Jy hét die tyd. En jy hét dit nodig. En dit is nie net helend en heilsaam vir jou vel nie: Jou gemoed en jou gees het ook nodig dat jy tyd vir jouself maak en vir minstens vyftien minute ontspan en jouself pamperlang.
Hierdie naweek het ek myself behoorlik onder hande geneem. Op my “voorskrif” vir my vel was olie, houtskool en klei. Elkeen moes ‘n plek op my gesig vind, amper soos in ‘n paint-by-numbers projek.
Sonder om in besonderhede in te gaan, het die ipekonders en stresvolle landswoelinge van die jaar sover, my vreeslik vaal en verwese gelaat. Kortom, ek het my glow verloor. En die beste manier waarvan ek weet om dit in ‘n japtrap terug te kry, is (naas ‘n behoorlike gesigsbehandeling onder die toorhande van Colleen Serebro by Beauty Professionals) met gesigmaskers.
As jy meen maskers is ‘n mors van tyd of ‘n onnodige luukse, dink weer. Ek verseker jou, dit is nie bloot ’n duur of tydrowende weelde of ’n nou-en-dan se ekstra bederf vir jou vel nie – dit dien ’n baie belangrike doel.
Die doel van ’n masker is ’n diep, intensiewe behandeling vir wat ook al jou vel se behoefte op ’n spesifieke tydstip is.
Jy hét die tyd. En jy hét dit nodig. En dit is nie net helend en heilsaam vir jou vel nie: Jou gemoed en jou gees het ook nodig dat jy tyd vir jouself maak en vir minstens vyftien minute ontspan en jouself pamperlang.
Hier het ‘n hele klompie interessante nuwe maskers op my tafel beland en ek jeuk om hulle te probeer.
Die maskers wat my behoorlik laat bibber van opgewondenheid is die Hollywoodse Glamglow moddermaskers, wat wêreldwyd ‘n kultusaanhang het. Dit is deur die Lauder-groep gekoop (hulle is baie flink om die beste nuwelinge in die mark op te raap en in hul stal te kry) en dit is nou ook in Suid-Afrika beskikbaar.
Ek was taamlik skepties oor die bohaai (of hype) oor ‘n instant sexy Hollywood glow, maar moes darem vir myself uitvind of dit moontlik is. My eerste poging was met die Glamglow Supermud Clearing Treatment (R850 by Red Square, ook aanlyn), wat die oorspronklike, eerste masker in die produkreeks van sewe maskers is. Ek het dit lekker dik aangeverf en die blougrys konkoksie na 20 minute onder die stort afgespoel. (Dit is die maklikste, want dit is nogal ‘n modderige, morsige spulletjie.)
Die resultaat? Wel! Wat ís in hierdie ding? Dit is verbysterend!
My gesig gloei en my vel lyk so fyn soos dié van ‘n baba! Dis glo die skeppers se TEAOXI-tegnologie wat die geheim is – in eenvoudige terme gebruik hulle ekstrakte van blare (soos olyf, bloekom, groen tee, wit berk) wat hulle laat “trek”, fyn maal of verpoeier en met die modder vermeng. Ek kon eucalyptus-olie ruik, maar daar is ook ander blaar-olies.
Nou ja, dit was toe nie oordrywing nie – dié masker werk.
Volgende op my lysie (sommer die volgende oggend) was die Gravitymud Firming Treatment (R850), wat marshmallow- & licorice-blaar bevat en die gelaat lig, verferm, styftrek en kontoere definieer. Ek kon nie wag nie. Ook hierdie masker het nie teleurgestel nie. My gelaatstrekke het beslis fermer gelyk, en dit het die hele dag gehou. Dit is die regte masker om nader te trek voor ‘n groot geleentheid waar jy jou beste en jeugdigste self wil lyk.

Noudat ek dié opwinding agter die rug het, nog ‘n bietjie meer oor die ABC van maskers:
Die Voordele van Maskers
- Dit verbeter die vel se kontoere en tonus. Dit lig jou gelaat.
- Bevogtig die vel diep.
- Voed die vel.
- Trek onsuiwerhede uit die porieë en af van die vel.
- Genees merke en oppervlakkige letsels danksy ’n afskilferingseffek.
- Kalmeer en streel ’n vel wat gestres of geïrriteer is.
- Vernuwe en verjong die vel.
Hoe Dikwels Behoort Jy ‘n Masker te Gebruik?
Minstens een maal per week, of net wanneer jy bemerk dat jou vel ’n ekstra hupstoot nodig het – as dit dof en tam lyk, of as jy blootgestel was aan besoedeling, stof en rook en jou vel werklik diep reiniging vereis.
Hoe Kies Jy ’n Masker?
Jou veltipe en behoeftes bepaal watter masker jy wanneer kies.
JOU VEL LYK VAAL, TAM EN LEWELOOS EN HET ’N DIEP SKOONMAAK NODIG:
Kies ’n masker wat reinig, suiwer, detoks of afskilfer. Kyk uit vir houtskool wat diepliggende vuiligheid uitlig en verwyder, soos Dermalogica Charcoal Rescue Mask (R790) en Freeman Charcoal & Black Sugar Polishing Mask (by Dis-Chem). Garnier se nuwe SkinActive Pure Actic Intensive is 3 in 1 – dit werk as ‘n was, skrop en masker. Klei soos kaolien en modder of lawa trek ook onsuiwerhede uit, soos in Estée Lauder NightWear Plus 3-Minute Detox Mask (R595), Placecol Clearing Scrub Mask Purifying Clay Exfoliant, Dr. Hauschka Clarifying Clay Mask (R494), en Mineral Line from the Dead Sea Facial Mud Mask 70% (by Dis-Chem). Papaja is ’n natuurlike ensiem-afskilferagent, soos in Dr Gobac Cosmeceuticals Exfoliating Masque with Papaya Enzyme . L’Oreal het onlangs sommer drie nuwe kleimaskers bekend gestel: L’Oreal Pure Clay Mask (R150). Jy kan ‘n paar tegelyk gebruik, sg multi-masking: een vir ‘n olierige T-sone, een vir droë kolle op jou wange en een vir byvoorbeeld dofheid. Die maskers bevat onderskeidelik houtskool, eucalyptus en rooi alge (red algae).
JOU VEL IS DROOG, ONGEMAKLIK EN STYF:
Kies ’n masker wat bevogtig, voed, kalmeer of genees. Wanneer jou vel droog en gestres voel, kan ’n masker binne ’n japtrap die vel intens rehidreer en diep bevogtig, beter as enige vogroom. Jy het dikwels die keuse met hierdie maskers om dit dik aan te plak en net die produk wat oorbly, ná 15 minute sagkens weg te vee, of dit te laat aanbly en in die vel in te masseer.
PROBEER: Team Dr Joseph Intense Moisturizing Mask, ’n organiese produk uit Italië; Ericson Laboratoire Femininity Phyto Age Reviviscent Mask; Avène Eau Thermale Soothing Moisture Mask (by Dis-Chem); !QMS Medicosmetics Hydro Foam Mask; Nuxe Masque Crème Fraîche 24Hr Soothing and Rehydrating Fresh Mask (R295); Hannon Rehydrating Moisture Mask; SkinCeuticals Phyto Corrective Mask (R1 125) is een van die mees strelende, helende, verfrissende maskers wat ek nog gebruik het – ek is bietjie verslaaf daaraan.
JOU VEL LYK DOF, HET MERKIES, DONKER VLEKKE EN ’N ONEGALIGE KLEUR:
Kies ’n masker wat: die vel verhelder, verlig, laat straal of gloei. As jou vel ’n vinnige opkikker nodig het om energiek te gloei, soos voor ’n funksie, sal ’n masker die ding doen. Dit is gewoonlik in die vorm van ’n room of ’n jel.
PROBEER: Bobbi Brown Radiance Boost (R800) met lemoenolie en okkerneutkorreltjies; of Exuviance Bionic Oxygen Facial (R940), wat suurstof in die vel inpomp, dofheid verhelder en die vel lewendiger laat lyk. Filorga Scrub & Mask (R770) is ‘n veeldoelige (multitask) velskilferaar-skrop wat dooie vel verwyder met mikrosfeerkorreltjies gekombineer met ensieme en dan suurstof in die vars nuwe vel inpomp om te help met die selvernuwingsproses. Jy kan die tot drie keer per week gebruik – ek is gek daarna.
JOU VEL LYK VERPLOOI EN AFGEREM EN JOU GESIG INGESONKE:
Kies ’n masker wat teenverouderend is en die vel verjong, verferm of lig. Soms, veral as ’n mens siek was, lyk dit of jou gelaatstrekke weggesink het en jou gesig volheid verloor. Ongelukkig is dit ook kenmerkend van ’n ouer vel. Dit is dan wanneer jy ’n masker propvol hialuroniese suur (HA) en kollageen nodig het om jou kontoere uit te plomp en plooie op te vul.
PROBEER: SkinPhD Pause Age Perfecting Mask (R295); Nuxe Nuxuriance Ultra Replumping Roll-On Mask (by Fochini’s); of Clinique Sculptwear Contouring Massage Cream Mask (R725), wat letterlik nuwe lewe en vorm terugmasseer in kontoere wat soos ’n verlepte ballon lyk.
Nog Nuwighede
Die nuutste trends in maskers is:
Doekmaskers, ’n deurweekte masker van sy, moeselien, sagte snesiestof of lap. Dis ’n konsep wat uit Korea kom en die hele wêreld op hol het. Voorbeelde: Dr. Dermal se Total Rejuvenation Facial Mask (R299), ’n sydoekmasker; Filorga se twee nuwe doekmaskers, die Hydra-Filler Mask (R175) wat die vel opplomp met hialuroniese suur en die Time-Filler Mask (R175), ‘n swart masker met ‘n kollageenformule wat die vel glad maak. Dit is ook ideaal om mee te reis. Probeer gerus die baie bekostigbare Koreaanse doekmaskers of sheet masks van Skin Republic wat pas uitgekom het met hul jongste Bubble Purifying + Charcoal Face Mask Sheet (R50) om onsuiwerhede uit die vel te trek.
Oornagmaskers is ook ’n nuutjie, soos Exuviance Deep Hydration Treatment (R840) wat merkbare resultate lewer en net een maal per week gebruik hoef te word vir diep bevogtiging, Elizabeth Arden Ceramide Overnight Firming Mask (R685), en Optiphi Classic Hydra-Derm HA Masque (R560), waarmee jy kan gaan slaap en in die oggend met ’n vel soos ’n perskebloeisel wakker word. My gunsteling oornagmasker is Sisley Black Rose Cream Mask wat my vel diep bevogtig en soos fluweel laat voel in die oggend – kompleet soos ‘n roosblaar.
Houtskool (charcoal) beleef tans ‘n ongekende oplewing. Byna elke skoonheidshuis span nou dié tradsionele detoks-bestanddeel in vir maskers wat die vel nie net suiwer en diep reinig nie, maar ook beskerm teen besoedeling. Die houtskool trek toksiese partikels aan en lig dit uit die vel. Dermalogica Charcoal Rescue Mask (R790) was een van die eerste “nuwe geslag” houtskoolmaskers en is myns insiens steeds die voorloper onder die jongste klompie houtskoolmaskers.
Borrie is ’n ou ‘nuwe’ bestanddeel wat toenemend in velsorg voorkom danksy die anti-inflammatoriese, helende werking daarvan. Kry dit in Kiehl’s Turmeric & Cranberry Seed Energizing Radiance Mask (R485), wat die vel stralend laat gloei.