Sedert ek twee jaar gelede vir die eerste keer in Mooipraatjies geskryf het oor browblading, het ek seker tien uitnodigings gehad om dit self op die proef te stel.
Ek het egter die hele tyd gehuiwer en gewik en geweeg. Dat ek dit nodig het, is vir seker: My wenkbroue is wit en uitgewas en taamlik yl, met ‘n kaal kolletjie hier en daar. As ek dit (en my wimpers) nie gereeld donker tint en noukeurig grimeer nie, lyk ek soos ‘n witrot. Geen gesig nie. Browblading sou my beslis tyd, geld en moeite spaar en my voorkoms hopelik verbeter.
Die rede hoekom ek nog die hele tyd terughou, is omdat ek nog te veel tipiese browblading resultate gesien het: Die Kardashian komma-wenkbroue met die dik, skerphoekige haak staan my nie aan nie – almal lyk eenders, asof dit van ‘n stensil af getrek is, en of dit nou jou gesig se vorm pas of te nie. Boonop kan ‘n spesifieke voorkoms binne ‘n paar jaar uit die mode wees, en dan sit jy permanent met ‘n stel wenkbroue wat jou tipeer as ‘n wenkbrouslagoffer uit ‘n sekere tydperk – jy is dated. En ons weet almal hoe daardie potlooddun, oorplukte, geboogde wenkbroue uit die 60’s en 70’s jou summier kenmerk as ‘n produk van daardie era. En ook hoe moeilik dit is om reg te stel, indien enigsins. ‘n Hele paar van my vriendinne is al klaar spyt oor hoe hulle browblading eksperimente uitgewerk het.
Maar ek was baie lus om dit te doen, dus het ek begin uitvra as ek iemand sien wie se browblading vir my mooi is.
Soos die geluk dit wil hê, beland ‘n uitnodiging om my wenkbroue te laat doen by Jade Petkov se PhiBrows ateljee in Bedfordview, juis in my in-boks een oggend, drie weke gelede, net toe ek baie iesegrimmig vir my bleek wenkbroue gluur omdat dit tyd is om weer die kleursel nader te trek.
Nadat ek haar webtuiste en resultate deeglik bekyk het, het ek laat weet ek wil kom, dankie. Wat my oortuig het, is haar deeglike opleiding en die feit dat nie een van die stelle wenkbroue wat sy geskep het, eentonig eenders gelyk het nie.
Jade is ‘n opgeleide tatoeëerkunstenaar en ken haar storie met ink en naalde. Toe sy in browblading begin belangstel, het sy gesorg dat sy die beste internasionale opleier vind om haar die kuns te leer. Nou is sy self ‘n PhiBrows Meester en opleier in dié spesifieke tegniek wat Serwies van oorsprong is, en inkpigmente uit Duitsland gebruik. Sy noem die prosedure microblading, pleks van browblading.
Hoe dit werk:
Elke gesig en elke wenkbrou is verskillend, daarom skep sy ‘n wenkbrou spesifiek vir jou, sê Jade. Sy neem jou beenstruktuur, velkleur, haarkleur en oogkleur in ag om vir jou die mees natuurlike, mooi wenkbroue te vorm en te skep.
Die hele prosedure neem anderhalfuur en elke stap word noukeurig en tydsaam gedoen vir perfekte resultate.
Voor die tyd:
‘n Paar dae voor die tyd het Jade my laat weet wat om in die 72 uur (drie dae) vooraf te doen.
- Uiteraard moet jy nie siek wees nie.
- Vermy alkohol
- Vermy bloedverdunners soos apirien en anti-inflammatoriese medikasie soos Ibuprofen.
- Vermy Vit E, B6, Omega, Gingko Biloba, St. John’s Wort.
Moet ook nie in die maand voor die prosedure die volgende doen nie:
- Botox
- Vullers
- Velskilfering (peels)
- Laserbehandeling
- Oordadige sonblootstelling
Die Prosedure:
Permanente wenkbroue word per hand ingeteken met behulp van die allerfynste steriele naalde wat amper soos ‘n mikro-lemmetjie werk. Die vorm van die wenkbroue word uitgewerk volgens die goue ratio van phi 1.618 (dis waar die naam Phibrows vandaan kom) en jou gesig se morfologie.
Jade gebruik ‘n PhiBrows- app op haar foon wat die perfekte proporsies matematies bereken en haar help om die vorm van die wenkbrou te teken. Jou oë moet toe wees tydens hierdie stap sodat die spiere wat die wenkbroue se simmetrie kan beïnvloed, heeltemal ontspanne is. Wanneer die vorm klaar geteken is, kan jy daarna kyk en sê of jy daarvan hou of waar jy dit wil verander.

Sy kies ook die kleurpigmente wat jou die beste sal pas, afhangende van jou haar- en gelaatskleur. Dit mag aanvanklik baie donker lyk, maar nadat die kerfies in die wenkbroue genees en die rofies afgeval het (7 dae later) kan die kleur tot 40-50% ligter wees.
Die kerfies word in die rigting van die natuurlike wenkbrougroei gemaak om te sorg dat dit natuurlik en realisties lyk. Die pigment word tegelykertyd in die kerfies geplaas.
Na ‘n maand moet jy teruggaan vir korreksie, omdat van die kerfies kan verdwyn ná die eerste behandeling. Dan word gapings ingevul en verlore pigment aangevul. Wanneer jou wenkbroue dan voltooi is, behoort dit vir ‘n jaar te hou, tensy jy besonder olierige vel het.
As jy gereelde chemiese velskilferings (peels) laat doen, moet jy vra dat jou wenkbroue met Vaseline of Elizabeth Arden Eight Hour Cream beskerm word, sodat die pigmente nie verbleik nie.

Ná die prosedure:
Wat jy ná die prosedure doen, bepaal tot 70% van die sukses daarvan. Jy moet nougeset hou by die voorskrifte, anders is jou nuwe wenkbroue daarmee heen.
Vir my was die moeilikste om vir 10 dae my gesig uit water te hou. Ek hou daarvan om my gesig soggens met water, olie en gel te was, maar dit was verbode, want die wenkbroue durf nie nat word nie.
Die wenkbroue moet vir die eerste week met ‘n waterbestande room beskerm word (Jade stuur jou huis toe daarmee) en jy mag nie aan die rofies krap nie, al jeuk dit dalk.
My ervaring:
Die prosedure is nie pynlik nie. Sommige browblade-kunstenaars verdoof die area om die wenkbroue, maar Jade doen dit nie. Sy sê verdowingsrome maak die vel rondom die wenkbroue sponserig en dan absorbeer dit te veel pigmente. Ek het die proses glad nie seer of ongemaklik gevind nie, maar ek is nie juis kleinserig nie.
Ek wou by Jade weet of die wenkbroue simmetries sal bly as iemand Botox kry ná die prosedure, en sy sê dis nie ‘n probleem nie, maar dat dit raadsaam is om minstens 6 weke te wag.
Amper ‘n maand later is my wenkbroue baie, baie ligter en onopvallend, maar die vorm is regtig mooi en ek het glad nie ‘n Kardashian-kloon voorkoms nie. Ek sien uit na my opvolgsessie om te hoor wat Jade dink.
Wat kos dit:
R3 300. Dit sluit in die prosedure en die opvolgkorreksie, wat binne 4-8 weke moet gebeur.
Hier is ‘n kort video van die proses, wat anderhalfuur duur: