MY BESTE PRODUKTE VIR 2019

Wat is die Mooipraatjies produk-uitblinkers vanjaar?

Ek vertel gereeld op Instagram en die Mooipraatjies Facebookblad van nuwe produkte wat op my tafel land, maar vanjaar het ek myself die taak opgelê om my algehele wenners te kies. Dit is mos immers die einde van die dekade ook!

My keuse is gegrond op effektiwiteit en waarde vir geld, asook innovasie en nuwe navorsing en tegnologie.

Dit is produkte wat ek self sal koop (as ek sommige van hulle kan bekostig!) en met vrymoedigheid aanbeveel vir lesers. Hier en daar mag julle straks ‘n witbroodjie handelsmerk raaksien, maar so is dit – as iets goed is, is dit goed!

VELSORG:

NUWE REEKSE

Avene DermAbsolu. Lyk jou vel papierdun, pap, moeg en dof? ‘n Heerlike volledige velsorgreeks teen billike pryse herstel nie net dightheid van die vel nie, maar gee dit sommer nuwe lewe en glans, terwyl dit sagkens werk met sensitiewe vel en die gesig se kontoere herstel, verferm en lig. Eau Thermale Avène DermAbsolu is ‘n nuweling in die stal van dié gerespekteerde Franse apteekreeks en bevat, naas hul bekende fonteinwater, jojoba olie en aktiewe bestanddele wat volgens Avène help om die vel bine vyf dae sigbaar dikker en jeugdiger te maak en die kontoere binne ‘n maand te hervorm. Die reeks bestaan uit Recontouring Serum (R499,95); Defining Day Cream (R479,95); Comforting Night Balm (R479,95); Youth Eye Cream (R409.95).
NIVEA Cellular Filler Elasticity gevorderde teenverouderingsreeks. Dit bestaan uit ‘n dagroom, nagroom, olie-elikser en serum en elkeen kos minder as R300. Ek het die reeks met die bekendstelling darvan vroeg vanjaar getoets en was in my noppies. Ek het ook ‘n hele aantal dankbare vriendinne wat ná my aanbeveling dit begin gebruik het.
SOTHYS is vars terug uit Frankryk nadat dit vir lank onder die radar in Suid-Afrika was. Die Detox Energie reeks bevat onder meer Siberiese ginsengwortel-ekstrak  en peptiedes wat die impak van besoedeling op die vel verminder en sellulêre energie opstoot. My gunsteling in hierdie reeks is die Energizing Serum (R1 250) wat die vel “ontbesoedel” en suurstof lewer. Die tekstuur is lig en kan onder ander serums gebruik word.

REINIGER

Dr Schrammek Soft  Foam  Cleanser  R495).   Feit: As jou vel nie skoon is nie, mors jy jou geld op enige ander duur produkte. Sommige vroue verkies om hul gesig met water te reining, ander met room of melk. Die nuwe Dr Schrammek Soft Foam Cleanser kombineer die elemente van al drie: Dit is ‘n ryk skuim, so sag soos melk en so doeltreffend soos gel.
Cetaphil Extra Gentle Daily Scrub (R259) vir diegene wat ‘n daaglike sagte afskilfering verkies wanneer jy jou gesig soggens was.  

VERFRISSER /OPKIKKER

SENSAI Absolute Silk Micro Mousse (R2 815) is vir diegene wat nie graag verfrisser gebruik nie, maar wel ‘n essens of opkikker voor hul serums, soos die Japanse tradisie is. Hierdie veerligte mousse bestaan uit mikro koolstofsuur-borreltjies gekombineer met Koishimaru Silk Royal. Met aanwending bruis die borreltjies, wat kleiner as die porieë is, die vel binne. Vars suurstof snel na die oppervlak danksy verhoogde bloedsomloop en dit verhoog die vel se hidrasie. Dié skuim laat die vel asemrowend glad en vars voel en lyk. Volg op met Absolute Silk Fluid of Absolute Silk Cream, afhangend van jou vel se behoeftes.

SERUM

Sisleÿa L’Intégral Anti-Âge Firming Concentrated Serum (R6 000). Met die verloop van tyd, verloor ons gesig volume en fermte. Wangbene verloor definisie, wange sink weg, kontoere word pap en die vel verloor veerkrag. Sisley se kragtige serum herwin fermheid deur epi-genetiese faktore wat eerstens elastienvervaardiging weer “wakker te maak” en andersyds die vel se veerkragtigheid, wat dit op en styf trek, te heraktiveer. Dit werk met ‘n “Gel-Trap” tegnologie, ‘n water-in-olie emulsie  wat mikro-druppels water in olie vasvang. Die oplig-effek hiervan trek uitgesakte volume terug in plek, hervorm die kontoere en dit kan onmiddellik waargeneem word. Na twee maande se gebruik is die vel ooglopend  fermer en meer gelig. Die vel is digter en plomper en hangwange is terug waar hulle hoort. En dit, verseker Sisley ons, is hoekom hierdie serum so ‘n heftige prys-etiket dra. Dit werk.
Lancôme Advanced Génifique (75ml R1 410). Danksy die bevindings rondom mikrobiome-navorsing en jeugdige, gesonde vel, het Lancôme ná 15 jaar hul gewilde Génifique serum herformuleer. Dit is vanjaar bekend gestel as Advanced Génifique en verryk met 7 pre- en probiotiese nuwe bestanddele wat hulle fraksies noem. Elke fraksie bied ‘n spesifieke voordeel aan die vel se mikrobiome en verskaf ‘n belangrike bron vir voordelige bakterieë om op die vel te groei. Elke aanwending uit die serum-drupper lewer 30 miljoen pre- en probiotiese fraksies per dosis!
Elizabeth Arden Vitamin C Ceramide Capsules Radiance Renewal Serum (30 kapsules R599). ‘n Moderne kleinsus vir die ikoniese Elizabeth Arden Ceramide Capsules in gerieflike, kragtige enkeldosis serum-kapsules. Dié droë olie serum bevat Vitamine C om die vel te verhelder en seramides, wat die vel se jeugdige gloed bevog en in stand hou. Die Vitamine C konsentrasie is 178 keer kragtiger as die gewone serums wat dit bevat en help om die velkleur helder en egalig te maak. Dit bly langer stabiel omdat dit in olie vervat is en is ‘n top anti-oksidant wat die vel teen skadelike vrye radikale beskerm.

OLIE

NIVEA Hyaluron Cellular Filler Elasticity Oil (R279). Dit is deel van die reeks wat vanjaar bekend gestel is spesifiek vir verouderende vel. Die olie is fyn en word dadelik deur die vel geabsorbeer.

DAGROOM

Filorga se eerste produkte om verouder(en)de vel te behandel, pertinent gerig op vroue oor 50, is onlangs bekend gestel. Die nuwe Global-Repair produkte is geformuleer om al die probleme wat met veroudering vereenselwig word, aan te spreek: dehidrasie, plooie, verlies aan fermheid, verlies aan volume, donker vlekke en futloosheid (loss of radiance). Daar is ‘n serum en ‘n room in die reeks sover. Dit kan soggens en saans gebruik word. Dit is verryk met retinol. Die serum, Global-Repair Intensive (R1 395) en room Global-Repair Cream (R1 395) kan albei ook as oornagmaskers gebruik word.
Dermalogica Skin Smoothing Cream (50ml R829)wat gedryf word deur Active HydraMesh Tegnology. ‘n Woord wat ons toenemend gaan hoor in velsorg, is mikrobiome. Dit is dié wetenskap wat ingespan word vir dié nuwe  dagroom. Die produk gebruik tegnologie wat amper ‘n soort molekulêre vangnet oor die vel span om vogverlies te voorkom en vel vir 48 uur te bevogtig, terwyl dit die natuurlike mikrobiome beskerm teen omgewingstres. Aktiewe bestanddele sluit in hialuroniese suur, komkommer, arnica, druiwesaad ekstrak en Vitmines C en E.
Elizabeth Arden Eight Hour Great 8 Daily Defense Moisturizer SPF35 (R425) is ideaal as jy jou dagroom en sonskerm wil kombineer en jou vel die hele dag wil bevog en beskerm. Dit is ‘n nuweling in die ikoniese Eight Hour reeks wat wêreldwyd ‘n kultusaanhang het.

NAGROOM

Payot Blue Techni Liss spreek die effek van blou lig (selfone, tablette, televisie, rekenaarskerms) op ons gestel en vel aan. Die reeks van vyf produkte bevat ekstrak van die chaste tree (wat ‘n mooi blou blom het, ryk aan phyto-endorfiene om die vel se metabolisme te herbalanseer), wat die gevolge beveg van gedesinkroniseerde vel-bioritmes en die impak van blou lig op die vel versag sodat vel snags makliker kan hernu. Ons dol lewenstyle keer nie net ons liggame se bioritmes op hul kop nie, maar ook ons vel. Die eerste tekens is plooie, ‘n dowwe kompleksie en dehidrasie. My gunsteling is die Blue Chrono-Regenerating Balm (R639.20) met nag- mikro-alge wat kragtig werk in die donker en selfs ‘n slegte nag se slaap kan uitstryk. Die diepblou gel smelt tot ‘n olietekstuur as dit aangesmeer word.

La Prairie Skin Caviar Luxe Eye Lift (R7 900) teiken spesifiek die wenkbroue en ooglede om dit te lig en die oë “oper” te laat vertoon. Dit is een van die min oogprodukte wat tot teen die wimpers gebruik kan word.Het jy geweet dat die area rondom jou oë 22 spiere bevat en dat jy 10 000 keer ‘n dag jou oë knip en al daardie spiere gebruik? Geen wonder die delikate vel rondom ons oë is die eerste om tekens van veroudering te toon nie. Ooglede verslap, wenkbroue sak en lyne maak hul opwagting. Boonste ooglede wat verslap, kan ook jou sig beīnvloed. Volg die serum op met die Skin Caviar Luxe Eye Creme. Hoekom dit so duur is? Wel dit ís immers van kaviaar!

MASKER

FILORGA NCEF-NIGHT MASK (R899). Slaap is noodsaaklik vir sellulêre regenerasie en herstel, Daarsonder sit jy met pap kontoere, ‘n vaal, dowwe vel, oneweredige velkleur, rooiheid en vergrote porieë, wat jou alles oud voor jou tyd laat lyk. Die nagmasker bevat aktiewe bestanddele wat deur estetise medisyne benut word om jou met ‘n sigbaar jonger vel te laat ontwaak in die oggend. Altesame 50 bestanddele wat die vel help regenereer, is in die formule kombineer en ge-enkapsuleer om diep in die dermis in te dring. Filorga se Internasional mediese adviseur, Dr. Riekie Smit sê: “Navorsing het bewys dat vroue wat minder as vyf ure per nag slaap, 4-5 jaar ouer lyk as dié wat sewe ure per nag slaap. Die nagmasker is as’t ware soos agt ure slaap in ‘n masker, wat jou vel verfris en uitgerus laat vertoon.”

GESIGBEHANDELINGS (FACIALS)

DR Schrammeck Green Peel. Hierdie velskilfering is in die 1950’s ontwikkel deur die Duitse dermatoloog Dr Christine Schrammek. Die basis van die skilfering is 10 verskillende kruie en die klassieke resep is nog al die dekades dieselfde. Die blare, blomme, wortels en sade van die plante word in ‘n verpoeierde vorm gebruik. Die kruiekonkoksie kan van ‘n ligte velskilfering (Good-to-Go) wissel tot intensiewe afskilfering van die epidermis se toplae. Dit laat die vel vinnig regenereer  en nuwe selle vorm. Dit kan op alle veltipes gebruik word en behandel letsels, pigmentasie, sonskade, fyn lyne, ligte aknee en verouderingstekens.
Biologique Recherche (Westcliff Spa). Vir hierdie tegnologie het jou vel geen geheime nie. Die rekenaar met sy vier verskillende elektroniese vel-analiseerders (probes) bepaal wat jou vel se behoeftes is en skryf daarvolgens die behandeling en produkte voor. My vel het behoorlik gegloei van die behandeling, wat ‘n behendige gesigmassering en ‘n oogmasker insluit.

GRIMERING:

WIMPERS

As jy dit ‘n pyniging vind om ligte wimpers te tint, is die RefectoCil Sensitive Series (R160) die antwoord. Dit vul gapings in yl en verbleikte wenkbroue in en brand nie jou oë uit jou kop as jy wimpers kleur nie. Dit is gebaseer op plant-ekstrakte en dus 100% vegan. Dit boonop verspot maklik om aan te wend. Wend die tint aan, los vir 2 minute. Vee af. Wend die gel aan. Los vir 1 minuut. Vee af. En dis al. Nou het jy wimpers en wenkbroue.

WENKBROUE

Elizabeth Arden Beautiful Color Brow Perfector (R370) is beslis die beste wenkbrouhulp van die jaar. Die het ‘n piepdun potloodpunt, wenkbroupoeier en ‘n borseltjie alles is een.
Lancôme Monsieur Big Brow (R330) het ‘n wasagtige dik potloodpunt en ‘n sagte borseltjie aan die onderpunt om jou wenkbroue mooi te vorm.

OOGOMLYNER/ OOGSKADU/LIPPE/BLOSSER

Hierdie was my jaar vir blitsig betaamlik lyk, en nou gaan ek nêrens sonder my handvol potlode nie. Dit hou vir ewig, neem min plek en is wonderlik veelsydig.

Sisley Paris Phyto Lip Twist (R1 068) en Phyto Eye Twist (R967) potlode vir oë en lippe kom in klassieke en speelse, moderne kleure. Ek is verslaaf.
Gosh Forever Eyeshadow (R159) se romerige potlode bestel ek sommer nou aanlyn van Edgars af as hulle begin opraak. Dieselfde met die lippotlode.
Palladio Pop Shine Brilliant Lip Balm (R95) lippotlode van Dischem is nie duur nie en kan sommer vir lipomlyners sowel as lipkleur of blosser gebruik word. Van knalrooi tot sagte perskepienk – ek gooi twee in my mandjie as ek in Dischem daar verbyloop, dan het ek een vir elke handsak.

LIPPE

1. Burt’s Bees  Beeswax Lip Balm (R75) het ‘n kultus-aanhang wêreldwyd. Dit is nou in SA ook beskikbaar en het reeds ‘n stewige plaaslike gevolg opgebou.

PARFUUM

Collection Grands Crus (R1 595 elk). Voer jouself ver weg na eksotiese bestemmings met ’n lieflike parfuum. Vir die versameling het die Franse huis van Berdoues se parfumeurs die eindes van die aardbol gaan verken vir nuwe, betowerende bestanddele en geure soos sitroen (Calabrië, Italië), vetiver of kuskusgras (Indonesië), tonkaboon (Brasilië), jasmyn (Indië), osmanthus (China), vanielje (Tahiti), lemoenbloeisel (Tunisië), iris (Marokko), tabak (Turkye), boegoe (Suid-Afrika), mirre (Namibië) en aromatiese oud-hout (Maleisië). Die pragtige verpakkings van die versameling van elf parfuums weerspieël die atmosfeer van die wêreldstreek wat die parfuumformules verteenwoordig, soos die Maasaï Mara EdP met blou kamille van Egipte en ons eie boegoe in ’n kleurryke Afrika-ontwerp. Eksklusief by Foschini.
NUXE Florale Huile Prodigieuse Multi-purpose Dry Oil Face, Body, Hair (R465.30) ruik die ene rose en is ‘n veeldoeler soos min. Ek kan nie ophou om aan my hare te ruik as ek dit daaraan gesmeer het nie.
GIVENCHY L’INTERDIT EdT (R935). Ek was nog altyd ‘n aanhanger van hierdie geur – wit blombloeisels soos tuberose en lemoenbloeisel bekoor my. Dit is ‘n ligter variasie van die parfuum wat ontwerper Hubert de Givenchy 62 jaar gelede vir sy muse, aktrise Audrey Hepburn, geskep het. En dit bly steeds ‘n wenner.

LYFPRODUKTE

STORT-JEL

INOAR Natural Collection 2-in1 Showergel & Shampoo (R320) is ‘n veeldoelige produk waaraan die hele gesin hulle sal vergryp. Dit ruik boonop hemels.

LYFROOM

Epimax se produkreeks het ‘n wye keuse wat die droogste, skurfste vel diep bevogtig en streelsag sal laat. Die pryse wissel afhangend van die groottes, maar dit is hoogs bekostigbaar, so rondom R70.

HANDE EN VOETE

Matsimela se nuwe by-die-huis reeks. Jou hande en voete loop konstant deur onder die elemente. Die nuwe reeks vir voete en hande is ‘n wenner want dit is geformuleer om dooie vel in ‘n japtrap af te skilfer (exfoliate) en dan jou voete en hande sysag en glad te maak. Dit bevat werklik aktiewe bestanddele wat herhaaldelik getoets is vir sukses voordat die formuleerder tevrede was. Daar is twee voetprodukte en twee handprodukte. Die Foot Mask Spray (R80) is veral ‘n wenner. Dit bevat glikoliensuur en verwyder die harde dooie velle onder jou voete en by jou hakke in ‘n japtrap. Spuit dit saans aan, spoel soggens af vir babavoete. Die volgende aand vertroetel jy jou voete met die balsem en dan wissel jy dit weer af met die masker wat jy 2-3 keer per week kan gebruik. Daar is, naas die voetprodukte, ook ‘n handserum en handeroom.

SON:

Heliocare Color Gelcream Light SPF50 (R295) is ‘n wenner. Dit verleen kleur aan die vel en gee dit die maksimum sonbeskerming.
Avène Eau Thermal Sun (R239-299) Beskerm jy jou vel teen die son, maar beskadig jy die see en seelewe? Met Avène se nuwe Eau Thermal sonprodukte hoef jy nie te kies nie. Die reeks is bio-afbreekbaar, in teenstelling met talle op die mark, en bied optimale beskerming en minimale skade aan die ekosisteem. In talle plekke, soos Miami en die Great Barrier Reef van Australië, word sonkerms met sekere chemiese bestanddele glad nie meer toegelaat nie, omdat dit die koraalriwwe doodmaak.
Institut Esthederm Paris Strong Sun Sea and Tropics Protective Body Lotion (R999) is ‘n Franse dermaseutiese produk van selbeskerming optimaliseer danksy gepatenteerde tegnologie. Dit stimuleer en gee ‘n lieflike gloed aan vel wat natuurlikerwys bruin brand. Die tekstuur is ryk romerig en delikaat.

SELF-TAN

Daar is net een wat kop en skouers uitstaan: Die Skinny Tan-reeks (R179.99 – R499.99) is die een produk waar ek nie opeindig met kolle en strepe soos ‘n kameelperd nie, en boonop ‘n lieflike, geloofwaardige sonbruin. Die reeks van 9 produkte gee jou ‘n keuse of jy kitsbruin wil wees en dit later wil afspoel, en of jy geleidelik wil verbrons. My gunsteling is die Skinny Tan 7-day Tanner Dark (R299.95) wat ‘n week hou en my ‘n lieflike sonbruin gee – tot my dermatoloog het ‘n opmerking gemaak daaroor. Daar is ook sonskerm in die reeks. Ek vind as ek reeds sonbruin lyk wanneer ek gaan vakansie hou, oordoen ek dit nie die eerste paar dae in die son nie, want ek is mos reeds bruin! Waar kom die “skinny” deel in? Bruingebrande selluliet lyk minder opsigtelik!

HARE:

SJAMPOE EN OPKNAPPER

OWay haarsorgreeks. Die naam staan vir Organic Way of Life. Dié Italiaanse reeks uit Bologna word geformuleer met biodinamiese, organiese bestanddele, medisinale kruie en essensiële olies om te sorg vir perfekte, holistiese gesondheid vir jou kopvel en hare. Sjampoe R355. Opknapper R375. Ek kon ‘n groot verskil aan my hare se kondisie sien.

MASKER

Inoar Virgin Coconut Oil  (R350) .  Klapperrolie is die natuur se veelsydigste  skoonheidsgeskenk aan ons. Hierdie produk bevorder gesonde, blinksterk hare. Die formulering penetreer beide die hare en die kopvel – gebruik dit as ‘n bevogtiger, kopvelmasseerder, opknapper of los dit net so in die hare, veral as dit droog is en geneig om te kroes.
Authentic Beauty Concept (R300-R500). Die zeitgeist van ons tyd is eenvoudig, natuurlik, holisties en outentiek. Mense is moeg vir valse beloftes en kunsmatige, skadelike bestanddele in die produkte wat hulle gebruik. Dit geld ook vir haarprodukte. Dié reeks wat deur Henkel bekend gestel is, is ‘n haarreeks wat net noukeurig uitgesoekte, suiwer bestanddele bevat wat goed is vir jou en vir die natuur.  Die reeks word gekenmerk deur suiwer formules – wat jy uitlaat, is so belangrik as wat jy insit. Die reeks is pro-vegan en vry van sulfate, parabens, silikoon, minerale olie en kunsmatige kleursel.

VOEDINGSAANVULLERS:

NAD+ Combo Cell Energy Booster with DNA protection (R799) verhoog sel-energie, beskerm DNA en het bewese teenverouderingsvoordele. Dit help met lewerdetoks- en regenerasie en is ‘n sterk anti-oksidant wat inflammasie beveg.
Collagen Lift Paris Red Carpet (R999). Kollageen het tans ‘n “oomblik” as dié aanvuller wat jou vel van binne af verjonk en versterk. Ofskoon baie velsorgprodukte kollageen bevat, word dit nie so hoog aangeslaan as kollageen wat ‘n mens drink nie. Die nuwe Collagen Lift Paris Red Carpet (R1050 vir 28 ampules by Dis-Chem) het pas in Frankryk die Victorie de la Beauté prys gewen as die beste Franse skoonheidsproduk in hul kategorie vir vanjaar. Die ampules bevat drinkbare kollageen, hialuroniese suur, Mediterreense seekelp en Vitamine C.
Heliocare 360 Ultra Capsules (R559.69). Hierdie produkte is goed vir jou en jou vel. SA dermatoloë is besorg oor die toename in pasiënte met velkanker weens sonblootstelling. Heliocare, die Spaanse handelsnaam wat groot aansien het onder dermatoloë, se Heliocare 360 Ultra Capsules is in samewerking met eksperts van die Harvard Medical School met die gepatenteerde Fernblock tegnologie ontwikkel , ‘n natuurlike ekstrak uit ‘n Sentraal-Amerikaanse varingplant wat sterk beskermende meganismes bevat teen UV bestraling. Die kapsules is ideaal vir son-sensitiewe vel, buitelugmense wat meer beskerming benodig, beskerming ná ‘n chemiese afskilfering of laserbehandeling, mense wat medikasie gebruik wat die vel meer sensitief vir sonskade maak, mense wat geneig is tot velkanker. Die tablette moet gebruik word saam met ‘n hoë SPF sonskerm om die vel te beskerm teen voortydige veroudering, hiperpigmentasie en DNA-skade. Dit beskerm immuunselle en voorkom mutasie van selle wat tot velkanker kan lei. Dit is veilig vir kinders ouer as 4 jaar. Heliocare produkte is nou nie net meer by dokters en estetiese klinieke beskikbaar nie, maar ook by 21 Sorbet salonne landswyd.

BESTE INNOVASIE:

Skin Republic 10-Second Skin Analyser (R425) vertel jou in ‘n japtrap wat jou vel se behoeftes is: Is daar te min olie, vog of elastisiteit? Ek is dol oor gadgets en hierdie is die handigste speelding van die jaar: Nou kan ek met betroubare sekerheid sien of die produkte wat ek toets, hul werk doen.
Sisley Hair Rituel (R878 – R2 709).  Vir die eerste keer in hul bestaan betree die eksklusiewe Franse kosmetiekhuis SISLEY die haarsorgmark.Heel gepas beskryf hulle die reeks van ses produkte as velsorg vir hare. Die reeks is geformuleer met plant-ekstrakte en kosbare olies, alles uit die Moeder Natuur se heel boonste rakke. Die kroonjuweel van die reeks, wat by Sisley-toonbanke te kry sal wees, is die Hair Rituel Revitalizing Forifying Serum (R2 709) wat die kopvel en hare behandel om haargroei aan te moedig. Die res van die reeks bestaan uit twee sjampoes, ‘n opknapper, masker en haar-olie.

PROSEDURE:

BTL Emsella. Hierdie stoel behandel die probleme wat saamhang met ‘n swak pelvisvloer, wat dikwels voorkom ná geboorteskenking en ook tydens die menopause. Die pelvis se spiere sak uit en wanneer jy lag, nies of oefen kan die blaas nie vog binne hou nie. Slegs een behandeling met die stoel is gelyk aan 11 000 Kegel oefeninge. Jy sit, ten volle geklee, op die stoel vir 28 minute terwyl die elektromagnetiese tegnologie die diep spiere van die pelvis stimuleer. Dis nogal ‘n heel plesierige sensasie boonop!
Apilus Thermal Electrolysis is ‘n pynlose, permanente verwydering van ongewenste hare, veral op die gesig, maar ook elders op die lyf. Anders as ander laserbehandelings, wat net donker hare verwyder, kan hierdie termolise tegnologie ook blonde, wit en grys hare verwyder, want teiken nie die donker pigment in die haar nie. Dit is nie so pynlik as tradisonele galvaniese elektrolise nie. www.laserbeautique.co.za

TROTS SUID-AFRIKAANS

Optiphi Delta Medical Skincare. As die formules op die verpakking van die nuwe Optiphi Delta velsorgreeks vir jou na ingewikkelde wetenskap lyk, moenie dat dit jou kwel nie. Jou dermatoloog, snydokter of estetiese praktisyn sal weet wat dit beteken. Hierdie verpersoonlikte behandelings vir jou vel (gesig sowel as lyf) is geformuleer in ‘n gesamentlike projek tussen plastiese chirurge, estetiese praktisyns, biochemiese wetenskaplikes en genetici onder leiding van dr Markus Depfenhart, ‘n voorste Duitse plastiese chirurg. Dit is bedoel vir die eksklusiewe gebruik van medici, dus sal jy dit nie ‘n salon kan koop nie, omdat die dokter jou presiese formule vir jou vel se behoeftes moet bepaal en die paslike produk uit die reeks van veertien produkte sal voorskryf. Die kode op die verpakking is die diagnose-kode na aanleiding van ‘n DNA veltoets. Die resultate van die voorskrif word ook aktief gemonitor deur jou dokter.  En die beste van alles: Optiphi is ‘n produk wat oorspronklik in Suid-Afrika ontwikkel is en nou in Duitsland in dokters se spreekkamers pryk! Die nuutste toevoeging to die reeks is die Optiphi Rt1 Retinol serum en Rt2 Retinol Serum (R850 elk.)

NUWE TRENDS

Skuif eenkant toe, serums – hier kom die ampules. As jou vel ‘n daadwerklike hupstoot nodig het, is ‘n kursus ampules die antwoord. Dit bevat kragtiger aktiewe bestanddele as serums en lewer vinnige en sigbare resultate.

Die bestes wat vanjaar oor my pad gekom het is Elizabeth Arden Prevage Progressive Renewal Treatment (R2 100). Dit is ‘n stel van ampules vir gebruik oor vier weke, waarvan die bestanddele elke week bietjie sterker is om die vel ‘n hupstoot en herhernuwing te gee. My vel het floreer daarop toe ek vir ‘n maand in die winter gebruik het.

‘n Ampule vir elke moontlike velprobleem: dit is Genop Endocare Concentrate (R750) se familie van ampules: Antiaging Dermal Regeneration; C Pure Brightening Antiaging Dermal Regeneration; Tensage Antiaging Firming Dermal Regeneration. Dit werk veral effektief saam met kosmetiese prosedures soos die Dermapen, wat die aktiewe bestanddele diep in die dermis help neerlê. So ‘n ampule kursus twee maal per jaar is beslis ook nou op my velsorg agenda.

Dit is ‘n reuse handvol, maar glo my, dit het my amper ‘n week geneem om uit te soek en te besluit watter van die talle produkte waarmee ek elke jaar kennis maak, vanjaar se wenners is.

Laat weet gerus wat julle dink en watter produkte julle persoonlik deur die loop van die jaar geïmponeer het!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *