Wanneer ‘n velsorgreeks pertinent aandui dit is vir vroue van 60+, spits my ore. As dit dan nog boonop bekostigbaar is, soveel te meer.
Talle van my lesers vra dikwels uit oor produkte wat nie peperduur is nie, maar resultate lewer. Nou, ek het, soos seker baie van julle, grootgeword met ‘n ronde plat blou blikkie op my ma se spieëltafel: NIVEA Crème. En glo my, sy het nog steeds so ‘n blikkie, en uit pure sentiment, ek ook.
Toe die splinternuwe reeks NIVEA Hyaluron Cellular Filler Elasticity-reeks dus op my tafel land met die versoek dat ek dit op die proef stel en my mening gee, het ek binne ‘n oogwink ingestem.
Wanneer ek ‘n velsorgreeks intensief toets, gebruik ek dit eksklusief vir nie minder nie as 28 dae – so lank as wat dit neem vir om selle om te hernu. Met hierdie reeks het ek sommer vyf weke aangehou, bloot omdat ek dit so geniet het

Op die verpakking staan duidelik: Age……..65+… met die grootste klem op die 60+ groep. Dit beteken nie dat iemand van 35+ dit nie ook kan gebruik nie, maar die reeks is spesifiek geformuleer vir vroue bo 60, en met goeie rede ook. (Behalwe vir die feit dat daar vir alle ouderdomsgroepe teikenprodukreekse in die NIVEA-stal is).
‘n Verouderende vel het in die besonder vier opsigtelike probleme: Diep plooie, verslapte vel wat fermte verloor, dehidrasie en ouderdomsvlekke. Navorsing het getoon dat dit te wyte is aan afname in die vel se natuurlike produksie van
- Hialuroniese suur, wat verseker dat die vel genoeg vog en volume in die epidermis het.
- Kollageen, die protein wat die dermis van stewige struktuur voorsien.
- Elastien, wat jou vel laat terugbons. Stel jou voor jou vel is ‘n matras: Kollageen voorsien die raamwerk en elastien voorsien die veerkrag en bons. Saam gee die twee die vel sterkte, fermte en vorm.
Die reeks bestaan uit:
- NIVEA Hyaluron Cellular Filler Elasticity Day Cream SPF15+ (50ml R269.99)
- NIVEA Hyaluron Cellular Filler Elasticity Anti-Spot Treatment Serum (R289.99)
- NIVEA Hyaluron Cellular Filler Elasticity Night Cream (50ml R259,99)
- NIVEA Hyaluron Cellular Filler Elasticity Bi-Phase Nourishing Oil Elixir (R289.99)
My ervaring
Ek het my vel soggens gereinig, ‘n sagte verfrisser gebruik en terwyl my vel nog klam was, die serum gebruik, gevolg deur die dagroom met sy ingeboude sonskerm. Aanvanklik het ek nie gedink ek het die serum nodig nie, omdat ek nie ouderdomsvlekke het nie, maar toe vind ek een! Op my linkerwang. Die serum het terstond deel van my roetine geword. En ek sien resultate – my vel se kleur is baie meer egalig.
Die dagroom het ‘n digte tekstuur maar sink baie vinnig weg. ‘n Mens gebruik ook besonder min daarvan; aanvanklik het ek gedink die potjies is maar kleinerig, maar ek het nog nie eens ‘n derde daarvan opgebruik nie.
Ek wag dan so twee minute voor ek grimering of ‘n BB – room aansit en my vel vertoon glad nie blink of olierig nie.
Saans gebruik ek die olie en die nagroom. Julle weet almal ek is ‘n toegewyde dissipel van olie vir my vel, en die tweeledige effek van die olie (jy moet dit skud voor gebruik) is perfek vir my vel se behoeftes. Die waterkomponent deurweek die vel met vog, terwyl die oliekompleks die vel diep voed. Dis ideaal om plooie te versag, en ook die vel te versterk, opplomp en intens te bevogtig. Die tekstuur is fluweelagtig en dit absorbeer dadelik.
Die nagroom voltooi my slaaptydroetine. Dit is ‘n dik, ryk room en ‘n mens kan sommer voel hoe die vel dit opslurp.
Net om dinge interessanter te maak, land daar toe van die Skin Republic Skin Laboratory die 10-Second Skin Analyser (R500) op my tafel, so teen die derde week van my toets regime. Ek het ‘n spesmaas sy batterye gaan baie gou pap raak, want nou wil ek alles wat ek in die toekoms gebruik, daarmee toets!
Kyk gerus na die bygaande foto:
My regterwang se voginhoud is 56%, die olie-inhoud is 18% en elastisiteit goed. (Normaal is 35-60% vir vog en 16-30% vir olie).
My linkerwang se voginhoud is 55%, die olie-inhoud is 17% en elastisiteit kry ook ‘n goed-regmerk.
Ek sal duidelik moet werk aan die olie-inhoud, want dit lê taamlik laag op die skaal, ofskoon steeds binne die normaal-kurwe.
(Ek dink my linkerwang doen ‘n graad slegter, omdat ek vir drie maande net op my linkerkant moet slaap nadat ek my regterskouer gebreek het.)

My Gevolgtrekking:
Ek dink met hierdie reeks het NIVEA ‘n kolskoot geslaan vir almal van ons 50+ ers wat begaan is oor die tekens van veroudering en so lank moontlik ons vel wil help om jeugdigheid te behou sonder om ons beursies baie seer te maak. Ek soek nou net ‘n oogroom ook!

Elsa het my van hierdie produk vertel en dit vir my gegee om te gebruik. Na amper twee maande is die verskil wat dit aan my vel maak duidelik sigbaar. My vel is heerlik vogtig, lekker plomp en die fyn plooitjies is baie vlakker. Selfs die sonvlekke is ligter. Dit is amazing. Dankie Elsa, Mooipraaitjies met Elsa en Nivea. Wonderlike produk.
Ek toets voortdurend nuwe reekse, maar as ek my produkte self moet koop, en ek moet kyk na my beursie, ongetwyfeld.
Dit klink fantasties!!!!!! Ek maak vanaand nog ‘n lysie – my man kan dit sommer vir my kry – hy is nogal goed met sulke dinge! Hy het laas vir my TheraVine gekoop… Ek is so opgewonde oor die prys van die Nivea….. sal laat weet hoe my vel voel. Dankie! Elza Albertyn
Ek gaan dit nou terstond by Clicks koop.
Verseker!!!!!
So sal jy dit aanhou gebruik