Ek is ‘n haarsorg-snob. My weerbarstige krulhare hou van duur salonprodukte en ek is gelukkig dat ek danksy my werk gewoonlik ‘n groot voorraad daarvan het.
Maar soms kom ‘n “massa”-produk oor my tafel wat ek net nie kan weerstaan nie. Die nuwe Garnier Ultimate Blends is onlangs in SA bekend gestel as ‘n reeks wat jou hare kan transformeer danksy die natuurlike bestanddele waaruit dit saamgestel is. Dit het Garnier in Parys glo 30 jaar geneem om die perfekte liggewig olies korrek met natuurlike ekstrakte te kombineer om hierdie pasgemaakte mengsels te formuleer sodat die hare letterlik ‘n gedaanteverwisseling kan ondergaan..
Daar is vyf reekse in die versameling: The Colour Illuminator met bosbessie en argan-olie vir gekleurde hare; The Strenght Restorer Honey Treasures met heuning propolis vir beskadigde, growwe en broos hare; The Sleek Perfector met klapperolie en kakaobotter vir droë, kroeserige hare; The Nourishing Repairer met avokado-olie en galambotter (shea butter) vir baie droë, beskadigde hare; The Fresh Revitaliser met vyf essensiële olies (eucalyptus, netel, groen tee, suurlemoen en verbena) vir normale hare.
Elke reeks het ‘n sjampoe (400ml R59,95), opknapper (400ml R59,95) en masker (R69,95). Die Honey Treasures het ook ‘n serum (R69,95) wat verruklik ruik, terwyl The Sleek Perfector ‘n fyn klapperolie sproei (R149,95) ook het. Dit is, in vergelyking met salonprodukte, spotgoedkoop.
Ek sukkel op die oomblik met regte winterhare, dit is droog, weerbarstig en dof. Toe val my oog vanoggend op die houtkissie met die nuwe Garnier-reeks en ek dog, kom ek probeer en kyk – avokado-olie en galambotter is dalk net die resep. Afgerond met die Honey Treasures Serum.
Ek het hierdie drie produkte, plus die serum agterna, op die proef gestel:
My ervaring? Ek is eerlikwaar in die wolke. My hare was sag en soepel ná die was en masker (wat ek 10 minute pleks van vyf minute aangelos het), en ek het glad nie gesukkel om ‘n kam deur die nat hare te kry nie. Dit het my ook vinniger as gewoonlik geneem om my hare droog te blaas, omdat my hare syerig en glad was, en ek het nie gesukkel met die alewige wegvlieghare en kroeserigheid nie. En nou kan ek nie hande van my hare af hou nie – dit voel heerlik syerig en dit blink pragtig.
Ek hou daarvan as my hare lekker ruik. Hierdie produkte ruik eenvoudig hemels. Dit ruik soos ‘n vrugteboord en kruietuin wat met heuning bedruip is.
Wat ‘n aangename ervaring en verrassing is hierdie produkreeks nie? Ek is so bly ek het dit probeer! En teen die ongelooflik redelike pryse is dit beslis ‘n wenner. Koop dit by Dis-Chem, Clicks en supermarkte soos SPAR, PnP en Checkers.