Ek Probeer: Onverbiddelik Organies

Laat ek dit nou maar reg van die begin af erken: Ek is ‘n “sucker” vir kosmeseutiese produkte – vertel my dit is ‘n “Doctor Brand” of ‘n wetenskaplik tegnologiese laboratorium-wonder, en ek is klaar positief verlief en betower.

Esse plus range

As ‘n produk retinol (Vit A), peptiede, hialuroonsuur (HA), askorbiensuur (Vit C), Vitamine E en ceramide bevat, blink my oë. Nog beter as een of ander eksotiese olie, alg of botaniese wonderplant deur slim wetenskaplikes omskep word in ‘n wonderbestanddeel wat jou vel ferm, helder en plooiloos (of amper) gaan maak. Hoe meer hi-tech, hoe gelukkiger is ek.

Dit is dus met groot waagmoed en geloof dat ek myself verbind het om vir minstens 4 weke (28 dae) ‘n organiese produkreeks uit te toets. Ek weet organiese produkte is goed vir die planeet en goed vir die mensdom en goed vir die diereryk, maar ek is nou maar eenmaal verknog aan (duur!) produkte wat in ampules en pipette en klein, donker,  misterieuse botteltjies kom.

Probeer ESSE vir ‘n maand, daag Trevor Steyn, eienaar van ESSE, my toe uit by die bekendstelling van die nuwe ESSE Biome Formulation Plus reeks. Dit is die eerste organiese reeks wat  lewende probiotika (probiotics) in velsorg gebruik en gegrond is op die navorsing van die Human Microbiome Project. My ore spits – navorsing en wetenskap? Nou stel ek inderdaad belang. Buitendien, ek is besig om te werk aan ‘n artikel vir die Oktober-uitgawe van IDEES Tydskrif, wat van voor tot agter gewy is aan ‘n groen en ekologies vriendelike leefstyl, dus moet ek beslis meer uitvind.

'n Glimps-loer na die komende IDEES artikel in die Oktober uitgawe. Die tydskrif is mid-September op die rak.
‘n Glimps-loer na die komende IDEES artikel in die Oktober uitgawe. Die tydskrif is mid-September op die rak.

 

Trevor verduidelik  die navorsing het gewys  dat optimale vel-welstand berus op die teenwoordigheid van triljoene mikrobes wat op en in jou vel leef. “Dit het ons benadering tot velsorg in ‘n nuwe rigting gestuur en bied ons nuwe metodologie om die effek van veroudering op die vel te vertraag.” Lewende bakterieë wat op my vel krioel? Uhmmm, nee, ek weet nie so mooi nie…

“Jou vel is ‘n ekosisteem. Jou vel, immuunsisteem en geestesgesondheid werk alles beter as priobiotika in balans is. Dit het selfs ‘n effek op depressie en oorgewig.” Dit laat my toe dink hoe ek probiotika by die handvol sluk as ek ‘n kursus antibiotika om een of ander rede moes neem. Dit maak sin.

In die ontwikkeling van die nuwe reeks gebruik ESSE probiotiese  mikrobes wat aktief die mikrobiese mengsel op die vel verander en voed sodat goeie, vriendelike mikrobes groei en onvriendelike, pro-verouderende mikrobes verdryf en uitoorlê. Daarvan hou ek – vat so, verouderende mikrobes!

Afgesien van probiotiese mikrobes, bevat die reeks (wat trots Suid-Afrikaans is) plaaslike bestanddele soos Devil’s Claw uit die Kalahariwoestyn, ‘n kragtige nuweling, wat veroudering vertraag en kollageen en elastien beskerm, wat die boublokke van ‘n jeugdige vel is. Kigelia-ekstrak (worsboom, wat al eeue deur vroue in Afrika gebruik word om hul borste ferm te hou) is die aktiewe bestanddeel wat die vel fermer maak.

Die ESSE Biome Plus Premium Probiotic Skincare-reeks van ses produkte, van serums tot oogroom (R1 100 – R1 850) is nou plaaslik en in twintig lande oorsee by uitgesoekte salonne en spa’s beskikbaar.

Hoe vaar ek?

Ek het ‘n kombinasie van die klassieke organiese ESSE reeks en die nuwe Biome Plus reeks gekry om vir ‘n maand lank  daagliks te gebruik.

ESSE collage

Ek gebruik soggens: ESSE Gel Cleanser (R180) omdat ek daarvan hou om my gesig in die oggend te was. Ek gebruik dit saam met my Clarisonic borsel om my vel behoorlik te reinig. Daarna volg ESSE Biome Toner Plus (R370), ‘n verfrissende sproei wat sagkens in die vel in gedruk (pat) moet word tot al die vog geabsorbeer is. ESSE Biome Formulation Plus Ageless Serum (R1 850) is volgende. Dit bevat probiotiese peptides wat die goeie mikrobe-bevolking in die vel so posisioneer dat dit die pro-verouderingspesies kan beveg. Dit versterk die bloedvaatwande en help met herstel van weefsel. Dit beloof om die vel se fermheid en jeugdigheid te verbeter. Dan volg die ESSE Rich Moisturiser (R400) en ESSE Biome Plus Eye Contour Cream (R1 250) wat kraaispore, donker kringe en pofferigheid takel.

Ek gebruik saans: ESSE Cream Cleanser (R199) en ESSE Eye Make-Up Remover (R170); ESSE Biome Plus Probiotic Serum (R1 200) – wat meer as 1 biljoen lewende mikrobes per milliliter bevat!  Wanneer die mikrobes geaktiveer word deur die vog op die vel, stel dit die vel in staat om wanbalanse reg te stel en dit versterk die vel se skermfunksie (barrier function) vir ‘n voller, fermer en sterk vel; ESSE Rich Moisturiser (R400) en ESSE Biome Plus Eye Contour Cream (R1 250).

Ek gebruik 2x per week: ESSE Cocoa Exfoliator (R235)

Week 1:

In alle eerlikheid, ek sukkel!

Dit is vir my baie swaar om “suiwer” en gedissiplineerd te bly en nie my hand uit te steek na ‘n nie-organiese olie of serum op my rak nie. Die punt van groen of organies is juis dat ‘n mens dit nie meng met enige ander kosmetiese produkte wat vol preserveermiddels en ander nie-organiese bestanddele is nie.

Die ESSE produkte ruik wonderlik en is ‘n plesier om aan te wend, veral die twee serums. Dit is ook van die meer bekostigbare reekse op my rak.

Ek vind egter dat my vel, veral met my oggendroetine, ietwat styf en droog voel. Ek het nou begin om ‘n tweede bevogtiger, ESSE Omega Deep Moisturiser (R430), bo-oor die eerste een te gebruik. Ek hunker veral na ‘n vel-olie, want my vel is van nature droog. Ek wonder ook of my chemiese sonskerm en BB Cream nie dalk die goeie werk van die organiese bestanddele ondermyn nie – ek gaan vir Trevor vra daaroor. Ek vind ook dat die produkte soms frummeltjies maak wanneer ek my basislaag (primer) en onderlaag aanwend en sal uitvind hoekom. Andersins lyk my vel heel gelukkig en stralend.

Nou vir week 2…

En hier is ons aan die einde van 4 weke. Eintlik ‘n bietjie langer, maar ek het taamlik verknog geraak aan my organiese velsorgroetine.

Die uitspraak?

Dit het geleidelik makliker geraak om verby die ander verleidelike produkte op my rak te hou en net die ESSE reeks te gebruik. Die frummels wat my aanvanklik gepla het, het verdwyn toe ek my serums een in die aand en die ander een soggens te gebruik, plek van tegelyk. Ek was veral gek na die ESSE Biome Plus Probiotic Serum wat vir my heerlik na karamel ruik. Dit het ook gehelp as ek bietjie tyd laat verwyl na die vogroom, voor ek my BB Cream aanwend.

My vel het beslis van die organiese bestanddele gehou. My gelaatskleur was besonder stralend en egalig en my vel was fluweelsag. Ek het ook baie deugsaam gevoel omdat ek iets doen wat goed en reg is vir die planeet.

My groot gunsteling in die reeks is die ESSE Cream Cleanser wat ek saans gebruik het. Dit is ‘n volslae voelgoed produk, en boonop baie effektief. Die produk waarvan ek die minste gehou het, was die ESSE Eye Makeup Remover – ek het dit nie baie doeltreffend gevind nie.

Daar het nog ‘n redelike leksel produkte oorgebly na my toetstydperk en ek het dit alles nou aangegee na ‘n vriendin, om haar terugvoer ook te kry.

Of ek weer organiese produkte pleks van my geliefde kosmeseutiese produkte sal gebruik? As dit van die gehalte en doeltreffendheid is wat hierdie ESSE reeks my gebied het, alte seker!

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *