Chemoterapie en jou Vel – Wat jy Moet Weet

VRAAG: Ek het chemoterapie vir leukemia gehad, gepaard met sterk dosisse kortisoon en boonop het ek onder ‘n hospitaal super-gogga deurgeloop. Dit het my velversorging lelik gesaboteer. My vel het as gevolg van die kortisoon droog en baie dun geraak.

Ek moet uit die son bly omdat kanse vir verdere kanker wesenlik toeneem en ek is nou siekbleek. Ek het altyd my vel goed versorg (ek is 66) en dit is vir my belangrik om te weet ek is goed versorg.

Ek het altyd dik, gladde, reguit ligte hare gehad. Nou is dit nog steeds dik maar met donker, kort droë krulle waarmee ek geen raad het nie. Met meermalige chemo-behandling groei jou hare nie meer so goed uit nie en dit word minder en dunner.

Die mediese personeel, toonbankassistente en die internet kan nie veel help nie en sommige van  ons kankerlyers  het baie dringend hulp nodig met ons selfbeeld.  Die veranderinge vind relatief vinnig plaas en dit terwyl ons nog vrotsig voel.

Vir my hare gebruik ek Pantene Moisture Renewal sjampoe, opknapper en masker en voor ek dit droogblaas, ook Moroccan Oil, wat dit blink hou.

Ons mag geen sterk chemikalieë, soos kleur, aan ons hare gebruik nie en het ek gewonder of daar nie lig- of donker- streep kleursel is wat sag op die chemikalieë is nie?

Ons mag ook nie naellak of jel gebruik nie en is dit vir my die ergste!

Vir my lyf gebruik ek Mineralline lyf- en hande-naelvliesroom asook Nivea stortroom.  Dit werk nou goed maar die winter het dit maar jeukerig gegaan.

Vir my gesig gebruik ek: Clinique Take the Day Off; Clarins Double Serum; Clarins Extra Firming Day en ook Night Cream; Clinique Dramatically Different Moisturizing Cream; Clinique Overnight Moisture Mask; Clinique Repairwear Eye Cream

 Die Clinique produkte gebruik ek op aanbeveling van die terapeut omdat my vel nou maklik allergies reageer op meeste produkte.

Ansonia Geldenhuys, Stilfontein

 

ANTWOORD: Ek het jou navraag bespreek met Dr Judey Pretorius, van Skin Rejuvenation Technologies. Sy is ’n bitter slim kosmetiese chemiese navorser en formuleerder van die Optiphi kosmeseutiese velsorgreeks.

Haar advies strook met wat ek jou wil aanraai: Die heel belangrikste nou is om jou vel te bevogtig, tot 3 maal per dag as dit kan, met hialuroonsuur (Hyaluronic Acid).

Hier is haar verduideliking oor wat met jou vel gebeur tydens chemoterapie en haar advies daaromtrent:

 Dr Judey Pretorius:

Tydens die behandeling van kanker, met geneesmiddels en prosedures soos bestraling (radiation) en chemo, word ALLE sellulêre prosesse geweldig gekompromitteer.

Eerstens, sellulêre energie verswak en kan in totaliteit selfs heeltemal verdwyn. Kankergeneesmiddels staan onder meer bekend as “cytostatic compounds” wat beteken dat nuwe sel differensiasie en -migrasie ge-inhibeer word.

Dit is in kontras met gesonde velsorg, aangesien meeste velsorgprodukte daarop toegespits is om selvernuwing aan te moedig.

Met ander woorde: Kankerbehandeling gaan inherent selle afbreek en vernietig, terwyl velsorg produkte die selle aan die lewe probeer hou. Ongelukkig is die kankerbehandeling baie meer veeleisend en sterker, wat inherent sal oorheers.

Om hierdie rede is dit altyd ‘n uitdaging vir n kankerpasiënt om haar vel in ‘n gesonde kondisie te hou.

Soos wat die geneesmiddels, bestraling en chemo die selle afbreek en vernietig, benodig ‘n kankerpasiënt produkte wat nuwe selvernuwing gaan aktiveer en stimuleer teen relatiewe optimale konsentrasies.

Die velsorg van n kankerpasiënt moet dus beskik oor elemente en komponente wat die volgende faktore gaan aanspreek:

  1. Herstel :– Alle sellulêre prosesse wat negatief beïnvloed is deur die behandeling – dit gaan gewoonlik gepaard met ‘n vel wat baie jeuk asook baie vatbaar is vir kontak-dermatitis.
  2. Hidrasie: – Kankerbehandeling het ‘n baie “dull appearance” tot gevolg, weens verswakte kollageen- en elastienproduksie. Elastien en kolageen fibrille word vreeslik beskadig tydens kanker behandeling. Hoe meer die vel gehidreer is, hoe meer kan die sintese van kolageen en elastien aangemoedig word, wat natuurlik ‘n voller (meer volume) voorkoms tot gevolg sal hê.
  3. Beskerming: – Kankerbehandeling verhoog die vel se inflammatoriese aktiwiteit. Die kankervel benodig hoë vlakke anti-oksidante om enige inflammatoriese response te kan teenwerk.

Bogenoemde elemente kan dus met die volgende verbindings (produkte) aangespreek word. Ek gee voorbeelde van Optiphi produkte wat gebruik kan word.

  1. Herstel: – Gebruik ‘n produk wat ryk is in peptiede asook verbindings wat die vel gaan kalmeer, 2 keer per dag (Ageless, Dermintense, Moisture Control Ultra)
  2. Hidrasie: – ‘n Serum of nagroom met Hyalaroonsuur (HA) 2  keer per dag (Hydraderm HA Masque)
  3. Beskerming: – ‘n produk met baie hoë konsentrasies van Vitamien B – Niacinamide  –   2 keer per dag (Ageless, Moisture Control Ultra, Restore Therapy)

Elsa:

My raad is om jou velsorgprodukte so eenvoudig en “skoon” moontlik te hou. Ek is self lief vir Clinique en Clarins, maar ek dink in hierdie stadium bevat dit dalk steeds te veel bestanddele.

Al hierdie produkte op jou lysie is uit die boonste rakke, maar ek persoonlik dink jy moet dit vir eers laat links lê tot jou vel heeltemal herstel en hidreer het. Ek raai aan ’n eenvoudige, ongekompliseerde reeks soos Ordinary Skincare of REN of Esse.

Jy kan gerus ook kyk na die organiese produkte op die Faithful To Nature webblad. Hulle lewer dit by jou huis af as jy aanlyn bestel.

Jou gesig: Clinique is bekend daarvoor dat dit anti -allergenies is. Kyk nietemin na produkte wat ryker en meer vogryk is in hierdie stadium. As jy egter gelukkig is met die produkte wat jy tans gebruik, moenie sommer verander nie.

Ek het groot bewondering vir die werk wat die organisasie Look Good Feel Better Foundation doen met vroue wat kanker het, en handelsname soos Clinique, Clarins, Avon en Estee Lauder dra mildelik by tot hul werksessies en produktevoorraad.

Hul webtuiste (http://www.lgfb.co.za/) beantwoord ook baie van die vrae wat jy mag hê en gee slim wenke hoe om jou grimering te doen ens.

Jou hare: As jy dalk jou hande kan lê op Philip Kingsley se No Scent No Colour sjampoe en opknappers sal dit goed wees. Philip Kingsley, ‘n Britse trigoloog, het dit spesiaal vir sy vrou geformuleer toe sy chemo moes kry.

Jy is egter op die regte spoor met die Pantene – jou hare het bowenal vog en olie nodig. Moroccan Oil het ook ’n ryk vogmasker wat jy kan probeer.

Wat betref ligstrepe en kleursel: Ek weet daar is organiese kleursels wat nou deur Carlton Hair gebruik word. Ek sal probeer uitvind presies wat dit behels en jou laat weet.

Jou naels: Sover ek weet, is SpaRitual se naellak vry van skadelike chemikalië. Dit is vry van formaldehied, DBP en toluene wat in ander naelpolitoer voorkom. Lees meer hier.

 Jou lyf: Ek glo in olies. Oral, van kop to tone. My vel word ook erg droog in die winter. Ek is gek oor Nivea se stortroom – dis eenvoudig wonderlik. Probeer Justine se Tissue Oil, Bio-Oil of die nuwe Lipidol wat deur Bio-Oil gemaak word en R79 by Clicks kos. (Ek skryf elders op Mooipraatjies daaroor.)

Ek smeer olie aan my hele lyf direk na ek uit die stort of bad kom, terwyl my vel nog bietjie klam is, en seël dit dan in met ’n ryk lyfroom.

Ek hoop hierdie wenke en inligting help vir jou en ander lesers wat vir my soortgelyke vrae rondom chemoterapie en velsorg gestuur het.

3 Replies to “Chemoterapie en jou Vel – Wat jy Moet Weet”

  1. Beste Elsa en Ansonia

    Baie dankie vir jou vrae (Ansonia) en jou antwoorde Elsa.

    Ek het so pas met chemo begin en baie gehoor en gelees van die uitwerking van chemo op mens se vel. Dus was ek superbly toe ek op dié artikel afkom.

    Ek gaan beslis van die wenke volg.

    Groete

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *