Bob, Lob en nou die Wob – ‘n Styl vir Amper Almal

Eers was daar die Bob – ‘n ikoniese styl wat die toets van die tyd deurstaan het. Dit werk vir omtrent alle ouderdomme, gesigvorme, haartipes, haarkleure en smake.

Die BOB
Die BOB

 

Die Bob, gewoonlik hier by kenlengte langs, is normaalweg taamlik streng reguit gestileer en stomp gesny (blunt cut) of bietjie skuins gesnipper rondom die gesig vir ‘n sagter, veertjie-agtige voorkoms. Dit werk met of sonder ‘n gordyntjie of kuif. En met ‘n sypaadjie, middelpaadjie of geen paadjie. Die omgekeerde Bob (inverted, angled of concave) het met ‘n skuins hoek in lae van kort agter tot lank voor, ‘n elegante nuwe voorkoms gekry wat steeds baie gewild is. Die Bob is en bly ‘n klassieke haarstyl waarmee ‘n mens amper nie kan verkeerd gaan nie.

Toe kom die Lob: Die Lang Bob. Ideaal vir vroue wat verkies om hul hare skouerlengte en langer te dra, maar darem nog gevorm in ‘n styl. Dit is die afgelope paar jaar ‘n gunsteling onder modelle en rolprentsterre soos Jennifer Aniston, Sandra Bullock en Gwyneth Paltrow. Variasies van simmetriese, a-simmetriese en krullerige Lob-style het dit toeganklik gemaak vir almal wat graag hul hare langer wil dra, maar darem in ‘n styl.

Die Lob
Die LOB: Jennifer Aniston, Sandra Bullock, Gwyneth Paltrow

 

Al bogenoemde aktrises is heelwat ouer as 40 en dit is hul manier om hul hare lank te bly dra.

(Dit is in elk geval bog dat jy jou hare moet korter dra as jy ouer as 40 is – ‘n onvleiende knypkort kapsel kan jou eerder ouer voor jou tyd laat lyk, en ek glo vas ‘n langer kapsel beskerm jou nek teen veroudering. Dis my storie en ek hou daarby!)

En nou is daar die Wob: Die Wavy Bob. As jou hare krullerig is en jy dit met moeite moet reguit droogblaas vir ’n klassieke Bob, dan is hierdie nuwe trend, soos aktrise Jennifer Lawrence dit dra, perfek vir jou.

Jennifer Lawrence se nuwe Wob
Jennifer Lawrence se nuwe Wob. FOTO: Daily Mail

 

Die wêreld is gaande daaroor en dit het hierdie week tot die Daily Mail in Brittanje gehaal.

Die Wob is ‘n golwende, sorgvrye haarstyl wat veral in die vakansietyd nommerpas gaan wees. Dis nie te kort nie en nie te lank nie en lyk sag en gesofistikeerd.

Wob collage
Die WOB. FOTO’S: Pinterest

 

Wat gemaak as jy stokreguit hare het? Dan golf of “ripple” jy dit liggies met ‘n krultang of ‘n instrument soos hierdie Double Ripple Iron van Label.M wat ek nou die dag by haarkapper Michael Conlin van Pure Hair in Dunkeld gesien het. Ja, ek weet – dit lyk eintlik na iets wat in ‘n ginekoloog se kamers hoort…!

Onthou net om hittebeskermingsproei vooraf op jou hare te spuit as jy ‘n krultang gebruik.

Label M Double Ripple Iron
Label.M Double Ripple Iron

 

En voila – daar is jy sommer hoog in die mode met jou Wob!

Dit verg min moeite (low maintenance!), lyk sorgeloos en sexy, jeugdig en gesofistikeerd, alles in een, skryf Lydia Slater van die Daily Mail, wat op 44 besluit het om haar lang lokke vir ‘n Wob te verruil en verklaar dat dié styl haar “bad hair” dae vir altyd laat verdamp het.

Hoe lyk dit vir julle?

Ek het gou vir Michael ‘n paar vrae gevra oor die Wob:

  1. Dit lyk vir my daar is ‘n sterk neiging terug na krulle en golwende hare. Laat dit ‘n mens jonger lyk en is penreguit hare op pad uit?

Krulle en sagte golwe (waves) versag lyne, beklemtoon gelaatstrekke en is die vroulikste van alle style. Soos met die mode, kom en gaan kurwes en streng, reguit lyne; romantiese valle en drapering kom en gaan in klerestyle en reg nou is daar ‘n neiging na sagte lyne. Vol krulle is beslis op pad terug.

  1. Presies hoe lyk en werk die nywe Wob neiging?

Dit is kort tot medium lengte met geen hoogte by die wortels nie. Dit het ‘n effense strandvoorkoms (beachy hair) met ‘n natuurlike, losserige golwing en is nie baie gestruktureer nie. Minder eerder as meer is die reël in terme van produkte, stilering en “fuss”.

  1. Watter hulpmiddels of produkte het jy nodig vir dié styl?

Beslis ‘n ronde “barrel” krultang. Die dubbelloop rimpel-tang werk veral goed. Maar moenie die krul vir langer as 5 sekondes in die tang vasklem nie, anders is die krul te styf.

  1. Pas die styl ouer vroue?

Inderdaad. Dit versag die lyne in die gesig maar lyk modern en byderwets. Dit pas alle vroue van 25 opwaarts ewe goed.

 

 

 

 

One Reply to “Bob, Lob en nou die Wob – ‘n Styl vir Amper Almal”

  1. Ek het gehoor van n website waarop jy kan gaan kyk watter haarsnitte en haar kleure jou gesig en velkleur pas. Jy laai foto van jou op. Wat enige iemand van so website?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *