BANG VIR NAALDE? NIE EKKE NIE!

Dis maar goed ek geen fobie oor naalde nie – ‘n hele paar van die onlangse nuwe deurbraak- behandelings wat ek gehad het, behels close encounters met naalde. Ek moet egter bysê, dit was gelukkig die allerfynste, kleinste naalde.

Fynproewer-Fees vir die Vel

Vroeg in Julie het ek ‘n totale sellulêre vernuwing ondergaan.

Dis ‘n metamorfose behandeling deur Dr Judey Pretorius, stigter en formuleerder van die Biomedical Emporium velsorgreeks.

Super slim biochemikus Dr Judey Pretorius en ek.

Sy het my vel letterlik gevoer met ‘n gourmet buffet van aktiewe bestanddele uit haar hoogs doeltreffende reeks wat sy geformuleer het na jare se navorsing en ervaring in die bedryf.

Hoe werk dit

Dr Judey in aksie

 

Stap 1: Judey het my vel deeglik gereinig met ‘n hoë konsentrasie salisielsuur-was om alle dooie selle los te maak en te verwyder. Die geheim van enige behandeling lê in behoorlike reiniging, om die vel optimaal voor te berei vir die aktiewe bestanddele wat dit moet absorbeer.

Stap 2: Retinol serum word aangewend om nuwe selvorming te stimuleer en versnel.

Stap 3:  ‘n Ligte glikoliese suurskilfering volg om die vel te “poleer”.

Stap 4: ‘n Mikronaaldpen van tot  0.5mm word gebruik om mikro-retinol diep in die vel te deponeer, waar dit aan die werk kan spring om selhernuwing flink en vinnig aan te spoor.

Stap 5:  Tersiere peptiede om epiteelherstel te bewerkstellig word met die 0.5mm mikronaaldpen in die vel neergelê. Peptiede se groot voordeel is dat dit elastisiteit en fermheid aanhelp.  

Terwyl ek daar was, het Dr Judey sommer vinnig ‘n paar rooi kersie-moesies in my nek en hals ge-zap, asook ‘n paar lastige blinde, verstopte porieë by my slape en haarlyn.

Stap 6: Sonblok. Met soveel aktiewe bestanddele in die dermis ingepomp, is sonbeskerming noodsaaklik want die vel is agterna sensitief vir sonbrand.

Die hele prosedure het maar ‘n halfuur geneem.

Resultate

Dr Judey se opdrag was dat ek vir die res van die dag nie aan my gesig mag vat of peuter nie en dat enige oefening ook verbode is. Geen grimering nie en ek kon my gesig eers die volgende oggend was.

Ek mag ook nie retinol of enige suurprodukte gebruik vir ‘n week na die prosedure nie.

Drie dae na die behandeling het my vel begin jeuk en afskilfer vir ‘n vale. Dit is soos dit hoort, dit beteken die retinol doen sy werk om selle te hernu en na die oppervlak te stoot. Dit het aangehou vir omtrent vier dae.

Daarna was my vel besonder glad, helder en plomp – presies wat sy belowe het!

 

Re-dermalisering (Redermalization)

Ja, ek het ook nie geweet wat dit is nie!

‘n Paar maande gelede het ek aan die hande van Dr Elfrieda Fourie en dr Reza Mia by hul skouspelagtige Anti-Aging Art Medical Aesthetics kliniek in Houghton ‘n werklik revolusionere behandeling gehad wat deur hulself ontwikkel is en onlangs die onderwerp was van ‘n lesing by ‘n internasionale konferensie.

Die dokters neem my gesig onder hande – of naalde, eerder. Pienk handskoene vir Dr Elfrieda en bloues vir Dr Reza.

Wat is dit?

Dit is ‘n nuwe konsep in teenverouderingsmedisyne en behels die neerlegging in die dermis van  hialuroniese suur (HA) en Sodium Succinate (Hyalual) met spesifieke inspuitingstegnieke.

Die term is in 2011 die eerste keer gebruik, maar dit is nuut in Suid-Afrika. Dit is ‘n geteikende teenverouderingstegniek en werk teen drie verouderingsmeganismes in die vel:

  1. Dehidrasie en verlies aan volume: Die afnemende vlakke van HA in die vel veroorsaak vogverlies en gepaard daarmee, ‘n verlies aan volume asook meer opsigtelike plooie en ander verouderingstekens.
  2. Afname in die metaboliese prosesse: Dit lei tot stadiger regenerasie van kollageen en elastien in die vel, met verlies aan fermheid en veerkragtigheid.
  3. Opbou van vrye radikale: Dit veroorsaak oneweredige velkleur en tekstuur omdat die selle en die DNA beskadig is.

Wat gebeur?

Die dokter assesseer jou vel vir waar dit dof en moeg lyk, plooie verskyn en weefsel uitgesak of fermheid verloor het. Dit bepaal waar intradermale inspuitings van Hyalual (sodium succinate) moet kom. Hialuroniese suur (HA) stimuleer die toename in kollageen, behoud van vog en verleen volume.

Die kombinasie van die twee bestanddele werk sinergisties om as ‘n anti-oksidant  ook  vrye radikale aktief te bestry en trae metaboliese prosesse flukser te maak. Dit alles help mee om die selle te herstel, velelastisiteit te verbeter, fermheid en veerkragtigheid te laat toeneem en die kleur en tekstuur van die vel dramaties te verbeter. En voila – alle spore van vermoeienis en veroudering word sommer weggetoor!

Wat my veral getref het, is die oombliklike effek wat die behandeling op pigmentasievlekke en donker merke het. Dit verdwyn letterlik voor jou oë. Ek was daar saam met ‘n vriendin wat al jare sukkel met donker vlekke by haar slape – ek het self gesien hoe die vlekke as’t ware “oplos”. Dit werk ook wondere op letsels en ou littekens, selfs rekmerke.

Nadat die twee dokters in ‘n japtrap met hul fyn naalde die twee produkte in my dermis gespuit het, het ek ‘n strelende kort ultraklankbehandeling op my gesig en hals gehad, wat die herstel van die prosedure versnel en die werking van die produkte bevorder.

Reg ná die prosedure het ek gelyk of ek slaags was met ‘n swerm briesende, besete bye, met klein blasies/knoppies onder my vel, maar teen die tyd dat ek by die huis gekom het, het die swelsels reeds gesak en die volgende oggend was daar net ‘n sweem van fyn rooi kolletjies hier en daar.

Dit lyk of ek ‘n onderonsie met ‘n swerm briesende bye gehad het reg ná die prosedure. Die aktiewe bestanddele wat in my dermis geplaas is, vorm klein, opgehewe blasies. Dit verdwyn egter binne ure.

In die twee weke daarna kon ek daagliks sien hoe my veltekstuur verbeter, plooie om my oë gladder vertoon en my velkleur stralend en eweredig gloei, selfs sonder enige grimering. My vel was beslis minder droog en het plomper gelyk en gevoel.

Resultate

Ek het net een sessie van die Redermalization gehad en afhangende van jou vel se behoeftes, beveel Dr Elfrieda aan dat ‘n mens verskeie sessies inpas. Ek was hoogs tevrede met my ervaring ná net een sessie, maar ek gaan vir seker terug vir nog! Buitendien is daardie kliniek een van die mooistes wat ek nog besoek het – dit is ‘n weelde-ervaring op sigself.

Elektrolise met ‘n verskil

Ek het al voorheen geskryf van die nare hare wat in die middeljare hul opwagting maak waar hulle intens onwelkom is – op die bolip, ken en in die nek.

Al raad daarmee is laser, maar laser is nie juis suksesvol op blonde, wit of grys hare nie, omdat dit moet werk op die donkerder pigment in die hare.

Dus bly net elektrolise oor. Nou kyk, ek is nie kleinserig nie, maar dit is regtig nie ‘n plesierige ervaring nie. Dit beteken ‘n naald (nie alte klein nie) word in die haarwortel gesteek, ‘n galvaniese elektriese stroom word deur die naald gestuur, dit maak die haar los, die wortel dood en dis verby met die stekelrige laspos. Tot die volgende een kop uitsteek, natuurlik, so ‘n millimeter of wat verder. Grrrrr.. Dan is dit weer van voor af dieselfde pynlike proses.

Nou het die slim Tzvia Herman, eienaar van die Laser Beautique salonne,  ‘n nuwe elektrolise masjien in Kanada opgespoor wat die idee van ongemaklike, pynlike elektrolise nek omdraai.

Dit Apilus elektrolise-sisteem bied honderd persent haarverwydering vir hare van enige kleur. Dit is feitlik pynloos en baie vinniger as tradisonele elektrolisis.

Hoe werk dit?

‘n Haarfyn naaldjie word regstreek in die individuele haarfolikel geplaas (nee, dit is NIE seer nie) om die haar met ‘n  ligte elektriese stroom los te maak uit die haarvaatjie sodat dit nie weer ‘n nuwe haar produseer nie. Die tegniek word genoem flash thermolysis, en dit voel soos ‘n kort, skerp speldprik. Die termolise-tegnologie is vinniger en nie so pynlik soos die tradisionele galvaniese stroom nie.

My terapeut Lebo met haar Apilus elektrolise masjien.

My deeglik opgeleide elektrolise-terapeut, Lebo, was ‘n ster. Sy was ‘n meester met ‘n naald, het elke stap vir my haarfyn verduidelik en bowenal het sy my nie seergemaak nie. Ek het ook geen rooi merke agterna gehad nie.

Dit is ‘n puik opsie vir permanente haarverwydering en ek het die paar lastige haartjies wat knaend op my ken hul verskyning maak (dis nou maar die hormonale stryd van die menopousale middeljare…) in ‘n kwessie van minute vaarwel toegeroep. Dit beteken egter nie dat daar nie nog ander stekels gaan opduik nie – die aantal sessies wat nodig is, hang af van hormonale aktiwiteit, of die hare voorheen uitgepluk of gewaks is, en die pas waarteen hare groei. 

Ek sal ongetwyfeld nog een of twee keer moet teruggaan, want in die afwesigheid van  hul voorbarige maters het  anargistiese  bendelede met nuwe brawe stekels begin kop skiet. Maar nou het ek ‘ n stewige arsenaal wat hulle inwag – soos Dirty Harry sê: Make my Day!

Kyk gerus hier hoe dit werk. Daar is verskeie Laser Beautique takke landswyd waar jy die behandeling kan kry.

 

2 Replies to “BANG VIR NAALDE? NIE EKKE NIE!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *