

Maar hoe kan ‘n maskara beeldskoon wees? Glo my hierdie een is! Lancôme se nuwe Grandiôse Mascara (R399) is loshande die mooiste produk in my maskara-mandjie. Jaaaa, ek het ‘n mandjievol – een vir onderste, fyn wimpers, ‘n traanbestande een vir die dae dat my sprinkel-stelsel nie onder beheer is nie, ‘n bruine, ‘n paar swartes, groot besem-borsels, fyn kam-borsels vir klonte enne… ag, ek dink julle kry die prentjie!

Nietemin, hierdie maskara is ‘n pragstuk, van die swaan- nek tot die ongewone, gebuigde borsel met sy kurwe wat verseker dat elke enkele wimperhaartjie dig met die diepste kleur bedek en boontoe gekrul word. Die borsel is spesiaal ontwerp om ewe behendig van links of regs af te werk. Hoeveel keer het ek al my neus met maskara besmeer as ek van regs af my linkeroog probeer grimeer?

Onthou net een ding:  Werk vinnig en moenie toelaat dat die maskara droog word tussen lae nie – die idee is dat dit blitsvinnig jou wimpers lank, dig en donker maak want die borsel is gevorm om die hele wimper met een haal te bedek. Twee of drie langsame lae gaan beslis klonterig lyk, en dan is dit jou skuld, want die produk is nie daarvoor ontwerp nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published.