Vlekkeloos, plooiloos en stralend – dit is hoe ons vir Winnie Mandela vandeesmaand by die viering(s) van haar tagtigste verjaardag gesien het.
Laat ek dadelik my kaarte op die tafel sit: Ek dink Winnie Mandela lyk asemrowend jonk en mooi op die foto’s van haar 80ste verjaardagviering. Ek wil die nommer van haar dokter hê!
Sosiale media het nog geen oomblik opgehou gons oor hoe sy dit reggekry het nie, en haar dogter Zindzi het ook op Twitter ingeweeg en verklaar dit is #PureAfricanBeauty, sonder enige hulp van enige aard. Goeie gene, glo…
Dit het ‘n klompie van my kosmetiese doktersvriende omtrent in hul ontbytpap laat stik van ongeloof en verontwaardiging dat die wonderwerke wat ‘n talentvolle dokter kan teweeg bring, darem so klakkeloos misken kan word. Natuurlik het sy hulp gehad, natuurlik is daar werk gedoen, koor hulle.
Ek reken sy moes net gesê het: “Kyk ek is 80. Natuurlik het ek hulp gehad om so mooi jonk te lyk op my verjaardag. Ek is ‘n vrou, ek is ydel en wat daarvan?”
Daar is niks fout met ydelheid nie. Winnie was ‘n beeldskone jong vrou en daar is niks verkeerd daarmee om so lank moontlik jou mooi, jeugdige voorkoms te probeer behou en in stand te hou nie.
Sy kon gerus maar die verplooide susters daar buite laat moed skep het en hoop gee deur die goeie nuus te deel dat daar inderdaad prosedures, produkte en behandelings beskikbaar is wat jou jonger en mooier kan laat lyk as jou jare. Sy hoef nie ‘n openbare ontboeseming te doen en in detail alles uit te lap nie – ‘n geheimsinnige glimlaggie, ‘n skalkse knipoog en ‘n sjarmante skimp dat daar darem wonderlike dokters in die wêreld is, sou voldoende gewees het en niks aan haar misterie afbreuk gedoen het nie.
Ek het vir Dr Hema Singh van die Silhouette Aesthetic Centre gevra of sy vir ons ‘n paar kan riglyne gee oor wat ‘n vrou van Winnie se jare kan doen om jonger te lyk. Sy is so by so oorval deur pasiënte wat by haar wou weet watter wonderbehandeling Winnie gehad het!
Wat dink sy persoonlik van Winnie se voorkoms? “Ek dink sy lyk wonderlik vir haar ouderdom – verjong en verfris. Sy kan ‘n rolmodel wees vir jonger vroue om hulle aan te moedig om goed na hulself om te sien en ouderdom bloot as ‘n getal te beskou. Ek glo mooi jong mense is ‘n gawe van Moeder Natuur, maar mooi ouer mense is die skepping van talentvolle dokters!”
Vraag: As ek na “voor” en “na” foto’s van Winnie kyk, sien ek haar vel is ‘n hele paar grade ligter, vlekkeloos en stralender as voorheen. Watter behandeling veroorsaak dit en hoe werk dit. Vertel ons ook meer van glutathion binneaarse drup-behandeling?
Antwoord: Rome wat die vel ligter en helder maak en melanienproduksie blokkeer, tesame met chemiese velskilfering wat pigmentasie behandel, kan ‘n egalige, ligter velkleur meebring. Gesigrome wat hydroquinone bevat moet onder ‘n dokter se toesig en slegs op voorskrif gebruik word, terwyl rome wat nie hydroquinone bevat nie, maar wel ander velverhelderaars, ook goeie resultate lewer, al werk dit stadiger as rome wat hydroquinone bevat.
Glutathion binneaarse drups, of op die veloppervlak aangewend of per mond ingeneem, produseer vel verheldering en “bleik” resultate. Dit werk op die melanienproduksie “roetekaart” en inhibeer die funksie van een van die ensieme. Dit is bewys dat die binneaarse behandelings ligter vel meebring, maar heelwat van dié behandelings is nodig, beslis meer as 10 sessies, op ‘n gereelde basis. Die gebruik van glutathion vir hierdie doel is nie deur die FDA goedgekeur nie en daar is heelwat kontroversie hieroor.
** BELANGRIK: Volgens Dr Noori Moti-Joosub, dermatoloog by Laserderm Illovo is hierdie behandelings, wat besonder gewild is onder Suid-Afrika se swart celebs, baie gevaarlik.
Die behandeling word normaalweg in onkologie gebruik vir kankerpasiënte wat chemoterapie gehad het, om toksiese neerslae uit die are te spoel. Misbruik of wangebruik daarvan kan lei tot lewerskade of hartversaking.
Vraag: Naas plastiese chirurgie, watter ander prosedures kan jou gesig dramaties verjong?
Antwoord: ‘n Kombinasie van:
- Chemiese velskilfering (peels) om velkleur egalig te maak en tekstuur, fyn lyne en plooie beter te laat vertoon
- Dermapen/Rejuvapen/ mikronaaldbehandeling soos mesoterapie om kollageenvorming aan te help en teenveroudering aan te moedig
- PRP (Platelet Rich Plasma) behandelings waar die pasiënt se bloed getrek word en teen ‘n hoë spoed gespin word om die PRP komponent te isoleer. Dit word dan in die vel ingespuit en lewer ‘n superieure effek om die vel styf te trek, te verjong, kollageenvorming te stimuleer en ‘n algehele teenverouderingseffek teweeg te bring.
- Verskeie vorms van lig-gebaseerde behandeling soos IPL (Intense Pulse Light) om donker vlekke en merke te verwyder en die gesig jeugdiger te maak
- Lasers vir fraksie-verjonging en veloppervlakvervanging (resurfacing). Dit kom neer op beheerde beskadiging/besering van die kollageen met lig en hitte om die vorming van nuwe weefsel te stimuleer
- Botulinum toksien (Botox) wat die sametrekking van spiere wat plooie veroorsaak (frons, kraaispore) te inhibeer
- Hialuroniese suur (HA) in die vorm van vullerinspuitings om verlore volume aan te vul en plooie op te vul, asook verslapte vel te lig en fermer te maak.
- Radiofrekwensie (RF) behandeling soos BTL Exilis om vel fermer te maak en kollageenvorming te stimuleer
Areas waarvoor hierdie behandelings gebruik kan word is:
Voorkop: 1 tot 6
Oë: Al die bostaande (1-8), insluitende plasma-tegnologie om verslapte vel op ‘n minimaal ingrypende (invasive) manier te verwyder
Middel-seksie van die gesig: Al die bostaande (1-8)
Mond en kakebeenlyn (onderste derde van die gesig): Kombinasie van al die bostaande (1-8)
Vraag: Kan ‘n mens dieselfde dramatiese resultate kry as jy net al hierdie prosedures doen pleks van ‘n chirurgiese ontrimpeling (facelift)?
Antwoord: ‘n Operasie sal beslis meer onmiddellike, vinniger resultate lewer. Die nie-ingrypende behandelings kan baie naby kom aan soortgelyke resultate, maar dit duur langer.
Vraag: Wat sal jy persoonlik vir ‘n vrou in haar 60’s of 70’s aanbeveel om haar jeugdige voorkoms te herwin of te behou?
Antwoord: ‘n Vrou in daardie ouderdomsgroep sou gebaat het daarby as sy reeds in haar 30’s en 40’s begin het om die tekens van veroudering met nie-chirurgiese behandelings te temper. ‘n Kombinasie van ‘n bekwame dokter en die behandelings hierbo sal sigbare verjongingsresultate lewer.
Vraag: Hoe lank voor ‘n groot verjaardag (byvoorbeeld 60, 70 of 80) moet ‘n mens begin met behandelings dat jy op jou beste lyk op die groot dag?
Antwoord: Minstens 3-6 maande sodat jy ‘n kursus van behandelings kan inpas, omdat baie van die chemiese velskilferings en lasers in veelvuldige sessies werk.
Vraag: Hoeveel geld moet jy begroot – wat sal dit kos?
Antwoord: Kosmetiese chirurgie kan tussen R100 000-R200 000 kos. Kosmetiese prosedures (nie-ingrypend) verskil afhangende van die modaliteit en herhaling (frekwensie) van die behandeling – enigiets van R2 000 af op.
DUS: Wat HET Winnie gedoen?
Die dokters is dit eens: Ongetwyfeld uitstekende plastiese chirurgie, wat die enigste manier is om verouderde, verslapte vel, veral by die kakebeenlyn, weer so ferm te kry; plus ‘n kombinasie van die nie-ingrypende prosedures hierbo, met klem op laser, PRP, velskilferings, Botox, vullers en hoogs waarskynlik ook binneaarse glutathion drup-behandelings.
Daar het julle dit.