Groot porieë: grof en onbeskof

Noudat plooie, lyne, pigmentasie en grootmens-aknee almal hul uur van glorie beleef het, is daar ‘n nuwe teiken op die velsorg-radar: vergrote porieë.

Ek reken dis oor die sg “selfie” -ontploffing: Het jy geweet ‘n gemiddelde selfoon-lens “sien” 6 keer meer as die menslike oog – én in hoë definisie! Liewe genade, daar is letterlik nêrens vir ‘n ou lelike sweetgaatjie om weg te kruip nie.

In ‘n onlangse internasionale opname van L’Oreal (2 000 vroue het deelgeneem) het die meerderheid vroue “groot poriee” aangewys as hul grootste vel-kwelling met amper ‘n derde wat meen dis ‘n groter probleem as plooie!

Dermatoloë het nou glad ‘n naam hiervoor: porexia – ‘n neurose oor porieë. In ag geneem dat ‘n mens 50 milljoen poriëe oor jou lyf het, is daar nogal heelwat om oor neuroties te raak!

Die oorsake van vergrote porieë is:

• Ouderdom – soos wat ons ouer word, gaan elastisiteit verlore, die vel rek en sak af, en dan sit ‘n mens met ‘n “maaskaas” kennetjie of ‘n neus en voorkop wat soos ‘n aarbei se oppervlak lyk, met ‘n growwe tekstuur. Omdat die boonste vellaag ook nie meer so vinnig afskilfer en hernu nie, versamel en verdik dooie selle om die porieë, wat dit nog groter laat lyk.

• Hormone – mans het groter porieë as vroue. Vroue in menopouse se porieë vergroot weens hormoonveranderinge.

• Geneties – As jou ouers groot porieë gehad het, is kanse goed dat jy dit ook sal hê

• Son – sonskade verdik die vel en laat porieë groter en die veltekstuur grof vertoon.

• Verstopte porieë – oormatige olieproduksie en dooie selle verstop porieë, dit verrek en krimp nie weer terug nie. Behoorlike reiniging en ‘n gereelde, sagte velskrop (exfoliation) behoort dit te voorkom.

• Aknee, puisies en swartkoppies – infeksie weens aknee en swartkoppies kan porieë vergroot en letsels laat.

Kan ‘n vergrote porie (wat haarfolikels, sweetkliere en oliekliere huisves) regtig gekrimp word?

Dermatoloë sê nee – die klein openinge in jou vel het nie spiere en kan nie oop- en toegaan nie. Jy kan egter baie doen om die voorkoms daarvan te verbeter, te verdoesel of te voorkom.

Wat jy kan doen:

• Reinig jou vel deeglik twee maal per dag.

• Gebruik weekliks ‘n ligte afskilferaar. Moenie oorywerig skrop nie – dit veroorsaak ‘n toename in olieproduksie.

• Gebruik ‘n serum soos Estee Lauder se Idealist Pore Minimizing Skin Refinisher wat die vel rondom die porieë fermer maak en dit kleiner laat vertoon.

• L’Oreal het pas uitgekom met Nude Magique Blur, ‘n nuwe basislaag wat sg. “blur” tegnologie inspan word om jou vel te laat lyk of dit ge-retosjeer is (photo-shop, skattie!) en porieëloos vertoon.

• ‘n Nagroom wat retinol bevat, sal mettertyd porieë kleiner en die velstekstuur fyner laat lyk.

• Sonskerm bedags voorkom dat die probleem vererger.

• Slim gebruik van olie-vrye grimering (wat nie die porieë sal verstop nie) kan jou vel fluweelglad en fyn laat vertoon. Minerale grimering soos die Bodyography-reeks wat by salonne te kry is, is perfek hiervoor. Ek is veral gek oor hul Veil Foundation Primer, wat porieë terstond onsigbaar maak, terwyl Smashbox se splinternuwe Photo Finish Pore Minimizing Foundation Primer vel ragfyn laat vertoon.

PicMonkey Collage2

L’Oreal het nie op hulle laat wag met hul nuwe navorsing nie: Oorsee het hulle reeds ‘n produk genaamd Youth Code Pore Vanisher op die mark. Dit beloof om porieë summier te krimp, ‘n tydelike gladde, porieëlose voorkoms te gee en na 4 weke die porieë daadwerklik kleiner te krimp.

Ek vertel meer as dit in SA land en ons self kan kyk of dit werk.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *