Lig Jou Gesig Sonder die Mes

Ek skryf al baie jare oor teenveroudering, veral in tydskrifte soos Longevity Magazine. Dus het ek al herhaaldelik oor die Thermage Gesigbehandeling geskryf, en ken ek net mooi al die feite, agtergrond en teorieë daaromtrent.

Ek het nietemin nog altyd ‘n wye draai om dié behandeling geloop, stellig omdat ‘n vriendin 10+ jaar gelede sleg op haar voorkop gebrand is toe dit nog nuut in die land was. Dit was waarskynlik te wyte aan ‘n oorambisieuse of onervare  dokter of terapeut, maar dit het my afgeskrik. Boonop kon ek nie juis ‘n verskil aan haar voorkoms sien nie.

Slide41
VOOR en NA foto’s van ‘n pasiënt wat Thermage gehad het.

 

Maar: So ‘n jaar of twee terug het ek weer begin regop sit en my ore gespits oor die nuwe, dramaties verbeterde Thermage gesigbehandeling wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is. Die wonderlike ding omtrent tegnologie is immers dat dit die hele tyd ontwikkel en verbeter, nie waar nie? En verlede week het ek die stoute skoene aangetrek op uitnodiging van Cornelius Niemann van Inova Pharmaceuticals, wat die Thermage masjiene eksklusief uit Amerika invoer.

Wat Is Thermage?

Die proses:

Thermage gebruik gepatenteerde radiofrekwensie (RF) tegnologie om die dieper lae van die vel te verhit. Dit stimuleer kollageengroei, wat sorg vir jonger vel. Soos ‘n mens ouer word, verloor die vel kollageen en elastien, daarom raak jou vel pap en plooierig.

Die hitte verstewig die kollageen (dis amper soos om eierwit te verhit – die tekstuur raak veerkragtig en ferm) en maak die verslapte elastienveseltjies weer styf (amper soos ‘n rubber rekkie wat pap is en nou weer styf getrek word).

Resultate:

  • Gladder, fermer vel
  • Kontoere word herdefinieer, in die besonder by die kakebeenlyn en onder die ken
  • Lyne om die mond, oë en op die voorkop is sagter en vlakker
  • Los keelvelle onder die ken is stewiger en kleiner
Slide12
Dit is die resultate wat ‘n mens te wagte kan wees na ‘n Thermage behandeling

Hoe lank hou dit?

Die resultate verbeter toenemend vir drie tot ses maande ná ‘n enkele behandeling, wat sowat ‘n uur duur. Resulte kan jare hou, afhangende van jou vel se kondisie, hoe toegewy jou velsorgroetine (insluitend sonbeskerming) is en hoe goed jy verouder.

Vereis dit af-tyd om te herstel?

Geensins. Jy kan dadelik teruggaan kantoor nie, jou gesig sal hoogstens ietwat rosig lyk.

Vir wie is dit geskik?

Vroue (en mans) tussen 35-60, afhangende van die kondisie van jou vel. Jy is nie ‘n geskikte kandidaat as jou vel erge sonskade het nie. As jou vel hopeloos pap en uitgesak is, gaan Thermage ook nie vir jou ‘n dramatiese effek lewer nie – daar is ‘n tyd of omstandighede wanneer ongelukkig net die mes ‘n verskil sal maak. ‘n Knap kosmetiese snydokter sal beslis vir jou die regte aanbeveling kan maak oor hoe jy jou geld ten beste kan bestee om jeugdiger te lyk.

Dit is ook geskik vir verskillende etnisiteite, in teenstelling met sekere laserbehandelings wat nie geskik is vir swart, bruin of Asiër vel nie.

Die verskil tussen ‘n chirurgiese kosmetiese ontrimpeling (facelift) en Thermage

Ontrimpeling: Lewer dramatiese resultate/verskil; Hoër risiko; Hoër koste vir teater, narkose ens; Hersteltyd; Wondversorging en opvolgbesoeke

Thermage: Lewer subtiele tot dramatiese verskil; Minimale risiko; Laer koste; Geen of min hersteltyd; Geen spesiale nasorg nie

Wat kos dit?

Tussen R18 000 – R25 000, ‘n breukdeel van ‘n ontrimpelingsoperasie. Dit hang af van die toerusting wat gebruik word (verskillende energie-polskoppe het verskillende pryse) en die dokter se fooie.

Thermage Collage
My gesig is blokkie vir blokkie gekarteer vir die Thermage gesigbehandeling. Onder is Dr Ching besig met my, die Thermage-masjien in die agtergrond. My gesig is bedek met jel wat die energie gelei. Die blokkies is agterna met alkohol afgevee.

My Ervaring

Ek het so teen tienuur die oggend ingeklok by plastiese chirurg dr Vernon Ching van Precision Aesthetics in die Waterfall City Netcare Hospitaal.

Ek was, ondanks al my teoretiese kennis oor die prosedure, tog maar benoud en het myself afgevra of ek weet wat ek nou aanvang? Maar ‘n paar minute in Dr Ching se rustige, gesaghebbende teenwoordigheid het my heeltemal kalmeer. Hy het in die allerfynste besonderhede my mediese geskiedenis, kwinte, kwale en pille en pyne deurgegaan, met niks wat aan die toeval oorgelaat kon bly nie.

Wat pla my aan my voorkoms, wou hy weet. Die onderste derde van my gesig (neus-tot-mondhoek en marionetlyne), my papperige kakebeenlyn en die crêperige tekstuur van my nek by my keel rond, bely ek.

Daarna het hy  vir my die hele prosedure stap vir stap op sy rekenaarskerm gewys en verduidelik. Veral die VOOR en NA foto’s van sy eie pasiënte het my behoorlik imponeer en opgewonde gemaak. Die vorige week het hy sy skoonma onder hande gehad!

Toe gryp hy sy kamera en ‘n kaliper-meetinstrument – dit was my skoongesig oomblik van waarheid. (Vooraf moes ek my gesig kraakskoon was met SkinCeuticals se reinigingsjel.)

Terwyl hy die spasie tussen my oë, by my neusbrug meet, het hy verduidelik dat plastiese snydokters streef na die Goue Ratio, ook bekend as die Fibonnaci Syfers van 1.618. 

In kort beteken dit dat jou gelaatstrekke matematies of geometries gemeet kan word om perfekte balans en simmetrie te bepaal. Soos ‘n mens ouer word, verskuif en verander die kontoere en beenstruktuur van jou gesig, en die Goue Ratio van jou jeug raak, wel, ietwat roeserig en minder goud van aard…

Hy het ook foto’s van my gesig van reg voor, sykante vir die profiel en weerskante teen ‘n hoek van 45 grade geneem.

Dr Ching se uitspraak was dat die proporsies van my gesig gaaf is, maar dat daar ruimte is vir verbetering: Die verhouding tussen my bo- en onderlip is nie meer die ideale 1.618 nie want my bolip word dunner, my ken se kontoere kan doen met ‘n klein verstelling en my kakebeenlyn en nek sal baat vind by die lig-en-verferm effek van die Thermage-behandeling. Hoegenaamd nog geen nodigheid om ‘n volskaalse “facelift” spaarvarkie te begin voer nie, verseker hy my. Met ‘n kombinasie van nie-chirurgiese prosedures soos Thermage, vullers, Botox, Fraxel laser en velskilfering (peels) kan ek nie net kits-jonger en varser lyk nie, die Thermage- resultate verbeter oor die volgende drie tot ses maande en een enkele prosedure hou lank – jy hoef dit nie te herhaal nie.

Ek het gemaklik agteroor gelê in ‘n verstelbare stoel en Dr Ching het vir my die laserkop (elke pasiënt kry ‘n nuwe, persoonlike laserkop wat gelaai is met ‘n sekere hoeveelheid energiepolse) gewys. Daarna is my gesig met behulp van ‘n spesifieke patroonpapier uitgeblok. Die genommerde blokkies is presies so groot soos die laserkop sodat die dokter noukeurig kontroleer hoeveel energie op elke blokkie neergesit word, met meer aandag aan probleemareas.

My gesig is vooraf bedek met ‘n dik laag jel-geleier. Toe spring hy aan die werk met die Thermage masjien en die energie-polskop. Na elke blokkie moes ek aandui hoe warm en sensitief dit voel. Die polskop het ook ‘n vibrasiefunksie om jou aandag af te lei van die hitte. Ek het die proses geensins onhoudbaar gevind nie, net meer hitte-sensitief by areas waar been na aan die veloppervlak is, soos my kakebeen en wangbeen. Ek het ook nie gehou van die vibrasie by my keel nie, dit wou my laat kug of giggel. Dr Ching het die vibrasiefunksie vir my nek afgesit, maar ek het dit geniet op my gesig – dit het soos ‘n massering gevoel.

Halfpad deur die prosedure, met die regterkant van my gesig voltooi, het Dr Ching in ‘n spieël vir my gewys hoeveel fermer dié kant reeds is – daar was aansienlik minder vel wat in die rigting van my slape opgeskuif of gevou kon word. Ek kon dit met my eie oë sien.

Dit is nou 6 dae na die prosedure. Ek hou my gesig (veral my ken, keel en kakebeenlyn) met ‘n arendsoog dop, en dis gewis nie my verbeelding nie dat my kontoere sigbaar skerper lyk. Ek sal wag vir die NA foto’s oor ‘n maand om dit behoorlik te vergelyk en vir julle te wys.

Gevolgtrekking

Nou kan ek uit regte, persoonlike ervaring skryf oor Thermage en ek is beslis nie meer bang daarvoor nie!

Inteendeel, ek het nou nog ‘n pyl in my koker om my vriendinne en lesers behoorlik en gesaghebbend te kan advies gee as hulle begin wonder wat hulle kan doen om die tekens van veroudering in toom te hou.

Ek kan nie wag om te sien wat die resultate na drie maande gaan wees nie. Soos die Engelse gesegde lui: Watch this space!

4 Replies to “Lig Jou Gesig Sonder die Mes”

  1. Hallo Gezina. Ek dink jy moet ‘n goeie plastiese chirurg raadpleeg. Hulle is opgelei om elke spiertjie, senuwee, weefsel en kraakbeen in jou gesig te ken soos die palm van hul hand en sal jou die beste raad oor behandelingsopsies kan gee. Daar kan ook ‘n neurologiese oorsaak wees vir die verlamde gesigsenuwee, en dit kan selfs met jou tande te make hê. Thermage werk op die dermis, in die diep lae van die vel, ten einde kollageenproduksie te stimuleer. Na my kennis beïnvloed dit nie die senuwees of spiere nie. Maar slegs ‘n spesialis gaan vir jou die korrekte advies hier kan gee. Ek kan vir jou ‘n paar goeie plastiese snydokters se name gee as jy wil. Vuller is natuurlik ook ‘n opsie as dit net die keep van jou neus na mondhoek is wat pla, en ‘n goeie chirurg sal jou ook daarmee kan adviseer en help.

  2. Dankie vir die interessante artikel! Ek is nou 66 en het een gesigsenuwee wat nie werk nie. Geen dokter kon sê wat dit veroorsaak het nie. My glimlag is m.a.w. skeef aangesien die regterkant nie werklik kan glimlag nie. Die keep van my neus tot my mond is vir my te sigbaar. Wat dink jy, sal ek die behandeling kan ondergaan of sal die gevaar bestaan dat die senuwees verder kan beskadig?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *