Hier land jy nou op die Nr 1 Afrikaanse “Beauty Blog”
– ‘n skoonheidsblad in pront Afrikaans, die eerste volkome onafhanklike en gesaghebbende webwerf vir Mooi Middeljare en Meer.
Benewens nuus, gesprekke en wenke oor hoe om grasievol en beeldskoon te verouder, keer ons uitgediende, stowwerige ou persepsies oor skoonheid ná 50 op hul kop, draai dit sommer nek om en belig sake wat vroue in hierdie ryper, wyser, verouder-soos-goeie-wyn lewensfase raak.
Mooipraatjies is nou 8 jaar oud en ontslae van haar kleuterskoene. Die afgelope twee jaar was ek ‘n afskeep-ma, maar ek en my prioriteite en passie vir skoonheid is nou weer op koers.
Ek sluit my aan by die wêreldwye trend om nie meer te praat van teenveroudering (anti-ageing) nie, maar PRO-veroudering met grasie. Daarmee vereenselwig ek my met rolmodelle soos Jane Fonda en Helen Mirren wat hul rug keer op die obsessie om onnatuurlik jonk te wil lyk. Vanselfsprekend maak hulle gebruik van die hulpmiddels beskikbaar om hul voorkoms jeugdig, dog natuurlik te hou. Daar is net mooi niks fout daarmee nie. Maar hulle verouder met grasie en vier hulle voorkoms, ervaring en wysheid.
Dis belangrik, want hier by 50 rond betree vroue hul Wyse Vroue van die Stam-status. In antieke tye is hulle gekoester en geëer vir hul kennis, insig en wysheid.
Hier is ons, bowenal, Tydloos Mooi. Ons fokus op Ageless (of my nuwe gunstelingwoord, Pro-Ageing) in kontras met Anti-Ageing. Positiewe veroudering praat met my. Ons word immers almal oud – maar ons kan wel bepaal, beheer en bestuur hoe ons oud word. Dit glo ek vas.
Ná ‘n stilte van amper twee jaar is ek van voor af dankbaar dat hierdie uitlaatklep wat ek vir myself geskep het om my passie vir skoonheid uit te leef, oorleef het.
Ek het getrek van Johannesburg na Mosselbaai, en die rustiger pas van my lewe gaan my meer tyd bied om Mooipraatjies groter en ouliker te maak! As jy wil weet wie ek is en waarom ek Mooipraatjies skryf, gaan loer in by Wie is Elsa