Kontoering is die nuwe gonswoord in die grimeerbedryf.
Wangbene, sterk en skerp gevormde kakebeenlyne, skoonveld verdwene dubbelkenne, glimmende slape, fyn besnede neusies – dit alles kan met die behendige haal van ‘n kwas opgetower (of weggetoor) word. Om die waarheid te sê, kontoering is die erkende, universele perfeksie-formule vir Hollywood se sterre – mans sowel as vroue.
Kontoering was nog altyd die terrein van ervare grimeerkunstenaars, maar nou kom elke groot kosmetieknaam vorendag met kontoerstelle sodat jy dit self kan doen. Die avant-garde span van Smashbox Cosmetics was eerste, met hul Step-By-Step Contour Kit (R550) wat pas op die rakke beland het. Kort op hul hakke volg ander groot name, en Clinique se lekker vet inkleurpotlode vir kontoering is binnekort beskikbaar. Ek hoop om aanstaande week my hande daarop te lê, want ek het ‘n spesmaas ‘n romerige formule is dalk makliker as ‘n poeierformule vir kontoering.
MAAR o wee, laat ek dit nou maar ronduit beken: Ek maak ‘n liederlike gemors van kontoering!!! Ek betakel myself gewoon in ‘n spektakel in. Maak nie saak hoe getrou ek die stap vir stap aanduidings volg nie, ek eindig konstant met die voorkoms van ‘n verdwaalde lid uit ‘n eksotiese stam in die Amasone. Ek het vanoggend opsy gesit om te oefen, en die eindresultaat het in die wasbak afgespoel. 🙁 En nee, my ego is heeltemal te broos om ‘n selfie van my lomp handewerk te neem!
Ek gee nietemin nie op nie – ek het ‘n noodkreet-versoek ingesit na Will Malherbe van Smashbox vir ‘n kontoer “master class”. In die tussentyd kan dié van julle wat my op Pinterest volg, kyk na die kontoertegnieke wat ek daar vasgespeld het as julle wil eksperimenteer.
Ek is oortuig hierdie is een trend wat die moeite werd is om baas te raak, want dit gaan net al hoe groter en gewilder raak. Hou hierdie ruimte dop!