‘n Mens is veronderstel om stralend, bloesend en mooi bruingebrand van vakansie af terug te kom, nie waar nie? Toe nou nie, in my geval. Ek het 2017 asvaal en ylend begin, danksy bosluiskoors wat ek êrens tydens die fynboswandelings met my hond by Hermanus opgedoen het.

Net toe ek myself baie krities takseer dat ek darem wraggies lewensmoeg en afgemat lyk, bel Hayley Kirton van die Lightsculpt Aesthetic Clinic in Rosebank my: Wil ek nie ‘n pasgemaakte (tailor-made) velopkikkerbehandeling by haar kom beproef nie? Ek het dadelik ja gesê en ‘n afspraak gemaak, voordat my dagboek my weer gyselaar hou en ek in die ewige het-nie-tyd-nie sindroom verval.
Aangesien dit ‘n behandeling is wat spesifiek vir jou vel se behoeftes saamgestel word, het Hayley ‘n kombinasie van velskilferings, maskers, gekonsentreerde ampules en serums gebruik. My vel was gedehidreer en het tam en leweloos gelyk na al die antibiotika en hoë koors – daar was werk nodig om weer stralend en gloeiend te lyk!
Wat sy dadelik opgemerk het, was dat my vel hidrasie nodig gehad het, veral na twee dae in ‘n lugverkoelde motor terug van die Kaap af.
Die behandeling het begin met ‘n ensiem velskilfering en ‘n alpha-hidroksie skilfering, gevolg deur twee maskers. Die velskilfering (90% melksuur en 10% DMAE) is verjongend en bevogtigend en beveg veroudering.
Die eerste masker, ‘n Algen-masker, is ‘n kleimasker wat bo-oor ‘n serum aangewend word en hard word, sodat die aktiewe bestanddele van die serum diep in die vel ingeforseer word. Dit is ook kalmerend, bevogtigend en teen-inflammatories. Die serum wat sy onder die masker gebruik het, was vir bevogtiging
Die tweede masker was ‘n roommasker wat gekies word afhangend van wat die vel nodig het: Teenveroudering, hidrasie, of suiwerend. Dit het sy oor ‘n Dr Schrameck ampule gebruik wat die vel se vitaliteit en energie herstel. Dit is spesifiek geformuleer vir ‘n ouer vel om dit te stimuleer en hervitaliseer deurdat dit die selle se mitochondria aanpor om beter te funksioneer en die vel varser te laat vertoon.
Die behandeling is afgerond met IS Clinical se ProHeal serum (‘n ou gunsteling van my) wat Vitamines A, C en E bevat.
Deel van die behandeling is ‘n hemelse nek-, décolleté-, kopvel- en gesigmassering wat jou volkome laat ontspan en die aktiewe bestanddele in die produkte op hul beste laat werk.
Daar was van die melksuur velskilferingmengsel oor en Hayley het toe sommer my hande ook daarmee behandel. Dit is die eerste keer dat ek ‘n chemiese skilfering op my hande gehad het en ek was verstom om die verskil te sien.
Die resultaat? My vel het inderdaad gelyk asof dit uit die dode opgewek is! Selfs toe ek skaars ‘n week later platgetrek is met bronchitis (glo omdat my immuniteitsweerstand so uitgeput was – ai tog, die ipekonders…!) het my vel steeds lewendig en veerkragtig gelyk.
So ‘n pasklaar behandeling wat om jou vel se behoeftes geformuleer word, is beslis aan te bevele om die nuwe jaar met ‘n vlekkelose, ferm vel in die gesig te kan staar.