Christine Lucignano is CHANEL se internasionale grimeerkunstenaar en sy is ‘n ryk bron van slim grimeerwenke, veral vir ons vroue “van ‘n sekere ouderdom”, soos die Franse dit so delikaat stel.
Dit help dat sy kan identifiseer met ons in ons ryper jare, eerder as met die asemrowende jong modelle en glanspersoonlikhede wat sy die heeltyd onder hande het – as daar ‘n kunsie is om ‘n vrou jeugdiger, varser en sprankelender te laat lyk, het sy dit vergete al bemeester.
Sy is wonderlik vrygewig om haar truuks en geheime te deel, en sy het dit ruimskoots gedoen toe sy in Suid-Afrika was om die fenomenale CHANEL Perfection Lumière Loose Powder Foundation bekend te stel. Dit borsel aan soos ‘n los poeier en transformeer met velkontak tot ‘n ligte roomtekstuur. Dit bevat hoë definisie sowel as “blur” eienskappe wat die vel laat lyk asof daar ‘n lig van agter daardeur skyn. Tot my innige spyt het ek myne vir my IDEES-redakteur in Kaapstad gestuur om uit te probeer (want ek hou mos nie van poeier nie), en ek berou dit elke keer as my skoonheidsredakteur-vriendinne Leigh Toselli en Christine Ferreira hulle s’n uithaal en aanborsel terwyl ek moet aanskou hoe foutloos dit hul vel laat lyk.
Hier is ‘n paar van Christine Lucignano se grimeerwenke om jonger te lyk wat ek nou getrou volg:
- Onegalige veltonus en oneweredige velkleur “leef in die middel” van jou gesig. Dit is waar jy die meeste bedekking of verdoeseling nodig het – en dikwels is dit die enigste deel van jou gesig waar jy nodig het om onderlaag aan te wend.
- Jou onderlaag moet “trou” met jou vel. Dit moet as’t ware soos ‘n tweede vel lyk en voel. Hoe meer dou-agtig (dewy) die afwerking is, hoe beter. “’n Dou-agtige afwerking neem ‘n dekade van jou gesig af,” sê Christine. Die wonderlike CHANEL Blanc de Chanel werk soos ‘n towerstaf om lig na die vel te bring – onder onderlaag of net so op sigself as ‘n beklemtoner.
- Enige blink (frost) beklemtoner werk nie op ‘n ouer vel nie. Eweneens moet jy wegbly van enigiets wat te mat is – dit kan die vel futloos en tam laat lyk. Dus: Bly weg van van blink, gaan groot met glans.
- Beklemtoner (highlighter) is ‘n ouer vel se beste bondgenoot. Gebruik dit so:
- Op die lippe se Kupidoboog – dit doen wonders vir ‘n bolip wat met die verloop van tyd volheid inboet
- By die buitenste ooghoek sowel as die binneste ooghoek of “grotjie” langs die neus. Terloops – die klein donker grotjie by die binneste ooghoek, dig teen die neusbrug, wat met die ouderdom al donkerder raak, is dikwels die teken en resultaat van allergieë en uitputting of vermoeienis. Maak altyd seker jy gebruik eers ‘n verbloemer (concealer) om die kleur egalig te skakeer en volg dan met die glans beklemtoner. Hierdie truuk laat jou oë ook blinker en groter lyk.
- By die mondhoeke, veral as dit inkeep ondertoe, om die marionetlyne te lig
- Rondom die neusvleuels en op die neusbrug
- As jy nog nie elke dag jou wenkbroue borsel nie, begin terstond. Jy kan sommer ‘n klein, sagte tandeborsel gebruik. Dit kondisioneer en maak die wenkbroue skoon, sodat dit gesonder en dikker groei.
- Moet nooit pofferige oë met ‘n verbloemer probeer wegsteek nie – dit vestig juis die aandag daarop.
- As jou boonste ooglig pap is en fermheid verloor het (sag), plaas oogskadu bokant die vou van die ooglid pleks van in die vou – dit het ‘n lig-effek wat die ooglid fermer en voller laat vertoon
- Plaas ‘n kolletjie ligte (goud, silwer, roomkleur) oogkleur reg in die middel van die ooglid, dig teen die wimpers, met ‘n plat borseltjie. Dit laat jou oë stralend en vol lig lyk.
- Gebruik altyd oogomlyner (swart of donkerbruin) om jou wimpers digter en voller te laat lyk – met die regte omlyner kan jy selfs sonder maskara wegkom. (Nie dat ek dit sommer sal probeer nie – ek is verslaaf aan my maskara!)
- As jy ‘n intense, donker oog of ‘n “smokey eye” doen, doen dit heel eerste, voor die res van jou grimering. Dan hoef jy nie agterna enige donker oogskadu-pigment wat op jou gesig gesif het, versigtig af te pik nie.
- Gebruik roomblosser eerder as poeierblosser – dit lyk meer soos jou eie vel. Wanneer jou grimering egter lank moet hou, kies poeier – dis meer langslewend as ‘n roomblosser.
En daar’s hy! Ek hoop Christine se slim wenke werk vir julle. Vive la France!