MY DANS MET ‘N DEENSE DERMASEUTIESE REEKS

Wanneer ek ‘n produk toets, doen ek dit deeglik. En as daar dan tegnologie of wetenskap is wat kan bevestig wat ek aan my eie vel ervaar, soveel te beter.

Dit het my aansienlik langer geneem om te skryf oor my ervaring met die Deense Beauté Pacifique reeks, omdat, laat ek nou maar eerlik wees, ek dit tot die laaste leksel wou opgebruik, en nie net vir 5 weke nie.

Die reeks is vanjaar op ‘n wyer skaal in Suid-Afrika vrygestel as voorheen, met Wayne la Grange aan die voorpunt om dit ook in die res van Afrika uit te rol.

Die spil waarom die reeks draai, is die ultraklank DermaScan tegnologie wat ontwerp is deur Dr Flemming Christensen, stigter van die reeks. As ‘n ingenieur van nering, wou hy bewyse hê dat sy produkformules werk, en toe ontwerp hy die toestel homselwers. Amper soos McGyver! Oor ‘n tydperk van 20 jaar is daar wêreldwyd al meer as ‘n halfmiljoen kliënte geskandeer.

Ek het voorheen al die reeks beproef, en was nog altyd geïmponeer met die resultate, maar dit was gewoonlik een of twee produkte en nie ‘n volledige reeks wat alles in sinergie saamwerk vir die beste resultate nie.

My ervaring vanjaar het begin met ‘n gesigbehandeling (facial) met Beauté Pacifique se topterapeut en instrukteur, Erna Keevy. Sy het ‘n skandering van my vel gemaak, bepaal wat my behoeftes is en toe het ek ‘n deeglike professionele behandeling onder haar ervare hande gehad. Ons het sommer ook ‘n skandering gedoen om te sien hoe lyk dit onder die snywond van my skouer operasie vroeër die jaar. Helder kleure in die skandering wys op gesonde kollageenstruktuur, donker kleure wys baie min of swak kollageen.

Die eerste skandering wys dat daar baie donker kolle is en amper niks groen of rooi, kleurvolle, gesonde kollageen nie.

Erna het ‘n volledige voorskrif saamgestel van die produkte wat ek alles moet gebruik en einde Julie is ek uit die For Beautiful Life Medical Aesthetic Centre in Dunkeld met my sakkie produkte onder die arm.

Die produkte:

  • Cleansing Milk – Dry Skin: Dit reinig soggens en saans jou vel sonder om dit uit te droog.
  • Gentle Facial Exfoliator: Fyn pêrelagtige (en bio-vriendelike) partikels lig dooie velselle sagkens af en laat die vel bevogtig, vars en gepoleer, reg om ander produkte ten beste te absorbeer. Dit moet ek twee keer per week gebruik.
  • Skin Repair Serum: Bevat Vitamine A  en beveg plooie en sonskade. Dit versterk ook die fyn aartjies na aan die veloppervlak sodat enige rooiheid mettertyd verdwyn. Dit moet voor die vogroom aangewend word.
  • Crème Paradox: ‘n Teenverouderingsdagroom wat kragtige anti-oksidante Procyanidin en Resveratrol (van druiwepit-olie) inspan om rem aan te slaan met die veroudering van die vel en die velstruktuur te herstel en herbou.
  • Crème Métamorphique Vitamin A Anti-Wrinkle Cream: Dit is die Rolls Royce van die reeks en word aanbeveel vir enigiemand bo 25 wat die tekens van ouderdom wil voorkom of verminder. Dit bevat twee vorme van Vitamine A (die oorsprong van retinol) en herbou kollageenveselstrukture terwyl dit die vel versterk en verjong.  Dit moet as ‘n nagroom gebruik word en as jou vel nie gewoond is aan Vitamine A nie, aanvanklik net elke tweede aand. Gelukkig is my vel op ‘n konstante Vitamine A of retinol-dieet, dus kon ek maar lostrek.
  • Instant Hydrating Mask: Herstel verlore vogbalans in die dermis en vertroetel dowwe en droë vel. Dit bevat bestanddele wat vog vasvang en voorkom dat dit verdamp. Gebruik twee of drie keer per week en dit kan ook as ‘n oornagmasker aangehou word as vel erg droog en dorstig is.
  • Scars & Stripes: Dit is ‘n kragtige room wat letsels en rekmerke voorkom en behandel. Dit is geformuleer met aktiewe bestanddele om rooiheid te verminder, die verlore weefselstruktuur te normaliseer en rekmerke minder sigbaar te maak. Hierdie produk is bedoel vir my skouer snywond en ek sal elders meer daaroor vertel.

My ervaring:

Voor ek die reeks begin gebruik het, het ek opgelet dat my vel, wat altyd normaal en probleemvry was, skielik sensitief begin raak het en maklik rooi raak by my wangbene. Sekere produkte het dit ook meer geprikkel of branderig laat voel. My vel het ook dun begin voel en beslis elastisiteit verloor. Dit was maklik verklaarbaar: Dit was die uitwerking van antibiotika, pynstillers en ander medikasie ná my gebreekte skouer-episode. (Dié saga is elders op die blog!)

Binne 14 dae nadat ek die reeks begin gebruik het, kon ek reeds sien my velkleur is weer meer egalig en die rooiheid by my wange minder dikwels en meer onopsigtelik. My velstruktuur het ook digter gevoel.

My eerste skandering was in Junie en op 1 Augustus het ek begin met my regime. Op 26 September het Erna weer ‘n skandering gedoen by die hip en happening PHD Skin Care Retreat in Greenside.

Na 5 weke: Daar is blou, geel en rooi, kleurvolle nuwe kollageen op die foto regs, in teenstelling met die donker kolle op die eerse skandering. Die velwand (die liggeel lyn links) lyk ook dikker.

Die verskil is baie duidelik: Waar daar groot donker kolle op die eerste skandering was (min en swak kollageen) is die tweede een fluks besig om kleurvolle nuwe kollageen te vorm.

Net om dinge interessanter te maak, het ons my skouerwond ook weer skandeer: Dit was verbysterend om te sien hoe die weefsel daar besig was om te herstel – kyk gerus hier onder.

Die onderste foto is in Junie geneem – dit is net een groot swart kol, met niks kleur waar die chirurgiese snitte gemaak is nie. Die boonste foto wys hoe die weefsel herstel het danksy al die produkte, prosedures en aanvullings wat ek gebruik het. (Lees elders op die blog.)

Gevolgtrekking:

Ek toets voortdurend nuwe produktereekse.

Hierdie is ‘n reeks wat ek persoonlik sal koop, sonder enige huiwering. Want die wetenskap jok mos nie!  

  • Die produkte en behandelings is slegs by salonne en estetiese praktisyns beskikbaar. Daar is ook ‘n reeks vir mans, genaamd Beauté Pacifique Masculinity.
Ek saam met Wayne la Grange en Erna Keevy van Beauté Pacifique.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *