HOE HET JANE FONDA DIT GEDOEN?

Ek het my vergaap aan Jane Fonda by die Emmys oor die naweek.

Op amper 80 (sy verjaar in Desember) lyk sy soos ‘n tiener, met plooilose, vol wange in ‘n perfekte jong C-kurwe, ‘n ferm kakebeenlyn en skitterblou oë. En boonop met ‘n wippende blonde, blink hoë poniestert soos ‘n wafferse kollege-koket.

Om van haar vaartbelynde figuur nie te praat nie – dit moet al daardie oefen-videos uit die 80’s wees.

Sy het haar twee mede-aktrises, Dolly Parton en Lily Tomlin, heeltemal in die skadu gestel – ek glo alle oë was net op haar, en almal moes eenvoudig gewonder het – wat op aarde het sy gedoen om so te lyk?

Lily Tomlin, Dolly Parton en Jane Fonda.

 

Daar moet enorme druk op haar wees om voltyds goed te lyk – sy is immers die gesig van L’Oreal se velsorgreeks vir ouer vel en sy is nog baie aktief as aktrise in televisiereekse soos Frankie & Grace.

Sy het nie altyd so gelyk nie, dis vir seker. Sy het wel die voordeel van ‘n fantastiese beenstruktuur, wat altyd help, maar ouer foto’s wys ‘n vel wat plooierig en afgerem lyk en al het sy wonderlik vir haar jare gelyk, kan dit nie vergelyk met wat ons sopas op televisie gesien het nie.

‘n Vroeër foto van Jane Fonda. Hier is haar vel duidelik verouder, dun en perkamentagtig. En enige jeugdige glans (radiance) is morsdood vaal gepoeier, boonop. Poeier is nié ‘n ouer vel se vriend nie, glo my!

 

Ek wonder nogal of dit te doene het met die nuwe rolprent wat sy saam met Robert Redford gemaak het – sy sê hoeka die sekstonele tussen hulle kon maar vir altyd aangehou het, wat haar betref! Ek kan nie wag om Our Souls at Night te sien nie.

Robert Redford en Jane Fonda in Our Souls At Night, wat binnekort vrygestel word.

 

Nietemin, vir almal wat wil weet, myself insluitend, wat sy kon gedoen het om soos ‘n vrou dekades jonger as haar jare te lyk, het ek by ‘n paar kosmetiese dokters en ‘n plastiese chirurg gaan kers opsteek of hulle wou bespiegel daaroor.

Dit kon nie net ‘n gewone ontrimpelingsoperasie (facelift) gewees het nie. As sy dit onlangs laat doen het, sou sy nooit daardie genadelose haarstyl kon dra nie – die poniestert sou operasie-littekens agter of voor haar ore baie duidelik ontbloot het. (Alhoewel ‘n stywe, hoë poniestert natuurlik baie verjongend werk, want dit trek die hele gesig op!) Van ore gepraat – dit is eintlik al wat haar ouderdom redelik verklap – hoe ouer jy word, hoe langer raak jou ore, want hulle hou nooit op groei nie! Deesdae spuit kosmetiese dokters ook vullers in oorlelle wat dor en verkrimp soos pruimedante lyk om dit jonger te laat vertoon. Ja, sowaar.

Dr Vivien Jandera, plastiese chirurg van Pretoria meen sy het beslis ‘n chirurgiese ontrimpelingsoperasie gehad, ‘n hele rukkie terug. “Geen 80-jarige kan so ‘n gedefinieerde kakebeenlyn hê sonder so ‘n prosedure nie.” Ouer foto’s wys dit kon dalk twee jaar gelede gewees het, as ‘n mens dit vergelyk met hoe sy nou lyk. Sy het gewis ook vullers gehad om die volume in haar gesig te herstel, en ook ‘n operasie op haar ooglede, ofskoon dit langer gelede kon wees, meen Vivien. En ook velopkikkers (skin boosters) soos dié van Restylane Skin Boosters, om die vel se gehalte en tekstuur ‘n hupstoot te gee. “Onthou, hierdie sterre doen gedurig klein goedjies, die hele tyd, om hul voorkoms te verbeter. En beslis goeie grimering!”

Dr  Lerato Masemola, kosmetiese dokter van Johannesburg spekuleer dat sy ‘n thread lift kon gehad het, of ‘n volledige chirurgiese ontrimpeling in haar gesig, maar nie op haar nek nie, want daar wys die ouderdom tog wel.

Dr Gerhard van Niekerk, kosmetiese dokter van Kaapstad en hoofopleier in Suid-Afrika vir Silhouette Soft Thread Lift sê: “Ek dink sy het waarskynlik al alles gedoen. Van goeie velsorg en estetiese behandelings soos botoks en vullers tot rekonstruktiewe plastiese chirurgie.”

Dr Nandi Mbawu is nog ‘n Johannesburgse kosmetiese dokter wat raai dat Jane se vel beslis met radiofrekwensie-prosedures soos BTL Exilis styfgetrek is en dat sy deur ‘n paar sessies velverjongingsterapie (mesoterapie, mikrodermabrasie, velskilfering, laser) is om die gehalte en tekstuur van haar vel te verbeter. “Dis behandelings wat uitstekend werk, ek is self ‘n voorbeeld daarvan.”

Haar vleiende grimering is met ‘n bedrewe kunstenaarshand aangewend.

 

En dan is daar natuurlik die grimering – maar vir grimering om goed te werk, moet jou vel in top kondisie wees. My raaiskoot is dat sy ná ‘n ryk bevogtiger wat haar vel deurweek en opgeplomp het met hialuronsuur, ‘n baie goeie verhelderende (illuminating) basislaag (primer) onder haar onderlaag gebruik het, en die grimeerkunstenaar het kwistig gewerk met beklemtoner (highlighter) by haar wangbene; daar is beslis bedrewe kontoering onder haar wangbene en ken gedoen en haar pragtige oë is treffend beklemtoon met swart maskara en omlyner. Ek wag om te hoor wat my grimeerkunstenaarvriende se bespiegeling is oor haar grimeerkunsies en vertel meer sodra ek terugvoer kry.

Wat dink julle van Jane se voorkoms? Ek sê: Good for you, girl!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *