Ek skryf nie gewoonlik oor produkte anders as skoonheidsprodukte vir velsorg, parfuum, persoonlike versorging en grimering nie, maar wil tog ‘n vonds met julle deel: ‘n Produk wat ontsierlike letsels en littekens minder opsigtelik maak.
Daar is seker maar min mense wat rondloop sonder enige letsels of littekens op hul gesig of lyf. Ongelukke gebeur. Of dit nou ‘n operasiewond is (my blindedermsny van toe ek 8 jaar oud was, is vieslik lank en steeds opsigtelik), ‘n insekbyt wat die weefsel aanval of moesies wat verwyder is, of ‘n sny wat steke moes kry – daar is min mense wat letsels in hul leeftyd heeltemal vryspring.
Soms leef ‘n mens so lank met ‘n letsel saam dat jy nie eens daaraan dink dat dit dalk verhelp kan word nie. Ek het ‘n ou letsel van laerskooltyd bokant my linkerwenkbrou waar ek moes steke kry, en ek is so gewoond daaraan dat ek dit nie eens meer opmerk nie. Maar dit is daar en soms val dit my tog op. Ek sou dit graag bietjie ligter wou laat lyk.
Dis waar Mederma Proactive Gel (R189) my pad gekruis het. Dit is ‘n kliniese gesertifiseerde letseljel (scar gel) en een van die voorste produkte in letsel-terapie. Dit bevat bestanddele wat letsels sagter, meer soepel en elasties en minder sigbaar maak.
Volgens Annemi Strydom, handelsmerkbestuurder van Genop Healthcare, wat die produk bemark, is daar 5 faktore wat die vorming van letsels beïnvloed:
-
Ouderdom
Hoe ouer jy is, hoe stadiger genees jou vel, en dit lei tot meer letselvorming. Tussen die ouderdom van 10-30 kan daar ook ‘n oorproduksie van bindweefsel wees en dit kan groter letsels veroorsaak. Hoe ouer jy raak, hoe dunner raak jou vel en selfs ‘n geringe skraapwond kan die vel soos papier laat skeur. My man het onlangs geval en die rugkant van sy hand lelik beseer – dit was letterlik soos ‘n piesangskil wat van die weefsel weggetrek het. Die dokter het die los vel weggeknip en so gou die wond begin genees het, het ek Mederma daarop aangewend. Daar is feitlik nie ‘n merkie oor nie.
-
Veltipe
Oor die algemeen is mense met donker of baie ligte vel meer vatbaar vir opmerklike letsels. Genetiese faktore speel ook ‘n rol in hoe mooi ‘n wond genees.
-
Hormone
Swanger vroue en tieners in die midde van hormoonstorms, is meer geneig tot prominente letselvorming.
-
Beseringsarea
Opsigtelike letsels sal vorm op areas van die liggaam waar die vel styftrek, dun of onder druk of stres is, soos die skouers, elmboë en knieë.
-
Beseringskompliksies
Infeksie beteken ‘n hoër risiko vir lelike letsels.
Hoe ontwikkel letsels?
Die liggaam is goed ingerig om wonde en beserings te heel. As die besering die hipodermis of dieper lae van die vel bereik (epidermis is die boonste laag, dan volg die dermis en dan die hipodermis), word die wond outomaties verseël met bloed wat ‘n klont vorm. Dit voorkom dat vreemde partikels die wond indring en infeksie veroorsaak. Die wond word geleidelik met bindweefsel gevul. Nuwe bloedvate word gevorm, wat meebring dat die vars letsel rooi vertoon. Die nuwe weefsel het nie kleurpigmente nie, daarom bly ligte littekens agter wanneer die rooi verdof.
Wat moet jy doen as jy ‘n besering kry wat ‘n letsel gaan vorm?
Moenie wag nie: Begin dadelik met letsel-terapie om te verseker dat ‘n letsel bykans onsigbaar raak. Hoe gouer jy begin, hoe groter die kans dat ‘n letsel glad, soepel en bykans onsigbaar sal wees. Sodra die steke uit is of ‘n wond toegegroei het, kan jy Mederma begin gebruik. Dit werk ook op ouer letsels om mettertyd die veltekstuur en voorkoms te verbeter.
Die jel bevat cepalin, allantoin en aloe vera om die genesingsproses aan te help en die vel soepel te hou sodat die letsel sag, fyn en elasties sal bly. Masseer dit twee maal per dag in met klein sirkelbewegings (begin die die middel van die letsel en werk uitwaarts).
Resultate:
Met gereelde aanwending behoort jy na 8 weke ‘n merkbare verskil in die voorkoms van ‘n vars letsel te kan sien, en 3-6 maande vir ouer letsels.
Niks (behalwe plastiese chirurgie of laserbehandeling) kan letsels volkom laat verdwyn nie, maar jy sal vind dat dit baie minder opvallend is. My wenkbrouletsel het merkbaar verbleik.
Hanteer jou letsels korrek
Son
Beskerm letsels teen fel sonskyn met ‘n hoë SBF-sonskerm. Die nuwe vel wat vorm, bevat nie pigmentselle om melanien te vorm wat die vel teen UV-lig te beskerm nie.
Vermy uiterste koue en hitte
Matige temperature help met ‘n letsel se weefsel-rekonstruksieproses.
Grimering
Letsels kan met slim grimering en tegnieke gekamoefleer word.
Kamoefleerprodukte bevat 55% meer pigmente as gewone onderlaag. Van die bekendste (en beste) kamoefleergrimering word gemaak deur Coverderm.
Steek kers op by ‘n goeie grimeerkunstenaar wat spesialiseer in die kamoeflering van velprobleme. Kyk gerus na Ryno Mulder se webblad – hy is ‘n meester daarmee.
Kleredrag
Littekens of letsels, veral as dit nog vars is, moenie met stywe klere of growwe material geïrriteer word nie – dit kan die wondweefsel rooi en hard maak. Dra ligte, los klere en sagte kleedstowwe.
Mederma Proactive Gel is sonder voorskrif beskikbaar by meeste apteke.
Dankie dat jy my genoem het in jou blog! Ek gaan beslis hierdie room beproef. Dit sal wonderlik wees om iets effektief te vind vir letsels en boonop bekostigbaar.