Pas IN: Oktober se Mooiste Nuwes

Die afgelope maand het ‘n interessante oes opgelewer van ‘n verruklike nuwe parfuum en produkte wat ylwordende hare dikker kan maak en digter laat groei, tot opwindende nuwe velsorgprodukte.

CLINIQUE_Beyond_Rose_Icon_Shot[1]

Clinique Beyond Rose (100ml R1 135)

‘n Nuwe parfuum van Clinique is ‘n rare gebeurtenis en daarom altyd opwindend. Hierdie lieflike roosgeur vier die misterie en ryk parfuumtradisies van die Midde Ooste. Dit is ‘n besonder genuanseerde geur, met ‘n sweem van wierook en amber. Dit is rokerig, roserig en boeiend. Die hartnote is Rose Absolute en roos-olie, geoes van die Damaskusroos in die maande van Mei en Junie. Die bottel is iets besonders, en herinner aan Oosterse argitektuur en kunswerke. Hierdie is nie ‘n beskeie muurblommetjie van ‘n parfuum nie. Dit is modern, kompleks en misterieus – definitief vir ‘n volwasse vrou wat weet wie sy is en raakgesien wil word. Die parfuum is vir my persoonlik te swaar – ek is ‘n Clinique Aromatics meisie. Dit is myns insiens perfek vir ’n eksotiese donkerkop. Spaar solank – dit is teen einde November in die winkels.

CERAFILL RETALIATE GROUP

Redken Cerafill 94 Reeks vir Dikker, Voller Hare (R284-R530)

Dié nuwe reeks vir hare wat dunner raak of uitval, vervang die vorige Redken Intraforce-reeks. Die belangrike bestanddeel daarin is stemoxydine en dit beloof om binne 3 maande van getroue tuisbehandeling hare digter en sterker te laat teruggroei. Die wenproduk is die Maximize Hair Advance met amenixil-ampules wat 3x per week vir minstens 4 weke gebruik moet word. Mooipraatjies het ‘n proefkonyn opkommandeer wat dit tans toets en ons sal mettertyd verslag doen daaroor.

**Kyk ook uit vir ‘n komende blog oor hare wat dun raak en wat ‘n mens daaraan kan doen.

FILORGA Skin_Absolute_Fond_Blanc_Profil_V02 copy

 

Filorga Skin Absolute AntiAgeing Night Cream (R1 700)

Praat van ster-kwaliteit! Die Franse teenveroudering-eksperts reik letterlik na die sterre vir ‘n gitswart nagroom (dit het ‘n gel-tekstuur en sink dadelik in maar maak nie jou vel swart nie!). Filorga verstaan dat vroue vandag in ‘n japtrap resultate wil sien en belowe dat dié droomroom binne dae ‘n sigbare verskil gaan maak aan plooie, fermheid, donker vlekke en jou gelaat stralend en jeugdig sal laat vertoon. Die wonder-bestanddeel is kosbare meteoriet-ekstrak – ons praat letterlik van “stardust”. Dié ekstrak detoks en herstel die vel se selstrukture terwyl jy slaap. Nou dít is iets om van te droom! Dit is tans op die Toetstafel en ek sal daaroor skryf sodra ek dit lank genoeg gebruik het om iets meer te kan vertel. Nou by uitgesoekte take van Edgars en Red Square.

 

Regeneerist picture 3

Olay Regenerist Advanced Anti-ageing 3-point Super Firming Serum en Regenerist Advanced Anti-ageing 3-point Age-Defying Cream (R269 elk)

Ek kerm en kla en skel gereeld oor ons in Suid-Afrika nie eens ‘n fraksie sien nie van die Olay produkte wat ek altyd in Amerika en Europa op die rakke en in oorsese tydskrifte opmerk en begeer. Ek is dus baie opgewonde dat Olay hul Regenerist teenverouderingsreeks herformuleer en hier bekend gestel het. Danksy sellulêre bio-genetika bevat die reeks nuwe bestanddele wat sel-energie stimuleer en sel-uitputting beveg. Daarmee saam het Olay hul Regenerist soniese borsel (R334,95) ook in SA bekend gestel. Ek het reeds drie jaar gelede een in die VSA gekoop en omdat dit so lekker kompak en klein maar kragtig is, is dit in my kosmetiek reissakkie.

**Ek skryf binnekort ‘n blog oor soniese velreinigingsborsels en vergelyk die drietal wat nou hier beskikbaar geraak het.

Lipidol_bottle_line-up

Lipidol Olieprodukte (R79,99 by Clicks)

Oor ‘n fynolie produk juig ek altyd. Hierdie reeks lyk besonder belowend, veral in ag genome dat dit deur ons eie, wêreldberoemde Bio-Oil geskep is. Die reeks sluit in: Lipidol Cleansing Face Oil; Cleansing Body Oil (klaar een van my gunstelinge); After Shower Oil; Suntan Oil SPF20; After Shave Oil en Overnight Face Oil (dis beslis op my inkopielys). Die gehalte van die olies is verstommend goed en suiwer, want vlugtige olies (essential oil) is duur en kosbaar, dog dit word ruimskoots in al die formules gebruik. Die reeks is alreeds in Nieu-Seeland bekend gestel en dit is ‘n groot sukses daar. Teen hierdie prys is die weelde van fynolies regtig vir meeste van ons nie meer onbereikbaar nie. Ek hou ook van die eenvoudige, klassieke skoon verpakking.

SOLAL c-serum

SOLAL Teenverouderings Velsorgreeks (R189 tot R495 by Dischem, apteke en SOLAL aanlyn)

Ons ken almal vir SOLAL as die groot naam in vitamine en ander aanvullings. Hulle weet dus nogal taamlik baie oor dit wat goed is vir ‘n mens. Hul nuutverpakte en geformuleerde teenverouderingsreeks is pas bekend gestel. Veral interessant lyk die La Bomb Rich (R495) wat kollageen stimuleer en help om die vel fermer, dikker, en sterker te maak terwyl dit plooie uitplomp en minder sigbaar maak. Dit het ook ‘n sterk anti-oksidantfunksie en bevat wetenskaplik nagevorste aktiewe bestanddele vir die maksimum resultate. Ek hou veral van die lugdigte pompverpakking. Dit verseker ‘n langer lewe en stabiliteit vir die delikate, aktiewe bestanddele en voorkom dat enige vreemde bakterieë die produk besmet en oneffektief maak.

2 Replies to “Pas IN: Oktober se Mooiste Nuwes”

  1. Ek sien verskriklik uit na jou inskrywing oor die soniese velreinigingsborsels – ek begeer die Clarisonic – maar dis buite my prysklas – ek het dus my oog op Olay sn – maar wil eers lees wat skryf jy.
    Ek is gek oor Lipidol se produkte en gebruik die Cleansing face oil in my “double cleansing” reinigingsmetode – dit smelt grimering van die gesig af. Dankie vir die lekker lees!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *