Justine A-Firm Platinum reeks: Ek het dit probeer

Teen die einde van ‘n riller van ‘n jaar was my vel en ek gereed om iets nuuts te toets. Dis vervelig om te hoor van rampe en ellende, veel lekkerder om te skryf oor ‘n nuwe produkreeks wat dalk kan help vir die skade wat die jaar met my vel aangerig het.

Die bekende Suid-Afrikaanse kosmetiekhuis Justine het gevra of ek lus is om hul nuwe A-Firm Platinum-reeks, spesiaal geformuleer vir verouder(en)de vel, te toets. So eindig my vakansie velsorgtassie toe met  A-Firm Platinum Anti-Ageing Serum (R349); A-Firm Platinum Anti-Ageing Day Cream SPF 25 (R349); A-Firm Platinum Anti-Ageing Night Cream (R349); A-Firm Intensive Deep Wrinkle Eliminating Serum (R249)

Volgens die beskrywing bied die produk intensiewe teenverouderingsorg en spreek dit die opsigtelike tekens van veroudering aan: lyne, plooie, verlies aan fermheid, dofheid en dehidrasie. Ek dink ons is dit almal eens dat die ergste van hierdie spulletjie die verlies aan elastisiteit is, wat veroorsaak dat jou gelaat se kontoere uitsak, fermte verloor en pap raak. Dit is geformuleer met platinum-ekstrak, ‘n bestanddeel wat ek nog net in van die heel duurste produkte teengekom het. Volgens Justine kan ‘n mens binne 7 dae se gebruik reeds die verskil aan jou vel sien.

Oudergewoonte het ek my vel se vog- en olie-inhoud sowel as die elastisiteit gemeet met my vernuftige  Skin Republic analiseerder net vóór ek die produk begin gebruik het. Hier is die lesing.

Die lesing dui aan dat my vel se elastisiteit normaal is, maar beter kan wees; die voginhoud is net-net normaal, maar kan beslis BAIE beter en die olie-inhoud is te heeltemal hoog.

Ek het die gebruiksaanwysings getrou gevolg. Soggens nadat ek my gesig gereinig het, het ek eers die serum aangewend, wat benewens platinum-ekstrak, ook vrugte-stamselle bevat. Ek het dit kans gegee om te absorbeer voordat ek die dagroom aangewend het.

Die A-Firm Platinum Anti-Aging Day Cream SPF25 dagroom was vir my die verrassing in die reeks. Toe ek dit aanvanklik oopmaak, het ek bietjie geskrik, want die tekstuur was báie dik en báie wit. Ek het aangeneem die witheid hou verband met die sonskerm in die produk. Nietemin, die produk het wonderlik absorbeer en my vel vogtig en stralend laat voel en lyk. Ek hou veral daarvan dat dit ‘n multi-doener is, wat nie net fermheid en elastisiteit aanpak nie, maar ook goeie sonbeskerming bied. Dit is ‘n perfekte vakansiemaat vir die vel.

Saans het ek die A-Firm Intensive Deep Wrinkle Eliminating Serum gebruik, (ofskoon ‘n mens die Platinum Serum ook kan gebruik) gevolg deur die nagroom. Hierdie serum teiken diep plooie.Volgens die instruksies (ek lees dit altyd!) moet dié serum nie gebruik word sonder sonskerm nie omdat dit die vel son-sensitief maak.

Die nagroom het ‘n dunner tekstuur as die dagroom, absorbeer ook dadelik en verhoog die vel se voginhoud vir 24 uur ná ‘n enkele aanwending. Dit is juis in die nag dat die vel vog benodig om die dag se skade te herstel (lees my artikel oor die vel en die dinge van die nag binnekort in die Winter-uitgawe van die pragtige Stellenbosch Visio glanstydskrif).

Die resultate? Ná ‘n maand se gebruik, is my vel se lesing só:

Duidelik is die voginhoud aansienlik hoër (jippie – ‘n dor vel is ‘n plooivel) en die olie-inhoud is af, maar normaal. Die elastisiteit is ook hoër. Boonop het my formidabele velterapeut, Coleen Serebro van Beauty Professionals, wat my vel deur en deur ken, vandeesweek opgemerk dat my vel verbasend goed lyk ná al die drama (narkose twee maal) van laas jaar!

My gevolgtrekking? My vel het duidelik gebaat by die reeks. Dit is effektief en die prys is baie redelik. Probeer dit gerus as jou vel die tekens van die tyd wys. Of as jy deur ‘n rowwe tyd is en jou vel liefde en vertroeteling nodig het.

2 Replies to “Justine A-Firm Platinum reeks: Ek het dit probeer”

  1. Ek sal nie kan kies nie. Justine is ‘n plaaslike produk en daarom dalk meer bekostigbaar, en Avene is een van die voorste verkopers in Franse apteke en daarom ‘n bietjie duurder as Justine.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *