Will se Wenke: Grimeer Jouself Jonger

Will Malherbe is Smashbox se internasionale grimeerkunstenaar. Hy is ‘n Afrikaanse man met ‘n wonderlike humorsin. Hy woon in Parys en hy bring sy lewe op ‘n vliegtuig deur om grimeerkunstenaars wêreldwyd in die jongste kunsies met die nuwe produkte van Smashbox touwys te maak.

Een van my gunsteling grimeerkunstenaars, Will Malherbe van Smashbox, in aksie.
Een van my gunsteling grimeerkunstenaars, Will Malherbe van Smashbox, in aksie.

 

Smashbox is ‘n nasaat van die oorspronklike huis van Max Factor, wat in Hollywood (waar anders?) gebore is. Vandag gee Smashbox in Los Angeles die toon aan met grimering wat spesifiek vir die silwerdoek en die kamera (wat onverbiddellik ALLES sien) geformuleer word.

Vanselfsprekend ken Will die sterre se diepste skoonheidsgeheime en probleme en hy weet presies hoe om glanspersoonlikhede met sy grimeerkwas op hul beste te laat lyk vir die rooi tapyt.

Hy het ‘n oog wat niks mis nie: Hy het dadelik opgemerk ek het ‘n bietjie kwistig gewerk met die pers sjampoe wat die geelheid van my silwer en blonde hare moes teenwerk en ewe diplomaties gesê hy hou van my funky voorkoms! Ja wel, ongelukkies gebeur…

Hy is baie vrygewig om wenke uit te deel en ek het hom tydens ‘n onlangse besoek in Suid-Afrika gevra hoe ‘n mens grimering reg kan inspan om jeugdiger te lyk.

3 Grimeerprodukte wat jy nou moet hê:

  1. ‘n Natuurlike (nude) lipomlyner. Donker lipomlyners is UIT en laat jou oud lyk. ‘n Omlyner wat die natuurlike kleur van jou lippe is, werk omdat dit die vorm van jou lippe beklemtoon. Die kuns van lipomlyner is om te begin by jou kupidoboog en uitwaarts na die mondhoeke te werk. Teken ‘n duidelike X op jou kupidoboog om dit te definieer. Vul jou hele mond in met die potlood – dit verseker dat jou lipstif nêrens heen “migreer” nie en langer hou.
  1. ‘n Basislaag (primer) om ‘n egalige en perfekte “skilderdoek” te skep. Jy kan vergrote porieë, rooiheid by jou neus, ken of wange, pigmentasie, ‘n vel wat tam lyk en nie gloei nie en fyn lyne almal “neutraliseer” met ‘n basislaag. Die kuns is om dit met ‘n ligte hand te gebruik – onthou jou onderlaag moet nog volg.
  1. Oogomlyner. Oogomlyner laat jou wimpers dik en welig lyk en maak jou oë ‘n fokuspunt. Dit vul ook die gapings in tussen jou wimpers – wikkel die kwassie of potlood stewig in die haarlyn in, veral as jou wimpers yl is.
Meryl Streep by die Oscars 2014. Kyk net daardie vlekkelose halslyn en boesem. Foto: Pinterest
Meryl Streep by die Oscars 2014. Kyk net daardie vlekkelose halslyn en boesem. Foto: Pinterest

 

Meryl Streep en Cate Blanchett se glans-geheime

Will en ek het kort ná vanjaar se Oscars gesels, en ek het ‘n ligte obsessie ontwikkel om te weet of Meryl Streep (64) en Cate Blanchett (45) inderdaad daardie vlekkelose vel en stralende voorkoms het wat ons op die rooi tapyt sien. Ek het hom gevra (want hy sal weet, al is hy so diskreet!) of hulle regtig so lyk en indien nie, hoe hulle dit doen.

Hy sê Meryl Streep lyk asof daar ‘n lig agter haar gesig skyn, so stralend (radiant) vertoon sy in die kollig. Sy het weliswaar haar kwota lyne, verklap hy skalks, maar daardie natuurlike gloed (glow) wat haar so stralend laat lyk, kan baie maklik met ‘n paar slim grimeerkunsies nagedoen word:

 

Cate Blanchett by die Oscars 2014 Foto: Pinterest
Cate Blanchett by die Oscars 2014 Foto: Pinterest

 

  • Gebruik ‘n basislaag wat die vel laat gloei. (Soek vir die woorde luminizing primer)
  • Wend ‘n onderlaag soos Smashbox Liquid Halo Foundation aan wat die vel laat gloei sonder dat dit blink of olierig vertoon en wat nie op ‘n foto vreemd gaan lyk nie. (Soos Angelina Jolie wat onlangs op foto’s gelyk het asof sy koekmeel op haar wange het.)

 

Angelina Joli se grimeer-blaps het voorblaaie gehaal. Alles die skuld van deursigtige poeier (translucent powder) wat lig reflekteer en wit wys onder kameraflitse. Foto: Pinterest
Angelina Jolie se grimeer-blaps het voorblaaie gehaal. Alles die skuld van deursigtige poeier (translucent powder) wat lig reflekteer en wit wys onder kameraflitse. Foto: Pinterest

 

  • Gebruik ‘n CC Room (dit staan vir Colour Corrector) om jou ore se kleur te balanseer as hulle deurskynend en rooi of te pienk lyk. Toets of jou ore te rooi is deur jou handpalm oop langs jou oor te hou en die kleur te vergelyk. Jou ore moet die kleur van jou palm wees.
  • Gebruik ‘n highlighter tussen die wenkbroue (in die fronslyn), af oor die middel van die neus, op die kupidoboog van die bolip, en bokant die wenkbroue. Skakeer deeglik in sodat daar geen sigbare lyne is nie.
  • Moenie lol met blosser nie – gebruik ‘n highlighter op jou wangbene om ‘n glimmende effek te kry.
  • Skep die “driehoek van lig” met ‘n highlighter soos Smashbox se Halo Wand of YSL Touche Éclat: Trek ‘n driehoek onder die oogholte, langs die neus en oor die wangbene. Skakeer dit van binne af buite toe na weerskante van die gesig. Dit is die groot geheim van ‘n stralende gloed en ‘n glinsterende rooitapyt voorkoms.

3 Grimeer-kunsies ná 40

  1. As jy ouer as 40 is, bly weg van glinster (glitter) oogskadu bokant die vou van die ooglid. Wees lugtig vir enige blink skadu’s soos metaalkleure, en as jy daarmee wil speel, slegs op die onderste deel van jou ooglid reg teen die wimpers. Blink poeierskadu beklemtoon ‘n crêpe-agtige ooglid.
  2. Moet glad nie ‘n glimskadu (highlighter) reg onder die wenkbrou gebruik nie, en veral nie spierwit nie. Dit is uit die mode en laat jou soos ‘n verdwaalde 70’s hippie lyk. Gebruik ‘n mat skadu in roomkleur of beige om die wenkbrouboog (brow bone) te beklemtoon.
  3. Wend jou oogomlyner aan ná jou oogskadu, sodat dit nie smeer of die intensiteit daarvan verlore gaan nie. Vir ‘n skoon omlyner wat lank hou, is vloei-omlyner (liquid liner) en jel-omlyner perfek, en jy kan ook ‘n donker poeier-oogskadu met ‘n klam kwassie as oogomlyner gebruik. Begin in die middel van jou boonste wimpers en trek die lyn na die buitenste ooghoek, en trek dan die omlyner van die binneste ooghoek na die middel. Maak seker die twee lyne smelt saam.

Doen dit so:

  • Die kuns om oogomlyner foutloos aan te wend, is om af te kyk in ‘n handspieël en nie reg van voor af in die spieël nie.
  • Bly weg van vloeibare omlyner op die onderste ooglid – dit kan hard en oud lyk; skakeer eerder ‘n gel, potlood of poeieromlyner in met ‘n kwassie of met jou vingerpunt.

4 Replies to “Will se Wenke: Grimeer Jouself Jonger”

  1. Hi Esther. Ek is net so bly jy het van my gelees! Smashbox is te koop by uitgesoekte takke van Edgars en Woolworths. As jy sukkel, laat weet my dan kry ek die skakelmense om met jou kontak te maak met inligting oor die winkel naaste aan jou.

  2. Hi Elsa

    Ek is so bly dat ek vandag in Beeld van jou gelees het. Ek is 60+ en verwelkom wenke. Waar kan ek die Smash Box onderlaag koop?

  3. Hallo Tana. Jy kan seker wees daar gaan baie wenke vir die 60+-ers wees. Ek speel self in daardie liga!

  4. Ek is so bly ek het van jou blog gehoor en vertrou jy gaan vir ons dames van 60+ ook vele wenke gee

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *