‘n Slaapbril om Jou Jonk, Gesond en Maer te Hou

Te min slaap, en te min van die regte soort slaap, maak jou oud en vet. Feit.

En blou lig het alles daarmee te make.

Blou lig? Ja, soos in digitale toerusting soos televisiestelle, rekenaars, selfone, e-lesers (Kindle) en tablette soos iPads.

Navorsing dui aan dat die aantal mense wat aan slaapversteuring ly, die afgelope jare dramaties toegeneem het. Dit is grootliks te wyte aan die stres van ons moderne leefstyl, maar daar is groeiende bewyse dat daar ‘n verband is tussen die blou lig in ons omgewing en slaapprobleme.

Dr Robert Daniel is ‘n Suid-Afrikaanse spesialis optalmoloog wat die eerste nie-medikasie slaaphulpmiddel, SleepSpec, ontwikkel het. “Die blou lig wat LED instrumente of toerusting en byderwetse LED ligte en lampe produseer, is omtrent 35% meer as dié van die ouer, tradisionele ligte en lampe,” verduidelik hy.

Dis belangrik om te weet dat blou lig die produksie van melatonien (die sg slaap-hormoon) onderdruk. Melatonien reguleer ons slaap- en wakkersiklusse, die sirkadiese ritme. Dit is die 24-uur siklus van dag en nag wat ons slaappatrone beheer en inskakel by die planeet se siklusse.

Sonlig bevat blou lig, daarom word melatonien onderdruk met sonopkoms en ons liggame word wakker. Wanneer die son sak en dit donker word, is daar geen blou lig nie en die liggaam produseer melatonien om te kan slaap.

Dit is ook hoekom mense wat vlugvoos is na lang vlugte oor verskillende tydsones, se slaappatroon herstel kan word met melatonientablette, wat, terloops, ook verjongingseienskappe het. (Ongelukkig kry jy dit nou net op voorskrif in SA, maar ek gaar dit op wanneer ek oorsee reis. G’n burokraat gaan my ontsê van my slaap of skoonheid nie, en basta.)

As jy sleg slaap of ‘n versteurde slaappatroon het, is jy blootgestel aan allerlei gesondheidsprobleme. Navorsers sê daar is ‘n duidelike verband tussen te min slaap en geestesiektes soos depressie, demensie en Alzheimers. Boonop verhoog dit die risiko op kanker, ‘n verswakte immuunstelsel, diabetes, hartsiektes en obesiteit. Al hierdie siektes laat ‘n mens uiteraard oud voor jou tyd lyk, boonop.

Met al die lig en spesifiek blou lig, wat ons deesdae voltyds omring, sukkel ons brein om te onderskei tussen dag en nag. Gevolglik word melatonien onderdruk en ons liggame se slaappatroon ontwrig.

Volgens Dr Daniel moet ‘n mens minstens twee ure voor jy bed toe gaan, nie aan blou lig blootgestel wees nie sodat genoeg melatonien produseer kan word om ‘n goeie nagrus te verseker. Die probleem is net dat ons leefstyl dit byna onmoontlik maak; ons sal alles moet afskakel wat blou lig uitstraal – televisie, selfone, rekenaars en tablette.

Die antwoord? ‘n Slaapbril! SleepSpec is ‘n bril met spesiale oranje lense wat alle blou lig absorbeer, wat beteken die liggaam kan melatonien produseer om jou voor te berei vir slaap.

Sit die bril op en gaan voort met jou normale bedrywighede voor slaaptyd, werk by jou rekenaar, kyk televisie of lees op jou tablet sonder die negatiewe effekte van blou lig. Jy haal die bril eers af wanneer al die bronne van blou lig afgeskakel is, met ander woorde wanneer jou kop die kussing tref.

Die SleepSpec bril ondersteun die liggaam se natuurlike sirkadiese ritme en help om ‘n natuurlike en gesonde slaappatroon te herstel. Die bril is getoets met sakemense en sportlui wat wyd reis om vlugvoosheid teen te werk en ook met kinders met slaapprobleme en/of ADHD.

Die brille kom in ‘n byderwetse ontwerp (ook een vir jong kinders) en as jy voorskriflense het, kan dit ook ingesit word. Die gewone bril kos R690 en met voorskriflense R790. Die een vir kinders kos R670. Dis nie buitensporig vir ‘n goeie nagrus nie, meen ek.

Ek het een self getoets en aanvanklik het dit vreemd gevoel en ek het my verbeel ek voel effens dronk en naar (maar ek het ‘n báie goeie verbeelding!). My man was ook dronkgeslaan en geamuseer met die rooi bril op my gesig. Ek het ook ‘n paar potsierlike selfies geneem, wat ek hoegenaamd met niemand gaan deel nie! Mettertyd het ek gewoond geraak aan die bril, ofskoon ek dit aanvanklik moeilik gevind het om my tablet te lees.

Ek kan nog nie sê dis reeds tweede gewoonte by my nie (‘n mens moet die dissipline hê om die bril getrou elke aand dieselfde tyd op te sit, m.a.w. tienuur as jy twaalfuur gaan slaap). Maar die aande wat ek wel onthou, lewer definitief ‘n dieper, ononderbroke en rustiger  slaap op. Nou moet ek net al die bloulig-bronne in my slaapkamer ook kan afsit of toegooi – dis verstommend hoeveel daar is en hoeveel lig dit uitstraal, iets wat ek nooit opgemerk het voor my SleepSpecs nie.

Navrae: www.sleepspec.com of 011 884 5624

WEN WEN WEN! 

Ek het twee SleepSpecs ter waarde van R690 elk om weg te gee. ‘n Gewone een en een vir voorskriflense.

Al wat jy moet doen is om die tweede reël van DF Malherbe se bekende gedig Slaap te voltooi in die kommentaarblokkie heel onder, en ook aan te dui watter bril jy verkies.

SLAAP

Wat is die slaap ‘n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die …..

Sluitingsdatum: 8 Maart 2016. Die wenners sal op FaceBook se Mooipraatjies met Elsa aangekondig word.

 

One Reply to “‘n Slaapbril om Jou Jonk, Gesond en Maer te Hou”

  1. Sag op haar bloue oë daal die vaak
    soos maneskyn diep waterkuile raak
    om daar te droom in silwer skemering.

    Voorskrif

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *