Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Retinol – ‘n Paar Aanbevelings

neutrogena-ageless-intensives-anti-wrinkle-serum

VRAAGEk is 53 jaar oud en het tot so ‘n paar jaar gelede RoC gebruik wat baie goed gewerk het (ek is onder die indruk dat dit retinol in het?). Dit is egter nie meer in SA beskikbaar nie, en ek gebruik nou Eucerin, maar dit het nie retinol in nie (dink ek?). Kan jy dalk ‘n goeie gesigroom met retinol aanbeveel? – Anna Odendal

ANTWOORD: Ek het letterlik ’n paar trane weggepink toe J&J ’n paar jaar gelede besluit het om RoC nie meer in SA te versprei nie (en ewe dikmond dadelik my gunstelingprodukte begin opgaar). Ek kyk deesdae met jaloerse oë na die advertensies vir hul jongste produkte in oorsese tydskrifte – RoC was ’n absolute gunsteling van my, want hulle het die ding omtrent retinol so presies reg gekry.

Eucerin is ’n lieflike produk, en veral hul Volume Filler-reeks vir ’n ouer vel, maar jy is reg, hulle doen nie retinol nie. 

Ek stel voor jy kyk na Neutrogena (’n suster van RoC, ook in die J&J stal) se Anti-Wrinkle Deep Wrinkle Serum. Dit is ’n intensiewe behandeling met retinol en multivitamine in die formule. Ek vind dit baie effektief en dit is hoogs bekostigbaar. 

Ek hou ook van Dr Gobac se Vit A Serum en REN se Bio Retinoid Anti-ageing Concentrate is beslis aan te bevele. Optiphi maak ook ruimskoots gebruik van retinol in hul teenverouderings formules, en hul Rejuvenating Revitalizer is een van my gunstelinge. Laasgenoemde is van kosmetiese dokters, medispas en dermatoloë te kry. Environ is ook bekend vir hul sterk konsentrasies Vit A (wat eintlik maar die bron van retinol is).

Ek kyk ook met groot belangstelling na die NOREVA produkte wat pas in Clicks bekend gestel is. Dit bevat ‘n bestanddeel genaam Regenol wat vir my baie wil klink asof dit dieselfde doen as retinol. (Sien ook die vraag hier onder.)

Ek hoop dit gee jou ’n paar idees?

 

VRAAG: Ek is 71 jaar oud en het al die jare redelik goed na my vel omgesien.  Ek het in die vroeër jare eers Payot gebruik en baie daarvan gehou totdat ek gevoel het dit is te duur vir my.

Daarna het ek dermalogica gebruik en het baie goeie resultate daarmee gehad.  Ek het ongelukkig verlede jaar afgetree en kan dit nou nie meer bekostig nie.

Ek is by die skoonheidsalon aangeraai om Dermafix te probeer – ‘n Suid-Afrikaanse produk, maar weet nie juis of ek daarvan hou nie. 

 Ek wil graag weet wat jy sal aanbeveel.  Ek het ‘n kombinasievel wat ‘n bietjie sensitief is. Is allergies vir Environ se produkte. 

Ek kan duurder produkte as Olay bekostig en hou van die Franse produkte. Ek voel net die winkelassistente weet nie altyd veel van die produkte af nie en probeer dit net verkoop. – Elna Marais 

 ANTWOORD: Ek het vir jou baie goeie nuus, Elna.

Ek is self baie partydig vir Franse velprodukte, maar met die Rand/Euro wisselkoers is dit deesdae ’n ramp op ’n mens se beursie.

Verlede week was die herbekendstelling in Suid-Afrika van die Franse dermaseutiese velsorgreeks NOREVA. Ek was by ’n volledige opleidingsessie waar die onderskeie reekse vir ons uiteengesit is, en die bestanddele en die werking daarvan behoorlik verduidelik is.

NOREVA is ook een die sg Franse “pharmacy skincare” produklyne wat so gesog is onder besoekers uit Amerika en Engeland (en SA!) dat hulle die Franse apteekrakke leegkoop as hulle daar kuier.

Die produkte is baie deeglik nagevors deur NOREVA Laboratoires buite Parys en die goeie nuus is dat dit van hierdie week af in uitsoekwinkels van Clicks en by dermatoloë beskikbaar is, teen baie redelike pryse (die duurste is sowat R370).

Toegewese Clicks-winkelassistente is ook ’n deur ’n deeglike opleidingskursus geneem sodat hulle die klante van die regte advies kan bedien, want dit is ’n omvattende reeks. Jy kan dus met ‘n geruste hart op hul advies vertrou – hulle word deeglik opgelei om klante professioneel te kan raadgee en bystaan.

Vir jou vel sal ek beslis kyk na die teenverouderingsreeks NOREVA Noveane 3D. Kyk gerus na hul webtuiste by www.en.noreva-laboratoires.com of na hul SA Facebook www.facebook.com/NorevaSouthAfrica 

Andersins kan ek ook met vrymoedigheid die Franse Gatineau-salonreeks aanbeveel. Dit is ook by winkels soos Stuttafords te koop en is ietwat meer bekostigbaar as die hoofstroom duur Franse handelsname.  

My ander Franse gunstelinge is Guinot en Mary Cohr. Laasgenoemde is veral ’n wonderlike botaniese produk en sag op ’n sensitiewe vel (net in salons te koop).

Ek is nie vertroud met die Dermafix produkte nie – ek sien dit gereeld in Dischem en merk op dat dit heelwat van die bekende kosmeseutiese aktiewe bestanddele bevat, maar ek is nie seker hoe sterk die konsentrasies daarvan is nie.

’n Ander opsie is die regtig uitstekende SA produkte van 1. Optiphi en 2. Placécol.

Optiphi is baie wetenskaplik as ’n kosmeseutiese reeks geformuleer.

Placecol is besig met opwindende herformulerings van ‘n omvattende dermaseutiese reeks en stel hul nuwe voorkoms en produkte einde November bekend. Jy kan hulle gerus in gedagte hou.

Ek hoop dit help jou.

 

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *