MATIS Activ Caviar Gesigbehandeling en die Soprano Near Infrared (NIR) Anti-Ageing Laser

Wat is Dit: MATIS Activ Caviar Gesigbehandeling (facial) in kombinasie met die Soprano Near Infrared (NIR) Anti-Ageing Laser by die Matis Institute, The Firs, Rosebank.

Ons word almal ouer, maar ons is nie altyd ewe geneë om die tekens daarvan te sien nie. Ek is ‘n groot aanhanger van teenverouderingstegnologie met slim masjiene, en as dit gekombineer kan word met die pamperlang-plesier van ‘n twee-uurlange gesigbehandeling, is ek die ene ore.

Dit Belowe: Die NIR- behandeling maak gebruik van infrarooi strale om die dermislaag van die vel binne te dring en te verhit sodat kollageenvorming aangemoedig word ten einde ‘n jonger, varser voorkoms aan te moedig. In kombinasie met die Activ Caviar behandeling is dit presies wat ‘n vel wat besig is om sy fut en fermte te verloor, nodig het om dit te lig en glad te stryk. Dit is veral geskik as jy jou verknies oor hangwange, ‘n dubbelken en ‘n pap kakebeenlyn. So lyk van die resultate wat verkry is:

NRI Lser Antiageing
Foto’s: Verskaf

NRI2

Die Activ Caviar is ‘n nuwe premium behandeling wat deur die Franse skoonheidsreus Matis ontwerp is en nou by hul salonne aangebied word. Die hoofdoel van die behandeling is om plooie te behandel, selvernuwing te stimuleer en verslapte vel te behandel. Dit verbeter die vel se elastisiteit en stimuleer fibroblaste om kollageen en elastien te vervaardig sodat die vel gladder en fermer vertoon.

Ek Sê: Ek is al amper 20 jaar ‘n kliënt van Elani Beckley, die bekwame (en pragtige) eienaar van die Matis Institute in Rosebank. Toe sy my dus genooi het om dié nuwe teenverouderingsbehandeling te kom probeer, het ek terstond ‘n afspraak gemaak. Dit was net voor die vakansie en my vel kon doen met ‘n hupstoot ná ‘n woeste, uitmergelende jaar.

Die behandeling begin met ‘n sessie NIR infrarooi laser van ‘n halfuur. Ek is mal oor slim masjiene, en het die behandeling met die infrarooi lig baie aangenaam gevind. Die intensiteit van die strale wat na die dermis deurdring en dit verhit, word outomaties bepaal en gemeet met ‘n meganisme wat jou vel se vermoë of presiese behoefte daaraan vooraf bepaal. Met herhaaldelike sessies kan die hitte hoër gestel word soos wat die vel daaraan gewoond raak. Die ideaal is om ‘n taamlike hoë frekwensie te bereik. Vir die beste resultate behoort ‘n mens ‘n paar sessies of ‘n kursus van die behandeling te doen.

Die geheim van die Activ Caviar gesigbehandeling, benewens die aktiewe bestanddele, lê in die besonderse gesigmasseringstegniek wat daarmee gepaard gaan: Drukpunte word gestimuleer van die kroontjie van jou kop, oor jou oë, met jou oorskulp langs, af teen die neus en ken, tot by jou hals en décolleté en al met die skouers (daardie snaarstywe skouers en nekspiere wat soos ‘n draadhanger voel!)  langs. Dit is ongelooflik stimulerend én ontspannend en ‘n mens sweef omtrent in ‘n koma van beneweling en plesier in. In die proses word die gesig met die kaviaar masseerpêrels in ‘n gaas “stempel”-pakkie bewerk wat die aktiewe bestanddele vrystel en diep in die vel in masseer. Die hoofbestanddele is kaviaar-ekstrak, plantolies en agar agar.

Peperduur/Pynloos/Prakties: Die NIR is die perfekte voorkomende behandeling as jy nie wil wag tot die skade gedaan is en jy moet begin soek vir die nommer van ‘n goeie plastiese chirurg nie. Dit verferm verslapte vel op die gesig, nek, arms en maag.

Die Activ Caviar gesigbehandeling is ‘n absoluut heerlike ervaring danksy die spesifieke masseertegniek en jy hoef nie te wag vir die resultate nie: Dit laat jou vel onmiddellik jonger en stralend vertoon. Teen R1 400 vir ‘n salige twee ure is dit beslis ook nie peperduur nie.

Prys: Soprano Near InfraNIR Anti-ageing Laser: R1 180 vir 30 minute (‘n pakket van 6 sessies kry 10% afslag); Activ Caviar Gesigbehandeling: R1 400 vir 120 minute

Navrae: Matis Rosebank 011 447 5055 of info@matisrosebank.co.za of besoek www.matisrosebank.co.za

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *