Blitsgids: Troef die 5 Tekens van die Tyd

Jy hoef nie vir lief te neem met die “tekens van die tyd” nie.

Daar is heelwat wat jy kan doen om die spore van veroudering terstond te verberg en op die lang termyn selfs om te keer.

1. Donker kringe

Oorsaak: Met die tyd raak die fyn vel om die oë dunner en donker kringe meer opsigtelik. Dit laat jou afgerem en ouer lyk. Dit kan ‘n teken wees dat jy nie genoeg slaap kry nie, of ‘n aanduiding van sinusprobleme. As die kringe bruinerig lyk, is dit te wyte aan sonblootstelling. As dit blouerig is, kan dit dui op vaskulêre kongestie weens sinusprobleme of allergieë.

Terstond: ‘n Verbloemer (concealer) wat lig reflekteer, verdoesel donker kringe. Soek vir die woorde “illuminating” of “radiance” op die verpakking. Sorg dat jy genoeg, goeie slaap kry.

Lang termyn: Dra ‘n sonbril wanneer jy buite is en gebruik ‘n verbloemer met ‘n SBF. (Probeer Smashbox se Camera Ready BB Cream Eyes SPF15). As jou donker kringe met sinus- of allergieprobleme te make het, spreek ‘n oor-, neus- en keelspesialis. Sorg dat jou dieet vitamines B (jogurt, vis, groen groente) en K (eiers, spinasie, brokkoli, bone) insluit.

2. Fyn lyne en plooie

Oorsaak: Die eerste kraaispore en lyntjies verskyn gewoonlik rondom die oë. Soos jy ouer word, breek die kollageen en elastien-vesels wat jou vel plomp en jonk hou, af en jou gesig verloor volume. Jou gesigspiere raak ook al hoe luier en minder veerkragtig – elke keer as jy frons, “onthou” die spiere dit en raak hulle traer om terug te spring na hul normale posisies.

Terstond: Gebruik elke dag ‘n serum met hialuroniese suur (HA) om jou vel op te plomp. ‘n Basislaag (primer) wat plooitjies “opvul” help ook om ‘n gladde basis vir jou grimering te skep. Gebruik ‘n onderlaag wat “anti-ageing” op die verpakking sê. As jy nie ‘n dag langer kan wag nie, is vullers deur ‘n kosmetiese dokter ‘n kitskuur wat dadelik sigbare resultate lewer en dit kan tot ‘n jaar hou. Kyk in my Klein Swart Boekie watter dokters ons aanbeveel.

Lang termyn: Begin ‘n velsorgprogram wat teenverouderingsbestanddele insluit. Kyk uit vir peptiedes, groeifaktore (Bio-Effect EGF bevat Epidermis-Groei-Faktore en is fantasties) en retinol-produkte soos Skinceuticals se Retinol 0.5 Refining Night Cream is bewese meesters in die oorlog teen plooie.

3. Donker vlekke

Oorsaak: Donker vlekke of hiperpigmentasie verklap gewoonlik dat jy in jou onbesonne jeug te veel tyd in die son spandeer het!

Terstond: Dra sonskerm. Elke liewe dag, winter, somer, reën of sonskyn. Vermy regstreekse son waar en wanneer jy kan. ‘n Minimum SBF van 15 is wat jy nodig het, of dit nou deel van jou bevogtiger, jou onderlaag of jou poeier is, maar jy kan dit nie buite waag sonder behoorlike beskerming nie. Kamoefleer onegalige velkleur met ‘n “slim” basislaag soos Bodyography se Veil Foundation Primer en grimering soos Bobbi Brown se Luminous Foundation. Kyk uit vir bestanddele soos soetwortel (licorice), kojiensuur, askorbiensuur en arbutien.

Lang termyn: Kry hulp van ‘n dermatoloog of estetiese dokter. Daar is hoogs suksesvolle opsies beskikbaar soos diep chemiese afskilfering (peels), laser- of ligbehandeling (IPL), mikrodermabrasie en voorskrif-produkte wat die pigmentasie lig en die nuwe, vlekkelose vel daaronder ontbloot. MAAR: Jou vel is ná sulke behandelings ekstra vatbaar vir vlekke, dus kan jyhoegenaamd nie sonder sonskerm wees nie. Probeer Sisleÿa Age Minimizing Global Sun Care SPF30 of SkinCeuticals Physical Fusion UV Defense SPF50.

4. Hande

Oorsaak: Die vel op jou hande is dun, en raak papierdun met die jare. Daar is ook nie oliekliere om die vel jonk te hou nie. Boonop is jou hande voltyds blootgestel aan die elemente. Dis waarom jou hande lank voor jou gesig jou ouderdom verraai. Vel vertoon krêp-agtig en bruin vlekke maak hul verskyning.

Terstond: Kry ‘n manikuur, summier! Geverfde naels trek die oog weg van vlekke en verplooide vel. Dis wetenskaplik bewys – hande lyk jonger wanneer dit versorg en geverf is. Gebruik ‘n handeroom met hualoroniese suur (HA) om dun vel en benerige hande plomper te laat vertoon.

Lang termyn: Begin dadelik handeroom met ‘n SBF gebruik. Dit keer verdere sonskade, wat die oorsaak is van bruin vlekke of lewerkolle, soos dit ook genoem word. Jou estetiek-dokter of dermatoloog kan die bruin vlekke verminder met laserbehandeling en ook met Restylane Vital vuller-behandeling, wat die hande jonger en plomper laat lyk. Of probeer Filorga se Handfiller Anti-ageing Mask for Hands and Nails. Dra handskoene wanneer jy bestuur, in water werk of tuinmaak.

5. Kalkoen-nek

Oorsaak: Baie vroue vergeet van hul nek in hul velsorgroetine wanneer hulle nog jonk is, en pluk die verplooide vrugte daarvan wanneer hul nek later jare ouer lyk as hul gesig. Die nekvel is ook besonder dun en droog en verkleur maklik.

Terstond: ‘n Goeie afskilfersessie (exfoliation) is die eerste stap om jou nek jonger en varser te laat lyk. Gebruik ‘n ensiem-afskilferaar soos Elemis se Papaya Enzyme Peel eerder as ‘n korrelrige skilfer- of skropproduk, wat die fyn vel kan krap en irriteer. Wend dieselfde serum as wat jy vir jou gesig gebruik op jou nek aan. ‘n Serum wat glikoliese of salisielsuur bevat en vel sagkens aanmoedig om te hernu, werk goed. So ook een wat die vel fermer maak. Clinique se nuwe Smart Custom Repair Serum is ‘n “slim” serum wat self bepaal waar en hoe jou vel die meeste hulp nodig het. ‘n Goeie plan is ook om ‘n basislaag soos Le Blanc de Chanel wat lig reflekteer, bo-oor jou vogroom aan jou nek te smeer of ‘n druppel daarvan met jou vogroom te meng. Probeer ook Bodyography Radiance Boost Liquid Luminizer.

Lang termyn: Sluit jou nek in by jou velsorgroetine, soggens en saans. Gebruik ‘n ryk nekroom, veral saans. Bedags moet jy ‘n sonskerm op jou nek gebruik. My gunsteling nekproduk is Guinot Longue Vie Cou Firming Vital Neck Care, wat sommer ‘n dubbelken ook bydam.

Lang termyn: Gaan sien jou estetiese dokter: Fraxel laserbehandeling stimuleer kollageenvorming en maak die vel ferm, terwyl perfek geplaaste Botox-inspuitings die horisontale ringmerke op die nekvel asook die stywe vertikale platismaspier se bande laat ontspan en die nek sagter en jonger laat vertoon. Vra Dr Nanita Dalton (www.nanitadalton.co.za ) omtrent haar Nefertiti Facelift; dit verjong jou nek met jare.

Lees meer oor pigmentasie en hoe om met grimering te flous (fake) vir ‘n vlekkelose gelaat in my artikel die Oktober-uitgawe van IDEES Tydskrif, nou op die rak.

Pores collage

 

2 Replies to “Blitsgids: Troef die 5 Tekens van die Tyd”

  1. Hallo Anita. Gee my bietjie meer besonderhede oor jou behoeftes rakende onderlaag? Vir ‘n droë vel beveel ek ‘n ryk roomonderlaag aan soos Sensai se Anti-Aging Cream Foundation SPF15.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *