Hierdie Maand Toets Ek…

Ek is wonderlik bevoorreg om die nuutste, die beste en die opwindendste produkte gereeld, nog voor dit op die rak land, op my toetstafel te kry.

Ofskoon ek, soos die meeste van ons, kitsresultate wil sien, eintlik sommer onmiddellik, is dit ‘n feit dat ‘n mens ‘n produk vir minstens 28 dae moet gebruik om te sien of dit ‘n blywende verskil maak. Dit is omdat selvernuwing die vel gemiddeld 28 dae neem. (En toenemend langer, hoe ouer jy word…)

Ek is ook nie danig lojaal aan een spesifieke handelsnaam nie – en ek meng en pas hulle nogal (oordeelkundig). My goeie vriendin Coleen Serebro, eienaar van Beauty Professionals, beskuldig my gereeld van ‘n “vrugteslaai-benadering”, en my enigste verweer is dat dit immers my werk is om nuwe produkte te toets!

Vandeesmaand toets ek ‘n baie interessante velsorgreeks van die Europese Ericson Laboratoire kosmeseutiese instituut. Dié produkte berus op ‘n imponerende wetenskaplike navorsingsagtergrond en die Energy Lift FGF-Optimizer-reeks belowe om jou vel binne 42 dae (dus 6 weke) 10 jaar jonger te maak. Ek is IN!

[FGF = Fibroblast Groei Faktor. Dit is die groeifaktor wat die meeste invloed op ons vel het om selgroei te bewerkstellig en kollageenvorming te stimuleer.]

Daar is twee serums wat ek saam gebruik – die een om holtes en kraters/krake te vul wat nie daar moet wees nie, en die ander een om bulte, vet en volume (wat ook nie daar moet wees nie) kleiner en fermer te maak.

  1. Energy Lift FGF-Optimizer Morpho-Slim Serum (R940): Dit reduseer vet in die wange en nek (hangwange en dubbelken!) en vorm, lig en verferm die kontoere van die gesig en stimuleer die vorming van FGF-2. Ek gebruik dié serum op die onderste helte van my gesig, van die ken af ondertoe en oor my nek.
  1. Energy Lift FGF-Optimizer Morpho-Full Serum (R940) her-plomp die vel waar dit nodig is. Dit vul diep plooie en dinamiese lyne (dié wat jy kry danksy jou gesigsuitdrukkings soos glimlag en frons) met hialuroonsuur (HA) en dit stimuleer ook FGF-2.
  1. Energy Lift FGF-Optimizer Super-Lifting Revitalizing and Restructuring Day Cream (R870) wat die gesig se kontoere weer vorm gee en moduleer, en ‘n lig-effek het.
  1. La Mer The Illuminating Eye Gel. Dit beloof om moeë oë summier blink en stralend wakker te laat lyk en klaar te speel met donker kringe, pofferigheid en tekens van die ouderdom. Ek hou van ‘n oogserum in die somer en wil hierdie produk op die proef stel, ofskoon ek dink dit is dalk te jonk vir my vel en dat die La Mer Eye Balm Intense of die La Mer Eye Concentrate dalk meer geskik vir my vel en ouderdom sal wees.
  1. Sisley Eau Efficace Gentle Make-Up Remover Face and Eyes (R983). In die somer hou ek van ‘n waterige formule in ‘n reiniger om my grimering saans af te haal (in die winter gebruik ek ‘n jelreiniger of ‘n roomformule). Dit is ‘n 3-in-1 produk wat grimering afswiep, die vel reinig en verfris. Dit bevat botaniese bestanddele wat soos seep werk om die hardnekkigste maskara af te lig en lindeboom-bloeisel en neroli-ekstrak sorg vir ‘n lieflike, vars geursensasie. Ek is ook mal oor die slim ontwerp – jy druk net die watte op die prop in ‘n afwaarste beweging en dit word met presies genoeg vloeistof deurweek. Niks morsery, ‘n gedrup of ‘n prop om op te draai nie, en dis boonop uiters higiënies.

Ek trek nou by week 3 met my nuwe reeks toorgoed, en sal ná 42 dae terugrapporteer hoe die Ericson Energy Lift reeks vir my gewerk het.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *