Reistas Staatmakers

Wat vat jy en wat los jy?

Elke keer as ek oorsee reis, neem dit my omtrent ‘n dag van wik en weeg en meng en pas om die regte klere te kies. Nog moeiliker is dit om my kosmetieksakkie agtermekaar te kry. Jy sou sweer daar is nie apteke of afdelingswinkels by my bestemming nie, want ek wil iets vir elke gebeurlikheid inpak. Sê nou net my vel raak rooi en droog? Of vlugvoosheid veroorsaak ‘n ontydige uitslag, puisie of iets?

travel-collage

Voeg daarby dat ‘n sak botteltjies, buisies en potjies nogal taamlik swaar kan wees, en ‘n mens wil graag so lig moontlik reis. Dan begin ek nog nie eens met die grimeersakkie nie…

Ek probeer dus altyd sover moontlik veeldoelige produkte, oftewel multi-taskers, inpak.

Ek was twee weke gelede in Sydney, Australië, vir ‘n familietroue. Dis ‘n baie lang en vermoeiende vlug (JHB-Perth-Sydney) en niks verrinneweer jou vel erger as daardie droë lug in ‘n vliegtuig se binneruim vir ure aaneen nie. Boonop slaap ek sleg op ‘n vliegtuig, en die tamheid en vermoeienis laat duidelike spore op ‘n mens se gelaat.

waterproof-cosmetic-font-b-bag-b-font-large-women-font-b-travel-b-font-toiletry-font-copyMy toiletsak (ek gebruik een met drie of vier afsonderlike kompartemente, wat ek kan oprol en aan sy eie hangertjie ophang in ‘n hotelbadkamer (omdat daar dikwels nie genoeg toonbankruimte is om jou velsorgprodukte behoorlik te kan uitpak nie) het gewoonlik die volgende miniatuur- (sample sizes) of spesiale reisgrootte velsorgprodukte in:

  • Micellar water vir reiniging saans. Bioderma Sensibio H2O bly my gunsteling.
  • Skuimreiniger vir soggens want ek hou daarvan om my gesig met water te was.
  • Serums (Vit A, C, resveratrol en hialuroniese suur)
  • Dag- en nagrome (die dagroom bevat ook sommer ‘n SPF20 om dubbeldiens te doen)
  • Oogroom of -jel
  • Vel-olie
  • ‘n Vogmasker om die vel op te kikker

‘n Nuwe Vonds

myrhu-serum

Net voor my vertrek het ‘n 50ml MYHRU HIGH!Serum Intensive Vitamin Oil (R680) op my tafel beland.

Die bottel is groter as wat ek normaalweg saamneem wanneer ek reis, maar toe ek kyk na wat dit alles bevat, het ek besluit om dit in te pak en te kyk hoe dit onder moeilike omstandighede met my vel akkordeer.

Wat my aandag getrek het, is dat dit ‘n gekonsentreerde mengsel is van suiwer, duur olies. (Teen dié tyd weet julle al dat ek ‘n groot olie-aanhanger is.) Dit is volgepak met al die vitamines wat jou vel verlang (A,B,C,D,E,F) en natuurlike vetsure soos Omegas 3, 6, 9 asook phenoliese anti-oksidante. ‘n Mens kan dit net so gebruik of ‘n paar druppels by jou dag- of aandroom voeg. Vir my het dit beteken ek kan al my serums sowel as my gesig-olie tuis los. Die produk spreek al my vel se behoeftes aan: Teenveroudering, bevogting, voeding, herstel, beskerming, verfrissing en verferming.

Hoe het dit Gewerk?

Aanvanklik was ek onseker oor die tekstuur van die serum, want ek is gewoond aan serums met ‘n baie dun, waterige tekstuur en gesig-olies wat “droog” is. Die tekstuur van die MYHRU HIGH!Serum is taamlik dik en ek was bekommerd dat dit op my vel gaan bly sit en olierig lyk. Dit was glad nie die geval nie. Die produk het uitstekend gewerk: My vel het dit vinnig geabsorbeer en al wat oorgebly het, was ‘n gesonde, mooi gloed en ‘n vel wat deeglik bevogtig is. Met ander woorde, dit het uitstekend gewerk en boonop plek in my tas gespaar. Dit was inderdaad ‘n ideale reisgenoot.

MYRHU is ‘n eg Suid-Afrikaanse produk wat deur Klara Coetzee in Kaapstad  geformuleer is en  aanlyn gekoop kan word.

Nog ‘n Vonds – en ook Trots Suid-Afrikaans

mask-rub_frwslash_30

Net voor my vertrek het ek vir die Stellenbosse leefstyl-tydskrif VISIO se somer-uitgawe (wat nou op die rak is) ‘n artikel gedoen oor die twee Kaapse sussies Stella Ciolli en Elise du Plessis van die SKOON velsorgreeks.

Stella het vir my hul drie top produkte gestuur om te toets: SKOON Skin Sips Moisture Now (R445); SKOON Ruby Marine Overnight Hydrating Mask (R445) en SKOON Rosehip C+ Concentrate (R565). Die Ruby Marine oornagmasker is hul topverkoper, sê Stella. By my terugkeer uit Sydney het ek die drietjies nader getrek, want ek het erge vlugvoosheid (jet lag) gehad, my vel was moeg en ek wou net so gou moontlik weer normaal voel en lyk. 

Ek het die oornagmasker sommer soggens en saans dik opgeplak – my vel en my lyf het immers nie meer geweet of dit dag of nag was nie, en ek was elke oggend halfdrie rasend van die honger!

Tussendeur het ek die twee serums om die beurt en soms sommer oor mekaar gebruik.

Die Ruby Marine potjie pienk room is ‘n wenner. ‘n Mens wil dit sommer opeet, dit ruik so eetbaar yummy lekker. Soggens het my vel so bloesend en vars gelyk asof ek dit oornag perskes, aarbeie en dik room gevoer het.

Die kombinasie van die twee gekonsentreerde serums het ook merkbare goeie resultate gehad om my vel te hidreer en te laat gloei.

SA wenners

Lesers vra my dikwels wat hulle kan koop as hulle nie die duur Europese, Amerikaanse of Japanese kosmetiekhandelsname kan bekostig nie.

Ek kan eerlik sê hierdie twee nuutste Suid-Afrikaanse vondse wat ek ontdek het, is die moeite en die geld werd.

Boonop bevat dit die suiwerste, natuurlike, nie-toksiese bestanddele, wat dit geskik maak vir byna elke veltipe.

En die lekkerste is dat jy nie nodig het om winkels toe te gaan nie – jy kan alles aanlyn bestel en netjies verpak by jou voordeur afgelewer kry.

 

 

 

 

 

One Reply to “Reistas Staatmakers”

  1. Baie dankie!!!! SKOON klink briljant…. Ja, ek is ook ‘n water gesigwasser. Gebruik ook steeds rooswater en berghasel soos my ma my geleer het. Help nogal in ‘n sproei op die vliegtuig!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *