Wat is die verskil tussen Botox en Vullers?
Verstommend baie mense praat van Botox in iemand se lippe as hulle eintlik verwys na vullers.
Hier is die verskil: Botox (botulinum toksien) is ‘n neurotoksien (soos sommige slanggif, ja) wat senu-impulse tussen spiere stop of onderbreek sodat die spiere ontspan of nie meer saamtrek nie. Plooie word geskep deur die herhaaldelike sametrekking van spiere (soos wanneer jy glimlag of frons), daarom word dit dinamiese plooie genoem.
Omdat Botox die saamtrek-impuls stop, word dit toenemend gebruik om plooie te voorkom, pleks van die bloot uit te stryk. As jy geneig is tot ‘n diep frons, is voorkomende Botox beslis aan te beveel voordat jy die Platform 11-treinspoorlyne tussen jou oë ontwikkel. Ofskoon Botox ‘n “gif” is, word dit meer as 20 jaar reeds kosmeties gebruik en nog langer in konvensionele geneeskunde – jy kan dus taamlik gerus wees dat dit deeglik nagevors en getoets is vir veiligheid.
Botox word grotendeels in die boonste derde van die gesig gebruik om spieraksie te verminder of te stop.
Daar is ook ander handelsname (soos Dysport) waaronder botulinum toksien bekend staan. Botox word deur die farmaseutiese reus Allergan gemaak, en is tans die bekendste en mees algemeen gebruikte variasie van hierdie produk.
Vullers (soos Restylane en Emervel wat deur Galderma gemaak word) is ‘n formule van hialuroniese suur (HA) wat verlore volume in jou gesig (en ja, jou lippe) aanvul. Jou gesig verloor volume met die verloop van tyd en die vetkussings wat sorg vir jeugdige kontoere by jou wange word plat en sak af na jou kakebeen toe. Kosmetiese dokters praat van die Goue Ratio of Driehoek van Jeug wat ‘n jeugdige gesig kenmerk: Dit beteken dat ‘n jong gesig soos ‘n omgekeerde driehoek lyk, met die breedste deel in die boonste derde van die gesig. Wanneer die gesig se kontoere verouder, lyk dit soos ‘n gewone driehoek, met die breedste deel onder, by die onderste derde van die gesig.
Vullers onder die wangbene herstel die driehoekvorm na sy jeugdige voorkoms, en dit trek terselfdertyd die afgesakte vel by die kakebeenlyn weer styf en boontoe. Vullers is ook besonder effektief om die diep kepe weerskante van die neus na die mondhoeke in te vul en te lig, en dit gee ook jeugdige volume terug aan lippe wat dun en vormloos geraak het.
Vullers word hoofsaaklik in die onderste derde van die gesig gebruik om verlore volume aan te vul.