Slide thumbnail

BLOGS TYDLYN

Teken Vir jou ‘n Gesig Met Inkleurpotlode

Crayon Collage

Ek is glad nie kunstig nie.

My sussie Lize is die talentvolle skilder in die familie, maar ek kan nouliks ‘n stokmannetjie teken.

Maar gee my nou net ‘n handvol vet en kleurvolle grimeerpotlode en my innerlike kunstenaar ontpop terstond. Ek is soos ‘n kind met ‘n boks vol nuwe vetkryt of crayons. Dan teken ek sommer in ‘n japtrap vir my ‘n gesig.

Grimeerpotlode of “sticks” is nou geweldig gewild in die skoonheidsbedryf – omtrent elke handelsnaam het die afgelope jaar of wat ‘n versameling bekend gestel.

Daar is ‘n paar redes waarom ek versot is op inkleurpotlode vir my gesig.

  • Die tekstuur. ‘n Romerige tekstuur werk beter op ‘n ouer vel en is vleiender as poeier. Dit geld vir oë, wange en lippe.
  • Dit is gerieflik en vinnig. Party dae wil ‘n mens sommer net hier-kiep-kiep, daar-kiep-kiep en daar gaan jy! Dis lekker om vir ’n spesiale geleentheid jou verfkwasse en sponse en wimperkrullers uit te kry en tydsaam jou gesig “op te maak”, maar dikwels, veral oor ‘n naweek, wil ‘n mens bloot die minimum doen met grimering en darem nog skaflik lyk.
  • Dis kompak, handig en veelsydig. Met ‘n paar potlode in my handsak kan ek in ‘n oogwink my voorkoms opkikker. Dis perfek vir reis – dit vat baie min plek in ‘n grimeersakkie.
  • Boonop lek en smeer of breek dit nie en meeste van die inkleurpotlode draai op – jy het nie nodig om ‘n skerpmaker saam te piekel nie.
  • Die potlode hou lank en is goeie waarde vir geld.

Ek het ‘n handvol gunstelinge wat almal ‘n plek verdien in my reistas oorsee (binnekort!):

OË:

 

CHANEL Stylo Eyeshadow Caroube1Chanel Stylo Yeux (R365) glip satynsag oor die ooglid en gee ‘n sagte glim-afwerking. Dit glip ewe glad en gemaklik in jou handsak in.

Clinique Chubby Stick Shadow Tint for Eyes (R230) in Bountiful Beige en Lavish Lilac. Die lekkerste van hierdie produk is dat dit bloot boontoe gedraai word, jy het nie ‘n skerpmaker modig nie.

Sisley Phyto Eye Twist (R>>>) het die lieflikste diep en ryk kleure en werk as ‘n oogskadu of ‘n oogomlyner en is waterdig – as dit eers op jou ooglid is, beweeg dit nie.

Bobbi Brown Long-Wear Cream Shadow Stick (R350) glip satynsag oor die ooglede en word droog in ‘n fyn poeierafwerking. Ek het hulle in Vanilla, Golden Pink, Goldstone en Dusty Mauve vir ‘n perfekte natuurlike voorkoms.

Smashbox Always Sharp 3D Crayon Eyeliner het ook ‘n permanente tuiste in my grimeertas. Dit gee elke keer ‘n foutlose resultaat. Ek is dol oor oogomlyner om in ‘n japtrap ‘n “gesig” te skep, selfs al sit ek nie maskara aan nie.

Onthou: Party van die oogskadu potlode se romerige tekstuur word droog/set in ‘n poeiertekstuur, dus moet ‘n mens taamlik vinnig werk voordat dit set. Die kuns lê ook daarin om die kleur rats met jou vingers in te skakeer (blend) as jy meer as een kleur gebruik, sodat dit nie streperig vertoon nie.

WANGE:

Clinique Chubby Stick Cheek Colour Balm (R260) het die mooiste kleure en die romerige tekstuur maak dit super-maklik om aan te wend.

Smashbox LA Lights Blendable Lip & Cheek Color Stick (R320) het ‘n handige sponsie aan die een punt om die roomskadu perfek in te skakeer. My gunsteling is die Beverly Hills Blush skakering.

Chanel Les Beiges Healthy Glow Sheer Colour Stick (R605) bevat byewas en klapperolie en gee ‘n lieflike gloed en blos aan my wange. Dit is eers 23 Junie op die rakke, maar intussen vergryp ek my daaraan.

Ek kan ook nie wag om my hande te lê op die nuwe Clinique Chubby Stick Sculpting Highlight and Contour (R280 elk) nie. Met hierdie versameling bonkige potlode is ek oorgehaal vir enigiets!

Clinique-Chubby-Stick-Sculpting-Contour-Highlight

LIPPE:

Bobbi Brown Art Stick Cayon Rouge à Lévres (R340). Ek is gek na die Rose Brown skakering. Al wat bietjie hinderlik is, is dat dié potlode wel skerp gemaak moet word met ‘n ekstra groot skerpmaker.

Clinique Chubby Stick Intense Moisturizing Lip Colour Balm (R245) kom in die allerlieflikste kleure, van babapienk tot diep bessieskakerings. Ek het een in elke handsak.

 

Bobbi B Art Sticks

Waag gerus jou hand aan grimeerpotlode. Ek kan dit aanbeveel!

 

 

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *