Die ABC van Oktober is BCA

Borskanker is ‘n werklikheid waarvan ons almal pynlik bewus is – en waarmee talle van ons reeds van gans te naderby kennis maak of gemaak het, hetsy dit onsself is, of ‘n ma, suster, dogter, vriendin of kollega.

FlowerMuse-Peonies-WS

Ekself het pas hierdie week weer verneem van ‘n kennis wat volgende week ‘n dubbele mastektomie moet ondergaan en ‘n geliefde jong familielid (jonger as 40) wag vir die uitslae van ‘n biopsie…

Wanneer laas het jy ‘n mammogram gehad? Eerlik nou? Ek is self skuldig – dit is twee jaar sedert ek laas kans gesien het daarvoor. Ons weet almal dis ‘n onplesierige, pynlike prosedure en daarom stel ons dit uit. Maar die alternatief is ‘n miljoen keer meer onplesierig en pynlik en kan permanente, fatale gevolge hê. Daar is dus nie regtig ‘n keuse nie – ‘n mens kan nie jou kop in die sand steek oor borskanker nie. En Oktober is hier om ons daaraan te herinner.

Volgens CANSA is borskanker die algemeenste kanker onder vroue in SA, met minstens 1 uit 33 vroue wat dit kry.

Oktober is oorspronklik in 1992 deur Evelyn Lauder (wat self ‘n paar jaar gelede die stryd teen borskanker verloor het) as borskanker-bewustheidsmaand (Breast Cancer Awareness Campaign / BCA) begin, met die alombekende pienk strikkie as die universele simbool van die stryd teen borskanker wat in dié maand oral gesien en gedra word. Die doel van BCA is om eerstens vroue in te lig en op te voed oor borskanker en die behandeling daarvan en tweedens om vir mediese navorsing oor die siekte te betaal. Daar is in die afgelope 23 jaar sedert die veldtog begin is, reeds der-miljoene dollars, ponde, en rande wêreldwyd hiervoor ingesamel.

So skrikwekkend as wat die diagnose van borskanker is, so sterk is die kanse om genees te word en dit te oorleef – veral as dit vroeg gediagnoseer word.

Laai ‘n pamflet oor die gevaartekens, simptome, mites en feite omtrent borskanker HIER af en maak seker dat jy op hoogte is van die jongste gegewens rondom dié siekte.

Die kosmetiekbedryf bring al jare lank in Oktober hul kant met die sg “pink drive” om bewustheid van borskanker op te skerp en dit is natuurlik heel gepas. Vroue en hul welsyn is immers hul besigheid – gesonde vroue wat lank lewe en wil mooi bly beteken goeie sake. Talle  kosmetiekmaatskappye snoer ook kragte saam met die Look Good Feel Better organisasie om vroue wat behandeling ondergaan, te help om beter oor hul voorkoms te voel en hul selfvertroue ‘n hupstoot te gee gedurende ‘n traumatiese tydperk wat verwoesting saai in ‘n vrou se gemoed, gesondheid en voorkoms.

Hier is ‘n paar BCA promosies wat ek hierdie maand met graagte ondersteun.

Die Estée Lauder groep maatskappye in SA het vandeesweek die Hyde Park Corner-winkelsentrum in pienk ligte getooi, ooreenkomstig met ander ikoniese bakens wêreldwyd.

EL HPC
Die Estée Lauder Groep Suid-Afrika het die Hyde Park Corner-winkelsentrum in pienk lig getooi vir die BCA veldtog.     FOTO: Estée Lauder SA

 

Die kosmetiekhuise onder die Lauder-groep se sambreel (Estée Lauder, Clinique, Smashbox, MAC, Bobbi Brown) bied ook vandeesmaand spesiale BCA-produkte aan, waarvan die winste teruggeploeg word in BCA-projekte.

Clinique se BCA produkte. FOTO: Estée Lauder SA
Clinique se BCA produkte.
FOTO: Estée Lauder SA

 

Een van die mees gevreesde newe-affekte van chemoterapie vir borskanker is haarverlies.

Nie net is daar ‘n wesenlike kans dat ‘n pasiënt al haar hare sal verloor nie, maar die vel en kopvel raak uiters sensitief vir normale vel- en haarsorgprodukte. Die Britse haar-ghoeroe Philip Kingsley het dit eerstehands ervaar toe sy vrou Joan met borskanker gediagnoseer is en hy besef het hoe kankerpasiënte sukkel om produkte te vind wat vry is van kleursel, parfumering en preserveringsmiddels. Hy het toe die Philip Kingsley No Scent No Colour reeks ontwikkel spesifiek omdat die kombinasie van chemoterapie en bestraling die vel so sensitief maak. Die produkte is ook geskik vir enigeen wat sukkel met vel en kopvel wat besonder sensitief is. No Scent No Colour Shampoo (75ml R169,95) en No Scent No Colour Conditioner (75ml R214).

IMG_4113
Philip Kingsley se No Scent No Colour-reeks is spesiaal ontwikkel vir sensitiewe vel en kopvel wat kan volg op kankerbehandeling.

 

Dan is daar natuurlik ghd (terloops weet jy waarvoor staan ghd? Good Hair Day!) As deel van hul PinkDrive stel hulle elke jaar ‘n besonderse pienk haarstryker bekend, en dit word blitsig ogeraap deur versamelaars. In die afgelope 12 jaar het ghd Suid-Afrika meer as R1 miljoen vir PinkDrive ingesamel. Vanjaar se pienk ghd (R2 399) is by haarsalonne of  hier beskikbaar.

ghdvvintagepinkbag
Vanjaar se “vintage pink” ghd ten bate van PinkDrive.

 

L’Oreal Professional het onlangs die Serie Expert Vitamino AO-X reeks bekend gestel by ‘n geleentheid in samewerking met Look Good Feel Better. Vir die eerste maand wat dit op die rak was, het L’Oreal R5 vir elke produk wat verkoop is, aan die organisasie geskenk.

PicMonkey Collage
L’Oreal Professional Vitamino Color AO-X se produkreeks bevat anti-oksidante wat gekleurde hare beskerm teen verkleuring en skade. Die nuwe Soft Cleanser is sulfaat-vry en daarom besonder geskik vir ‘n kopvel wat weens chemoterapie en bestraling uitermate sensitief kan raak.

 

By dié geleentheid het etlike borskanker “vegters” hul verhaal vertel. Ek was besonder geraak deur Rosalind Heard, ‘n konsultant van Bedfordview, se woorde:

“My pad met borskanker het begin toe ek saam met ‘n vriendin wat bang was vir ‘n mammogram gegaan het om haar hand vas te hou. Sy het weggestap – ek het nie. Dit was net danksy ‘n baie deeglike radioloog dat die tumor gevind is, want dit was miniskuul klein en kon so maklik misgekyk gewees het.

“Niks kan jou voorberei op die skok van daardie gevreesde woorde nie – jy het kanker. Jou eerste gedagte is dat dit ‘n doodsvonnis is. Ek is vandag hier om te sê dit is eenvoudig nie waar nie.

“Voor my diagnose was daar twee dinge omtrent myself waarmee ek nooit fout gevind het nie – my hare en my borste. Wel, beide is van my weggeneem. Om jou hare te verloor is een van die moeilikste newe-effekte van chemo. Ek kyk  in die spieël en ek sien Die Kanker-Vrou. My uiterlike voorkoms het verander maar innerlik was ek  steeds dieselfde persoon. Ek het ook kennis gemaak met wat ek genoem het Die Serp-Staar, daarom het ek ‘n pruik gedra as ek my 11-jarige seun by die skool gaan haal, want kinders kan nie hul skok so goed soos grootmense verberg nie.

“Kankerlyers het een ding in gemeen – hulle wil weer normaal en aantreklik wees. Dit mag oppervlakkig klink, maar dit  is ‘n baie gesonde aanpassingsmeganisme. Pasiënte wat aktief deelneem in ‘n poging om goed oor hul voorkoms te voel, het ‘n beter sosiale en psigologiese lewensgehalte. Hierin het Look Good Feel Better vir my ‘n groot rol gespeel.

“Dis nou 5 jaar later en ek het goed herstel. Ek is nie net ‘n ‘survivor” nie, maar ook ‘n oorwinnaar. Ek is ‘n beter persoon ná kanker – ek het ‘n tweede kans vir die lewe gekry. Vandag kan ek skaars onthou dat ek hierdie pad geloop het, wat vreemd is, want gedurende jou behandelingsfase is dit allersoorheersend. Dit voel nou asof dit met iemand anders gebeur het. Wel, dit het. Ek sal nooit weer dieselfde persoon wees nie.”

Ek maak net hierdie nuwe week my afspraak vir daardie uitgestelde mammogram. Wat van jou?

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *