NEOSTRATA-REEKS VIR VEROUDERDE VEL OP DIE TOETSTAFEL

Fokus en dissipline is vir my seker die moeilikste aspekte van ‘n produktoetsperiode.

En hoe ingewikkelder die instruksies of roetine, hoe makliker dwaal ek af. Ek word verlei deur ander nuwe produkte wat op my tafel land of ek rebelleer teen streng of omslagtige roetine en langsame resultate. Ek soek iets wat sigbaar werk, en vinnig ook, sonder te veel moeite van my kant af.

Die afgelope maand het ek my verbind tot ‘n deeglike toetservaring met die NeoStrata Skin Active reeks.

Ek het gefokus op hoe suksesvol die reeks ‘n verstommende aantal aktiewe bestanddele in slegs ‘n paar produkte ingespan het; hoekom dit gewild is onder vroue met vel wat sigbaar verouder het en hoe die reeks homself bewys met persoonlike, eerstehandse ervaring daarvan.

Eerstens: Daardie opwinding van ‘n perfek verpakte boks produkte van Dermastore! Ek kry baie pakkies, omtrent elke dag. Maar iets aan die verpakking van Dermastore is net ekstra spesiaal. Jy kry die gevoel dit is met respek en sorg gedoen en dat die inhoud effektief en ernstig is.

Dan: Die produkte. Ek het vyf produkte uit die keurige sneespapierverpakking gelig: NeoStrata Skin Active Exfoliating Wash; NeoStrata Skin Active Antioxidant Defense Serum; NeoStrata Skin Active Matrix Support SPF 30; NeoStrata Skin Active Cellular Restoration; NeoStrata Skin Active Intensive Eye Therapy.

In my kas het ek ook reeds NeoStrata Skin Active Triple Firming Neck Cream gehad en ek het dit ook op die toetstafel bygesit.

Die produkte kom met volledige gebruiksaanwysings van Dermastore, dus weet jy presies wat om wanneer te gebruik en wat om te doen of te vermy.

Wat my van NeoStrata as ‘n Amerikaanse kosmeseutiese reeks aantrek, is die soliede navorsing daaragter en die gekonsentreerde gebruik van aktiewe bestanddele. Dit is cutting edge velsorg uit die boonste rakke. En omdat ek altyd alles wil weet oor iets wat ek op my gesig sit, is ek mal oor die Dermastore aanlynwinkel, waar elke produk in detail beskryf word, en die bestanddele uiteengesit word, met boonop ‘n wenk of twee van dr Ian Webster, die estetiese dokter wat dié aanlyndiens vir produkte wat deur dermatoloë aanbeveel word, begin het.

Dit is ook vir my belangrik dat die produkte nie op diere getoets is nie en nie bestanddele soos parabens bevat nie.

My ervaring

NeoStrata Skin Active Exfoliating Wash (R547)

Ek hou daarvan om soggens my gesig te was (maar nie saans nie, dan gebruik ek ‘n room of balsemreiniger), dus was ek dadelik in my skik met hierdie skuimreiniger.

Dié produk is geformuleer om selhernuwing aan te moedig. Dit skuim, maar bevat nie seep nie en is pH-gebalanseerd en is spesifiek saamgestel vir vel met son- en tydskade. Dit bevat bestanddele wat die vel sagkens afskilfer sonder om dit uit te droog. Poli-hidroksiesure (PHA’s) soos glukonolaktoon en maltobioniese suur stimuleer selhernuwing en reinig die porieë om die veltekstuur te verbeter en die vel lig en helder te laat vertoon.  

Volgens die instruksies moet die reiniger nie op sensitiewe vel gebruik word nie, en vroue wat rosacea het, moet dit ook vermy. Omdat die bestanddele so aktief is, word diegene wat nie daaraan gewoond is nie, aangeraai om die vel geleidelik daaraan gewoond te maak.

Die doel van die reiniger is om die vel doeltreffend te eksfoliëer en voor te berei vir die produkte wat daarop volg.

Ek wend dit aan met my soniese Clarisonic gesigborsel, wat ek natmaak voor ek die skuim daarop spuit, en masseer dan my hele gesig in sirkelbewegings daarmee voordat ek dit deeglik afspoel. My vel voel werklik blinkskoon, sonder enige droogheid of trekkerigheid.

Daar is nie ‘n velverfrisser (toner) in die reeks nie, waarskynlik omdat die reiniger reeds die werk van ‘n verfrisser doen, naamlik om die pH balans van die vel perfek te kry. Ek moet erken dat ek my verfrisser mis – ek is so gewoond daaraan om dit ná ‘n reiniger te gebruik.

NeoStrata Skin Active Antioxidant Defense Serum (R905)

Die volgende stap is serum. Hierdie serum is ‘n kragtige anti-oksidant wat die vel beskerm teen omgewingstres, gesonde DNA verseker en die tekens van veroudering in ouer, droë en sonbeskadigde vel aanspreek.

Die bestanddele sluit agt kragtige anti-oksidante in en PHA’s voorkom sellulêre agteruitgang.

Ek gebruik die serum twee maal per dag, soggens en saans, ná ek my vel gereinig het. Die instruksies beveel aan dat ‘n mens wag tot die serum geabsorbeer is voordat bevogtiger aangewend word, en ek gebruik dié tyd om my tande te borsel. Die serum is ‘n deursigtige jel en ‘n mens kom ver met ‘n klein bietjie – een pomp is genoeg vir my gesig en my nek. Ek hou veral van die koel jel-tekstuur.

 

NeoStrata Skin Active Matrix Support SPF 30 (R811)

Ek weet baie kenners beveel aan dat ‘n mens, benewens ‘n bevogtiger met sonskerm, ook ‘n aparte sonskerm gebruik, maar eerlikwaar, ek is nie aldag lus vir daardie ekstra stap in my velsorgroetine nie, veral as ek ‘n BB-room of onderlaag wat ook sonskerm bevat, gebruik. En as die bevogtiger reeds ‘n breëspektrum SBF van 30 het, reken ek my vel is taamlik goed gepantser teen sonskade, veral nou in die winter. Dus is ek baie in my skik met hierdie veeldoelige produk.

NeoStrata Skin Active Matrix Support SPF 30 is geformuleer om die vel se diep matriks (dit is jou vel se “matras”) te herstel tot optimum kondisie. Dit is volgepak met verskeie teenverouderingsbestanddele soos peptiede wat kollageenproduksie aanmoedig, gepatenteerde NeoGlucosamine wat melanienproduksie in toom hou om velverkleuring en pigmentasie te voorkom en retinol wat selhernuwing verhoog en lyne en plooie minder opsigtelik maak.

Die stryd teen verouderende vel verg ‘n effektiewe kombinasie van  verskillende bestanddele wat moet saamwerk om die vel glad, ferm, vlekkeloos en stralend te laat lyk, en ek is geïmponeer met hierdie veeldoelige dagroom wat skade voorkom en herstel terwyl dit die vel daglank beskerm.

Volgens die inligtingstuk kan ‘n mens verwag dat jou vel aanvanklik bietjie kan afdop (danksy die versnelde selhernuwing). Dit is ‘n teken dat die produk werk, maar as dit hinderlik is, moet jy jou vel geleidelik daaraan gewoond maak. Ek het in die eerste week wel effense afskilfering bemerk, veral op my voorkop, maar dit was nie irriterend of opsigtelik nie.

 

NeoStrata Skin Active Cellular Restoration (R1 072)

Praat van potent: Hierdie nagroom boks in die swaargewig liga. Dit is geformuleer om die sigbare tekens van veroudering te takel en die vel tot sy optimum kondisie te herstel. Dit beteken, uiteraard, dat van ou, beskadigde vel ontslae geraak moet word en hiervoor tree ‘n sterk kombinasie van aktiewe bestanddele aan.

Die sleutel-soldaat in die stryd is SynerG Formula 15.0 wat selhernuwing verhoog en die vel versterk. Appelstamsel-ekstrak beskerm en bewaar die vel se eie selle, terwyl peptiedes kollageenproduksie verbeter. Glikolieksuur en alpha-hidroksiesuur (AHA) vermeerder kollageen. Maltobioniese suur en glukonolaktone is sterk anti-oksidante wat die afbreek van kollageen voorkom en die vel help herstel. Al hierdie bestanddele werk in sinergie om jou vel te heel en hernu terwyl jy slaap.

Ek gebruik die room saans nadat ek my vel gereinig het en serum aangewend het. My ervaring was interessant: Elke oggend was dit asof daar ‘n lagie op my vel was wat “frummels” gemaak het, en veral as ek olie op my vel sit voordat ek dit was. Ek kon nie glo dat dit net dooie vel is wat afskilfer nie en het DermaStore daaroor gevra.

Moenie jou bekommer nie en gaan voort met die roetine, was hul advies. Die verduideliking: Een van die bestanddele is Maltobioniese Suur, en dit is ‘n bioniese poli-hidroksie suur, wat ‘n beskermende jel-matriks vorm op die veloppervlak. Dit stop nie die penetrasie van die ander aktiewe bestanddele in die produk nie en beteken nie alles bly sit net bo-op die vel nie. Dit is bloot die beskermende jel-laag wat daar sit en die vog inseël – en dit is wat ek soggens waarneem.

NeoStrata Skin Active Intensive Eye Therapy (R1 014)

Oogroom is die een weelde wat ek myself in oormaat gun. Die vel rondom die oë is ragfyn en dun, en absorbeer nie gewone bevogtiger baie goed nie. ‘n Produk wat spesifiek vir hierdie area geformuleer is, is dus nie oorbodig of onnodig nie, inteendeel.

NeoStrata Skin Active Intensive Eye Therapy is diep bevogtigend en teenverouderend. Dit teiken kraaispore, lyne, plooie en pofferigheid rondom die oë en help om die vel op te plomp en te bou. Dit bevat appelstamselle om die leeftyd van jou eie selle te verleng, terwyl peptiede kollageenproduksie aanhelp. Nog aktiewe bestanddele, soos glukosamien, antioksidante en hialuroniese suur voorkom velverkleuring, veroudering en vlekke in hierdie delikate area.

Ek gebruik die oogroom soggens en saans, ná die serum en voordat ek my dagroom of nagroom aanwend. Dit is eintlik meer ‘n jel as ‘n room en glip gladweg aan. Een pêreltjie jel is genoeg vir beide oë. My gunstelingtruuk met oogprodukte is om dit ook op my bolip aan te tik as daar van die produk op my vinger oorbly.

NeoStrata Skin Active Triple Firming Neck Cream (R922)

My nek lyk nie te sleg vir my ouderdom nie, en ek dink dit is te danke daaraan dat ek altyd lang hare gehad het, wat die vel teen die elemente beskerm. Wel, dit is my storie en ek hou daarby!

Ek is egter baie bewus van my nek deesdae, omdat ek die tekens van die jare begin sien – die vel is werklik droog en soms crêpe-agtig en die kleur is besig om te verdonker, terwyl daar ‘n duidelik verlies aan fermheid is. Hier is grofgeskut-hulp nou baie nodig!

Ek het die NeoStrata Skin Active Triple Firming Neck Cream reeds in my toetskas gehad, en besluit om dit by die res van die reeks te voeg sodat alles in sinergie kan werk. Waarvan ek baie hou, is dat die verpakking nie ‘n afskeepgrootte is nie. Dit is ‘n groot houer, wat ‘n mens aanmoedig om nie skraps en suinig te wees nie – iets waaraan baie vroue skuldig is, omdat hulle nie hul duur gesigroom ruimskoots op hul nekke ook wil gebruik nie. Groot fout – jou nekvel het nie oliekliere soos jou gesig nie, dus raak die vel hier gou droog en lelik.

Die tekstuur van die nekroom is ryk en dit glip lekker aan, sonder om die vel vetterig te laat lyk of voel. Dit absorbeer vinnig, en gee nie af aan my krae nie. Beslis ‘n wenner in my boek.

Net ‘n woord oor die verpakking: Al die produkte is lugloos verpak, wat beteken jy raak nooit daaraan nie (behalwe vir die bietjie wat jy uitdruk om te gebruik) en geen bakterieë of bederwer kom naby daaraan nie; die aktiewe bestanddele bly ongeskonde en doeltreffend. Dit is die manier van doen vir die toekoms – ek is al meer teësinnig vir oop verpakkings wat maklik gekontamineer kan word as ‘n mens met jou vingers daarin grawe.

Resultate ná drie weke

Die reeks is maklik en moeiteloos om te gebruik, en dit is beslis ‘n pluspunt. Ek het aanvanklik ‘n ligte prikkeling van my vel gevoel ná aanwending van die dagroom en veral saans met die nagroom, maar was dit te wagte, want die produkte bevat swaargewig aktiewe bestanddele. As ek dit nié gevoel het nie, sou ek teleurgesteld gewees het.

Dit verg tyd om gewoond te raak aan die frummeltjies soggens, maar ek hou van die idee dat die nagroom my vel verseël soos clingwrap, sodat vog nie verdamp nie.

Teen die derde week kon ek duidelik sien dat my velkleur meer egalig is, en die rooi aartjies naby my neus vertoon ook ligter. Die mees opvallende verskil is egter my vel se digtheid of dikte. Ek het nie die wetenskaplike toerusting om dit te meet nie, maar kan tog sien en voel dat my vel minder delikaat en dun is – dit is asof die “matras” ‘n bietjie dikker opgestop is, en dit is ‘n baie goeie ding, want dit beteken verhoogde kollageenproduksie.

Die vel rondom my oë lyk meer veerkragtig en ferm, en my nekvel lyk ook meer vogtig en soepel.

Opsommenderwys: Vir ‘n kosmeseutiese reeks wat spesifiek op verouderende vel mik, is die NeoStrata Skin Active produkte vir my nommerpas. Dit is effektief en nie buitensporig duur nie en slaan ‘n barshou teen vroegtydige veroudering. Beslis die geld en die moeite werd.

 

 

 

 

 

 

 

 

5 Replies to “NEOSTRATA-REEKS VIR VEROUDERDE VEL OP DIE TOETSTAFEL”

  1. Soek jy ‘n dun of ‘n dik onderlaag, Louise? Ek kan die Bobbi Brown reekse aanbeveel, en ook Filorga of Sisley.

  2. Goeie naand ek is op soek na ‘n goeie ondelaag wat lank hou. Ek vind Esté Lauder se Double wear nou te droog. Ek gebruik die Neostrata skin active reeks en is baie tevrede net die reeks. Groete Louise Venter

  3. Ek wil baie graag van die produkte gebruik. My vel het plooi en ook baie los pap vel wat ek graag weer mooi en jonk kan lyk. Groot asb ek is 67 jaar.

  4. More ek wil ook graag die produk gebruik. Ek is 67 en ek voel 80 so ek wil graag weer 50 wees. Het n baie droe vel en sensitiewe oe. Het plooie en pap vel by my nek. Hoop julle kan my help. Het sl oor see beste betaal maar nooit die produk gekry nie. HELP ASB.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *