Meeste van ons voel dat verlede jaar maar ‘n taamlik treurige affêre was, in vele opsigte.
Maar 2017 wil opmaak daarvoor, lyk dit my. Op die skoonheidsfront het die jaar energiek en met ‘n vaart weggespring, en daar gaan amper nie ‘n dag om dat daar nie ‘n nuwe produk op my tafel land nie, of dat ek ‘n produkbekendstelling moet bywoon nie, soms selfs twee of drie per dag!
Dit is alles baie opwindend en ek kan nie wag om julle te vertel van die nuwighede waarmee ek reeds kennis gemaak en heerlik begin speel het nie.
En dit is maar net die begin!
HARE
EVERPRO Beauty Back2Blonde Temporary Root Concealer Spray (R189); Magnetic Root Touchup Powder (R225)
EVERPRO Beauty Zero Grey Temporary Root Concealer Spray (R189); Magnetic Root Touchup Powder (R225)
Ek is gaande oor slim produkte. Seker die heel slimste produk wat ek in baie maande gesien het, is die Everpro Zero Grey en Everpro Back2Blonde produkte wat begin Maart op die rakke by Clicks sal wees.
Dié Amerikaanse produkte spreek ‘n probleem aan waarmee derduisende (of miljoene) vroue hande in die hare is, letterlik by die wortel van die kwaad: Grys, silwerwit wortels vir brunette en blondines, of donker wortels vir blondines met ‘n tint of ligstrepies.
Ons ken mos die tekens dat dit tyd is om by die haarsalon uit te kom om die hergroei van grys of donker wortels weer soos die res van ons hare te laat lyk, maar dikwels het ‘n mens nie die tyd, geld of energie nie. Hierdie produkte kamoefleer jou wortels tydelik en kan vir jou tyd wen tot jou volgende salonbesoek. Jy sproei of poeier dit net aan en dit bly in plek tot jy jou hare was.
Zero Grey kom in ligbruin/medium blond, ligbruin en swart/donkerbruin skakerings.
Back2Blonde kom in donker-, medium- en ligblond skakerings.
Ek is veral gek na die Magnetic Root Touchup Powder, wat jy in jou handsak kan gooi en ideaal is vir reis.
Ek het ‘n blonde vriendin van my se grys hergroei bygedam met eers die Back2Blonde poeier, en toe besluit dat die ligbruin/medium blond poeier beter werk vir haar grys wortels, want sy het nie donker hergroei nie.
Hier is ‘n foto van die resultate: Links is die grys hergroei, middel ná aanwending van Back2Blonde, regs ná Zero Grey vir ligbruin/medium blonde hare. Nogal ‘n taamlike verskil, nè?
VELSORG
Chanel Blue Serum [Longevity Ingredients from the World’s Blue Zones] (30ml R1 710)
Weet jy wat is blou sones? Dit is uitsonderlike plekke in die wêreld waar mense baie oud (ouer as 100) word en baie gesond bly. Navorsers praat van die sogenaamde “longevity zones”. Lees meer daaroor hier.
Die vier streke wat geïdentifiseer is as blou sones, het een ding in gemeen: ‘n Holistiese leefstyl, wat onder meer insluit ‘n gesonde dieet, lae stres, ‘n aktiewe leefstyl en hegte sosiale of gemeenskapslewe, sowel as ‘n hoë verbruik van aktiewe plantbestanddele.
Hierdie holistiese fokus op welsyn het Chanel inspireer om Blue Serum te formuleer met bestanddele uit blou sones: Groen koffiebone uit Nicoya, Costa Rica, olywe uit Sardinië, Italië, en lentisk gom-ekstrak (ryk aan vetsure) uit Ikaria, Griekeland.
Die serum poog om ‘n perfekte balans te skep tussen die gesondheidsindeks en die jeugindeks van jou vel. Dit skep as’t ware ‘n reservoir van langslewendheid vir jou vel.
Blue Serum speel mooi saam met enige ander produkte van enige ander handelsnaam. Gebruik dit daagliks nadat jy jou vel gereinig het.
Kyk na die video oor Blou Sones hier:
DermaQuest B3 Youth Serum (30ml R1 250)
Dié serum is ‘n kragtige anti-oksidant om snags te gebruik. Dit bevat niacinamide (B3), papirusplant stamselle, hialuroniese suur en ‘n gepatenteerde DermSmooth peptiede.
Dit herstel die vel se opperhuidskermlaag (skin barrier), verferm, hidreer en beveg velverkleuring en velskade wat deur omgewingsfaktore (son, besoedeling) veroorsaak word.
Gebruik dit wanneer jou vel ‘n hupstoot en helderheid nodig het.
dermalogica Daily Superfoliant (R1 180)
As jy reeds ‘n aanhanger is van dermalogica Daily Microfoliant, sal jy voel dié nuwe toevoeging tot die dermalogica familie lyk na ‘n ou bekende.
Hierdie nuweling het egter ‘n ander doel: Dit beveg die omgewingsbesoedeling wat jou vel vroegtydig verouder en is as’t ware ‘n daaglike detoks van besoedeling, die nuwe vyand in die stryd teen veroudering. (Lees elders op die blog meer oor hoe besoedeling jou vel verrinneweer, selfs meer as die son). Daar is ‘n nuwe woord om te leer oor veroudering: Inflammaging = inflammation + aging.
Besoedelde lug lei tot inflammasie, inflammasie lei tot veroudering. In ‘n neutedop.
Die verskil tussen Daily Superfoliant en Daily Microfoliant is:
Daily Superfoliant is veral gemik op ‘n ouer vel, want dit “herplavei” (resurface) die veloppervlak deurdat dit dooie selle verwyder en onmiddellik die vorming van nuwe selle stimuleer. Dit beveg toksiese omgewingsbesoedeling deurdat dit keer dat besoedeling aan die vel kan vasklou. Die ster-bestanddeel is aktiewe houtskool wat toksines absorbeer en vog aan die vel verleen. (Meer oor houtskool as die nuwe wonderbestanddeel in velsorg en verwante produkte elders in ‘n komende blog oor bestanddele waarvoor jy nou op die uitkyk moet wees).
Daily Microfoliant is grotendeel gemik op ‘n jonger vel. Dit skilfer (exfoliate) die vel sagkens en verwyder dooie selle en werk ook pigmentasie teen.
Vir ‘n ouer vel kan Daily Superfoliant daagliks gebruik word, en ‘n jonger vel kan die twee afwissel. Moet egter nie die twee produkte op die dieselfde dag gebruik nie – dit kan te veel van ‘n goeie ding afgee en jou vel irriteer.
Nivea Q10 Plus Anti-Wrinkle Replenishing Serum Pearls (R229,99)
Dis geen geheim nie dat ek dink Nivea se produkte is fantastiese waarde vir geld.
Ek hou van hulle noukeurige navorsing, puntenerige laboratoriumtoetse en gehaltebeheer. Hierdie nuutste produk uit die Duitse Beiersdorf-stal mik om Q10, die vel se natuurlike wapen teen plooie, aan te vul. Soos ons ouer word, daal die vlakke van Q10 wat van nature in die vel voorkom.
Die sogenaamde pêreltegnologie wat in hierdie nuwe serum gebruik word, maak dit moontlik om die hoogste konsentrasie moontlik van Q10 in die bestaande Nivea Q10 Plus-reeks tot in die dieper lae van die vel neer te lê.
Volgens Nivea se navorsing kan dié serum binne twee weke die Q10 wat oor ‘n tydperk van 10 jaar verlore gegaan het, herstel.
Skin Republic 2-Step Face Masks: 2 Step Hyaluronic Acid + Collagen Face Mask Sheet; 2 Step Brightening Vitamin C + Collagen Face Mask Sheet (R46,99)
Wie hou nie van ‘n 2-in-1 veeldoelige raakvat produk nie? Ek hou báie van die Koreaanse velsorgprodukte wat besig is om die wêreld omtrent oor te neem, en in die besonder hul doekmaskers, deurweek met aktiewe bestanddele, wat kitsresultate lewer. Stap 1 is ‘n mikrodermabrasie-behandeling in ‘n afsonderlike kompartement. Die Vit C masker word gekombineer met ‘n bruinsuiker velskrop (scrub) en die HA masker met ‘n vrugte-ensiem velskilferaar (peel). Die velskilferings poleer dooie vel weg en berei die vel ten beste voor om die aktiewe bestanddele in die deurweekte doekmaskers te absorbeer.
Die bekostigbare prys is ook beslis nie te versmaaie nie.
GRIMERING
Chanel Coco Codes lenteversameling: Le Rouge Crayon (R610); Les 4 Obres Codes oogskadu (R920); Le Vernis Longwear Naellak (R450)
‘n Nuwe grimeerversameling van Chanel is altyd mooi en opwindend. Hierdie nuutste versameling om kleur in jou lewe en in jou gesig te bring, stel nie teleur nie.
Lancôme Grandiôse Liner (R340); Lancôme Grandiôse Extrême Mascara (R415)
As jy al ooit ‘n grimeerkunstenaar in aksie gesien het, sou jy opgemerk het dat hulle altyd die maskaraborseltjie met ‘n hoek buig – met goeie rede. Dit stel hulle in staat om meer beheer te hê en letterlik elke hoekie by te kom. Dit is hoe die Lancôme Grandiôse maskara gebore is, een van my groot gunstelinge, terloops.
Nou gebruik hulle dieselfde kunsie om die aanwending van vloeibare oogomlyner makliker en mooier te maak. Ek weet nie van julle nie, maar ek maak meestal ‘n onaanskoulike gemors as ek vloeibare oogomlyner probeer aanwend – dan gryp ek maar weer ‘n oogpotlood, wat makliker is. Die nuwe Grandiôse Liner met dieselfde gekromde swaannek (dit het ‘n 35 grade hoek/kurwe) as die maskara, maak korte mette met die moeite – die soepel, buigsame aanwender maak vloeibare maskara kinderspeletjies, selfs vir my!
Gepaard met die nuwe oogomlyner, is ‘n nuwe variasie op die maskara: Grandiôse Extrême Mascara is ‘n intense, diep swart wat jou wimpers ekstra sterk beklemtoon.
Hi Elza, dankie vir jou terugvoer. Ek verkies ook ‘n roomskadu vir my ooglede. Dit lyk sagter en minder crêpey as poeier oogskadu. Ek glo trouens dat alle vroue wie se ooglede nie meer so jeugdig en plomp en glad is nie, eerder roomskadu moet gebruik. My gunsteling is roomskadu stiffies/potlode, soos dié van Bobbi Brown en Chanel, maar ek sien essence (by Dischem) het ‘n gawe reeks roomskadu potlode, teen goeie pryse, en ook Gosh by Edgars. Max Factor se roomskadu potjies by Clciks is ook ‘n goeie roep. As jy sukkel om die Bourjois produkte te kry, laat weet my dan kyk ek wat hul skakelbeampte vir jou kan uitrig. Roomskadu is so maklik en vinnig, niks omslagtig met kwasse en inskakeer nie. Ek sal bietjie by Nivea navraag doen oor die aluminium aspek. Ek het nou die etiket van die Q10 Plus fyngekam en sien nêrens dat dit aluminium bevat nie.
Voorwaar produkte te kies en te keur! Ek soek steeds na ‘n ‘room’ tipe oogskadu! Max Factor het ‘Tattoo’ gehad wat ek altyd gebruik het… Boujois wat by sekere Clicks takke te kry is, is die bruin uitverkoop…. Kan jy ‘iets aanbeveel wat nie die aarde kos nie? Enigste probleem met Nivea is dat hul produkte aluminium bevat…. Ek is erg neuroties daaroor met die dat my ma aan Alzheimers ly….vermy dus alle produkte as ek die woordjie aluminium sien! Dink jy ek is onnodig bekommerd? Dankie vir jou uitstekende blog!